Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Flip Buys: Selfbestuur is ’n strewe na normaliteit

Selfbestuur is nie ’n nuwe, vreemde gevaar nie, maar 'n normale reaksie op swak staatsbestuur, skryf Flip Buys.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik dié organisasie se planne vir selfbestuur aan mense wat die Toekomsberaad in Pretoria bygewoon het. Foto: Reint Dykema

Elmien du Plessis waarsku plegtig op Netwerk24 teen die gevare van selfbestuur en, bid jou aan, volkspele!

’n Mens wonder wat is volgende: ’n Waarskuwing dat “Die Stem” gehoor kan word as ’n plaat van Bles Bridges agteruit gespeel word? Maar moenie paniekerig raak nie – gelukkig het sy ’n antwoord op hierdie dubbele gevaar. Die Grondwet vra glo eerder ’n vreedsame toyi-toyi-beweging as die genoemde gevaarlike volkspele.

Ai! Dis moeilik om te glo dat daar steeds mense in Potchefstroom is wat teen dans is. Ek kan al sien hoe die volksmoeders hul dogters nou angstig moet waarsku teen nóg ’n nuwe gevaar – volkspele!

Dit wys jou hoeveel ’n mens nog kan leer by die nuwe geleerde “Stem van Potchefstroom.”

Die harde praktyk het ná 25 jaar van ANC-staatsbestuur gewys dat dit véél gevaarliker as selfbestuur en volkspele saam is.

Om te dink ek was skynbaar verniet bekommerd dat die toyi-toyi-politieke struggle-kultuur die eintlike struikelblok in die pad van skoon, bekwame regering is.

Maar kom ons kyk na die eerste gevaar – selfbestuur. Dit klink asof Du Plessis dit op dieselfde vlak plaas as al die vorige gevaarlike “gevaartes” soos die “rooi” gevaar en die “swart” gevaar. Sy sê niks oor die alternatief vir selfbestuur, naamlik “staatsbestuur” nie.

Die harde praktyk het ná 25 jaar van ANC-staatsbestuur gewys dat dit véél gevaarliker as selfbestuur en volkspele saam is. Die gevaar van staatsbestuur is juis die rede hoekom al meer mense selfbestuur kies. Dis vreemd dat die brandweerdiens van selfbestuur nou as ’n gevaar uitgesonder word sonder om die brandstigters van swak staatsbestuur enigsins te noem.

Die swak staatsbestuur strek oor die hele spektrum van die samelewing, vanaf gewelddadige misdaad, wydverspreide dorpsverval, siek staatshospitale, druipende staatskole, beurtkrag en staatsondernemings wat in al duurder en al ernstiger krisisse vasval.

Selfbestuur

AfriForum-lede besig om slaggate in ’n pad in Bethlehem op te vul. Foto: Argief

Die burgery het spontaan op dié al gevaarliker wordende staatsbestuur gereageer deur al meer selfbestuur te verkies in ’n poging om hulself meer staatsbestand te maak.

Enige persoon wat dit enigsins kon bekostig, het privaat dienste begin koop: privaat hospitale, privaat veiligheid, ’n uitstroming uit die staatsdiens na die privaat sektor, privaat TV, terwyl privaat dorpe binne dorpe en stede ontstaan het. Belangrike dele van die regstelsel beweeg selfs na selfbestuur omdat mense voel dat privaat arbitrasie doeltreffender as die uitgerekte staatsprosesse is. Die volgende golf bring privaat sonkrag, persoonlike watersuiweringstelsels, privaat skole en universiteite. Die meeste mense is sterk gekant teen die staat se planne met hul pensioenfondse, die mediese stelsel en die beoogde staatsbestuur van grondsake soos onteiening sonder vergoeding.

Selfbestuur help ook met swak staatsbestuur, soos Potchefstroom se AfriForum-tak wat die afgelope jaar paaie herstel het deur meer as 10 000 slaggate op te vul.

Jong Afrikaners van oor die politieke spektrum het vanaf stedelike universiteite na die Potchefstroom-kampus getrek.

Die 30 ankerdorpe is ook nie deur die Solidariteit Beweging gekies nie, maar deur mense self wat nie 'n ander uitweg gesien het as om uit vervallende dorpies te trek nie. Ons navorsing het dit bloot vasgestel. Meer Afrikaners op minder plekke is veiliger as wat almal op hul eie alleen en verspreid bly. Konsentrasies maak dit ook makliker om dienste soos skole te verskaf.

