Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ferguson wys vroue weier om langer te swyg

Jennifer Ferguson se onthulling, geïnspireer deur die globale #MeToo-veldtog op sosiale media, is die jongste aanduiding van ’n deurslaggewende wending in die magsverhoudings waarvan seksuele geweld ’n kenmerk is, skryf Christi van der Westhuizen.

Jennifer Ferguson. Foto: Johann Hattingh

“What men are these unrighteous ones causing suffering?” Hierdie reël uit een van Jennifer Ferguson se talle aangrypende ballades, gesing in haar wonderskone stem, het by my opgekom met die aanhoor van die aaklige ervaring waaraan sy onderwerp is.

In musiek was Ferguson een van die voorste wit kampvegters teen apartheid, naas Juluka, die Voëlvry-beweging en sangers soos Amanda Strydom. Haar konserte was byeenkomste vir veral wit mense, maar ook swart mense, wat Suid-Afrika van ’n plek van ongeregtigheid in een van geregtigheid wou omskep.

Dat die gruwel van seksuele geweld teen haar gepleeg is op die vooraand van ons oorgang na demokrasie, is opsigself skreiend. Haar politieke aktivisme op openbare verhoë was dapper in ’n tyd van koverte staatsgeweld; haar weerstandsliedere gevul met emosionele insig en ook humor, gelewer met ’n gevoelvolle intensiteit.

Ferguson se onthulling is die jongste aanduiding van ’n deurslaggewende wending in die magsverhoudings waarvan seksuele geweld ’n kenmerk is.

Ferguson se onthulling, geïnspireer deur die globale #MeToo-veldtog op sosiale media, is die jongste aanduiding van ’n deurslaggewende wending in die magsverhoudings waarvan seksuele geweld ’n kenmerk is. Die aanwending van skande en skaamte teen vroue (en sommige mans) om hulle te laat swyg oor mans se seksuele geweld werk al minder.

Ferguson skryf op haar blog dat haar stilswye oor die jare heen te wyte was aan ’n “templaat êrens van beskaamdheid en kwaaddoen, ’n gedagte dat dit my ‘fout’ was”.

Die jongste teorieë vertel ons dat seksualiteit nie ’n ongebreidelde en instinktiewe impuls is soos ons graag van hou om daaraan te dink nie. Nee, seksualiteit is ’n stel gesproke en onuitgesproke norme waarmee onder meer die verhoudings tussen vroue en mans gereguleer word.

Die “templaat” waarvan Ferguson praat, is die een wat in die dominante vorm van seksualiteit op vroue toegepas word. Naamlik dat ’n vrou óf ’n hoer, óf ’n maagd, óf ’n moeder is, en dat sy self verantwoordelikheid moet aanvaar om te verseker dat sy nie met die skande van eersgenoemde geassosieer word nie. Dit moet sy doen deur die seksuele norme vir vroue getrou na te volg.

Patriargale banaliteite en beledigings

In teenstelling kry mans die prerogatief om seksueel op te tree hoe en wanneer dit hulle pas – ’n soort seksuele carte blanche wat gewoonlik met pseudo-biologiese argumente oor die “onstuitbare manlike seksdrang” geregverdig word. In ’n tipiese teenstrydigheid bepaal mans die terme van seksualiteit, maar hulle hoef nie verantwoordelikheid vir hul seksuele gedrag te aanvaar nie.

As seks teen ’n vrou se wil plaasvind, het sy “gefaal” in haar plig van kuisheid. Maar haar mislukking verander in ’n oortreding indien sy probeer om geregtigheid daarvoor te kry. Dit is wanneer sy gedissiplineer word met patriargale banaliteite en beledigings, waarvan ’n mens die afgelope klompie dae heelwat te lese en te hore kry in reaksie op Ferguson se bekendmaking.

“Hoekom ná al die jare?” “Almal het mos aangegaan met hul lewens. Hoekom kan sy nie net stilbly nie?” “Sy gaan sy familie opbreek/sy lewe verongeluk.” Ensovoorts, ensovoorts, ad tedium.

Ná ’n dekades-lange stryd van dapper aktiviste soos Ferguson reg oor die wêreld, is die formele norme (wette) oor seksuele geweld al hoe meer aan’t verander.

Hierdie ingrypings probeer die reël van dominante seksualiteit toepas wat dikteer dat die slagoffer al die impak van die seksuele geweld self moet dra – selfs al vernietig dit haar – terwyl die oortreder skotvry wegstap.

Nou vir die goeie nuus: ná ’n dekades-lange stryd van dapper aktiviste soos Ferguson reg oor die wêreld, is die formele norme (wette) oor seksuele geweld al hoe meer aan’t verander, in teenstelling met die heelwat traer skuiwe in informele norme wat ek tot dusver bespreek het.

In ons eie land staan vroue ook op en weier dat hul stemme gesmoor word deur die aanwending van skande en skaamte. Ferguson verwys na Khwezi, wat vir Jacob Zuma van verkragting aangekla het, as ’n nasionale voorbeeld van hierdie soort aktivisme. Haar verhaal het jong aktiviste aangespoor om ’n doeltreffende betoging teen Zuma te hou tydens die bekendmaking van die kiesuitslae verlede jaar.

Talle vroue weier om seksuele aanranders te beskerm

Die sukses van die nuwe boek Khwezi – The Remarkable Story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo, geskryf deur die invloedryke Redi Tlhabi, is ’n bevestiging van hierdie tendens. Jong vroue-aktiviste word ook deur Pumla Dineo Gqola se boek Rape – A South African Nightmare geïnspireer.

Daar is ook die merkwaardige Anchien Troskie se Dis Ek, Anna. Die feit dat die 2004-boek ’n topverkoper is wat ook vertaal en verfilm is, spreek van hoe die verhaal van seksuele geweld binne die gesin by talle aanklank vind.

Troskie is een van talle voorbeelde van vroue wat weier om seksuele aanranders te beskerm deur stil te bly oor die vergrype wat in die verlede gepleeg is.

Christi van der Westhuizen.

Terug by die regsfront: die moedige Esmé van Zijl het in 2004 die leiding geneem toe die appèlhof bevestig het dat sy ’n siviele eis teen haar oom, die diplomaat Imker Hoogenhout, kan instel vir vergrype wat volgens haar tussen 1958 en 1967 teen haar gepleeg is.

Die tennisspeler Bob Hewitt is in 2016 opgesluit vir sy verkragting van tienderjariges in die 1980’s en vroeë 1990’s.

Die mees onlangse geval is die sakeman Sidney Frankel, wat vroeër vanjaar dood is voordat die verhoor oor aanklagte van seksuele aanranding van kinders teen hom kon plaasvind. Maar sy aanklaers het daarin geslaag om die beperking van 20 jaar op die vervolging van seksuele misdade ongrondwetlik te laat verklaar. In laasgenoemde geval het mans ook onder die klaers getel en daarmee die swye oor seksuele geweld teen seuns en mans verbreek.

Ferguson se woorde is uiters gepas in hierdie oomblik: “Mag die waarheid en genesing seëvier.”

* Prof. Van der Westhuizen is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Haar boek Sitting Pretty – White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa verskyn volgende maand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.