Die groot trek na selfbestuur het ook ’n kulturele kant, al sou dit nie so verwoord word nie. Mense voel aan dat ’n demokrasie sonder die kulturele ruimtes wat die Grondwet voorsien, net vryheid vir die demografiese meerderheid is. Baie besighede en inwoners het uit die middestede na die voorstede getrek, en nuwe woongebiede en inkopiesentrums het orals ontstaan. Jong Afrikaners van oor die politieke spektrum het vanaf stedelike universiteite na die Potchefstroom-kampus getrek. Mense het hul kinders uit skole wat verengels, geneem en by Afrikaanse skole ingeskryf.

Ander het na die demografies Afrikaanser Wes-Kaap getrek.

Dan is daar al meer wat al soveel vertroue in staatsbestuur verloor het dat hulle na Westerse state soos Australië en Kanada toe geëmigreer het, of minstens finansieel na die buiteland verkas het. Die groot trek na selfbestuur dreig om in ’n groot vlug weg vanaf staatsbestuur te verander!

Ek sal ook verbaas wees as filosowe wat oor die gevare van selfbestuur waarsku, dit nie vanuit veilige kulturele, selfbestuurde ruimtes soos koffiewinkels in die Mooirivier Mall, eerder as vanaf die getransformeerde plekkies in die middedorp doen nie. Kerkstraat is immers nie meer “kerkstraat” nie!

Normaliteit

Flip Buys

Die staatsideologie van transformasie is die belangrikste dryfkrag van die groeiende mislukking van staatsbestuur. Transformasie is toe nou nie “moederskap en melktert,” soos geadverteer nie, maar die voortsetting van die ANC se rewolusie met staatsmag. Dis nog net gewild in die regerende raadsale waar dit ’n heilige koei is en in ivoortorings waar uitgediende teorieë nie hoef te werk nie.

Die Solidariteit Beweging se strewe na groter selfbestuur sluit aan by die bestaande beweging wat hierbo beskryf word. Die belangrikste bykomende bestanddeel is dat ons dit vir die hele gemeenskap wil bewerkstellig en nie net vir die welvarender enkelinge nie.

Selfbestuur is nie ’n nuwe, vreemde gevaar nie, maar ’n normale reaksie op swak staatsbestuur.

Enige volwasse mens wil vir hom- of haarself besluit. Dit geld ook enige taal- of kultuurgemeenskap wat gesamentlik deur ’n staatsideologie benadeel word – of dit nou apartheid van die verlede was, of die transformatisme van vandag.

Selfbestuur is bloot ’n strewe na ’n normale samelewing. Dis ’n samelewing waar mense veilig is; waar daar werkende dienste is; waar mense gelyke regte het; waar karakter en vermoë meer as ras tel; waar daar nie straffelose korrupsie is nie; waar daar skoon, eerlike en bekwame regering is; waar die ekonomie vry van onbekookte staatsinmenging is; en waar mense van verskillende rasse mekaar met wedersydse erkenning en respek behandel.

Selfbestuur en staatsbestuur is die verskil tussen vrye burgers en gedienstige 'onderdaanskaap.'

Die groeiende vervreemding van swak staatsbestuur word teengewerk deur selfbestuursruimtes waar mense steeds tuis en welkom kan voel. Dit sal daartoe meewerk dat die ekonomie weer kan begin groei omdat dit oor en oor bewys is dat ’n groeiende ekonomie ’n baie beter gelykmaker as staatsdwang is.

Selfbestuur en staatsbestuur is die verskil tussen vrye burgers en gedienstige “onderdaanskaap.” Die private en gemeenskapsruimtes wat selfbestuur skep, is nie bedoel om mense af te sonder nie, maar juis om die kulturele infrastruktuur te skep wat dit moontlik maak om blywend vry, veilig en voorspoedig saam in Afrika te bly – selfs in Potchefstroom.

* Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Solidariteit  |  Flip Buys  |  Elmien Du Plessis  |  Dorpsverval  |  Selfbestuur  |  Staatsbestuur  |  Misdaad  |  Grondwet  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.