Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Flip Buys: Voorwaardes vir Afrikaans se voortbestaan

Om Afrikaans se voortbestaan te verseker, moet daar soms sterker standpunt ingeneem word omdat die voortbestaan van ons taal dit werd is, skryf Flip Buys.

Flip Buys

In die ergste hitte van die Koue Oorlog was daar ’n gesprek tussen die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger en die Sowjet-ambassadeur in die VSA, wat ’n belangrike les vir die toekoms van Afrikaans inhou.

Die ambassadeur, Anatoli Dobrinin, het aan Kissinger gesê dat die twee supermoondhede hul kommunikasie moet verbeter en vriendelike verhoudinge verseker. Dobrinin het dié moondhede se verslegtende verhoudinge aan misverstande en wanpersepsies toegeskryf. Die oplossing het volgens hom in oop kommunikasie, gesamentlike sportbyeenkomste en kulturele kontak gelê.

Kissinger het saamgestem dat vriendelike verhoudinge en oop kommunikasie ’n belangrike rol speel, maar het gesê daar is meer fundamentele oorsake vir die Koue Oorlog. Dít sal opgelos moet word alvorens verhoudinge kan verbeter. Die werklike rede vir die konflik lê in die kommunistiese ideologie, het Kissinger gesê.

Die Sowjet-Unie voer ’n stryd om oorheersing teen die Weste, en glo dat verskille nie deur onderhandeling nie, maar deur ’n kommunistiese oorwinning opgelos moet word.

Koue Oorlog

Die Koue Oorlog van daardie tyd is gelukkig verby, maar dit lyk al meer asof die ANC geeneen van sy sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die rampspoedige gevolge daarvan onthou nie. Die ANC sit die Koue Oorlog plaaslik voort met sy beleid van onteiening sonder vergoeding, staatsingryping in die ekonomie, ’n omvattende rassebedeling, die beoogde nasionale gesondheidversekeringstelsel, en die aantasting van Afrikaanssprekendes se menseregte.

Noodsaaklik maar onvoldoende

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Argief

Hoewel daar gelukkig oor die algemeen nog goeie persoonlike verhoudinge tussen mense van verskillende rasse is, lei die ANC-beleid tot verslegtende politieke verhoudinge.

Die vraag is hoe dit ter wille van Afrikaans verbeter kan word? Afrikaanssprekendes lê gereeld klem daarop dat Afrikaans op ’n vriendelike wyse bevorder moet word.

In die regte wêreld gaan blote vriendelike verhoudings egter nie Afrikaans se oorlewing verseker nie. Vriendelikheid is ’n belangrike maar onvoldoende voorwaarde vir Afrikaans se oorlewing.

Vyandigheid en vrot verhoudings help ook nie.

Die antwoord lê op ’n ander vlak as vriendelikheid of vyandskap.

Die dieperliggende probleem wat die regering met Afrikaans het moet eers begryp word. Die wese hiervan gaan nie oor Afrikaanssprekendes se vermeende onvriendelikheid, vrot verhoudings of die foute van die verlede nie. Regeringsleiers is immers ook sterk gekant teen die amptelike gebruik van hul eie inheemse moedertale.

Die werklike rede vir die ANC se teenstand teen enige ander taal as Engels lê veel eerder in sy ideologie van nasiebou, sy sentrale beleid oor ras, en sy gebruik van die verlede as magshefboom.

Nasiebou-ideologie

Die probleem begin by die ANC se ideologie. Die politieke ideologie van nasiebou is vir die bewindhebbers belangriker as die gevolge van hierdie taalmishandeling van miljoene nie-Engelssprekendes.

Suid-Afrika is sekerlik nou die enigste land ter wêreld waar daar van sy kinders verwag word om hul huistaal te laat vaar.

ANC-leiers klou ideologies vas aan die eertydse leier van Mosambiek, Samora Machel, se rampspoedige formule vir nasiebou: “Vir die nasie om te leef, moet die volk sterf”. Om al die uiteenlopende rasse- en etniese groepe in een nasie saam te bind, glo hulle steeds aan ’n uitgediende resep van nasiebou.

Die onderdrukking van volke en etniese groepe is 'n vereiste vir die beleid van gedwonge nasiebou.

Met nasiebou word hier nie bedoel ’n gewone gesonde strewe na nasionale eenheid nie, maar die afdwing van ’n “staatsnasie” met een politieke en kulturele identiteit. Hierdie projek om die bevolking te standaardiseer behels die hardhandige inlywing van minderhede by die meerderheid.

Dít nieteenstaande die opmerking van die Afrika-intellektueel, Ali Mazrui, dat Machel se formule net daartoe gelei het dat “alles in Afrika vernietig is, behalwe die volke en etniese groepe”.

Die rede vir die mislukking van die Machel-resep is baie eenvoudig: Die onderdrukking van volke en etniese groepe, wat 'n vereiste vir die beleid van gedwonge nasiebou is, het tot grootskaalse groepskonflik gelei.

Waar dit probeer is, het etniese groepe nasiebou sterk teengestaan omdat die opheffing van hul bestaan eenvoudig 'n té hoë prys was om te betaal vir die onsekere voordele van ’n kunsmatige staatsnasie.

Rasse-oorheersing

Akademia se kampus in Centurion. Foto: Argief

Afrikaners is só gewoond daaraan om van rassisme beskuldig te word, en die ANC is só gewoond daaraan om ons daarvan te beskuldig, dat dit nie by Afrikaners óf die ANC opkom dat die ANC self aan ’n rassebeleid toegewy is nie.

Die verskil is bloot dat die ANC om den bloede ontken dat daar enigsins sprake van ’n greintjie rassisme in sy beleid is. Tog meld sy beleidsdokumente duidelik dat die ANC verbind is tot die “bevryding van swart mense in die algemeen en Afrikane in die besonder”.

Tweedens maak die ANC-beleidsdokumente uitdruklik melding van sy beleid van “African hegemony”, oftewel Afrikaan-oorheersing.

Derdens het die ANC die grondwetlike beginsel van gelykheid omgetower in die staatsideologie van transformasie, wat rasse-verteenwoordigendheid ten doel het.

Hiervolgens moet alles in die land die nasionale demografie weerspieël, wat in die praktyk rasse-oorheersing verseker.

Soms moet daar sterker standpunt ingeneem word omdat die voortbestaan van ons taal dit werd is.

Die Amerikaans-Belgiese politieke wetenskaplike Pierre van den Berghe het betekenisvol opgemerk dat “rassisme maklik verdoesel kan word as demokrasie – as jou groep so gelukkig is om ’n demografiese meerderheid te wees”.

Die ANC se beleid van kaderontplooiing om “beheer oor alle magshefbome te vat”, het ten doel om sy magsgreep oor die samelewing te verseker.

ANC-beleidsdokumente wys dat die ANC demokrasie eerder as “regering oor die mense” as “regering deur die mense” beskou.

Afrikaners moet veral besef dat die ANC se eensydige gebruik van die geskiedenis ’n politieke magshefboom is om Afrikaners ondergeskik en op ons plek te hou.

Afrikaanse hande

Flip Buys

Om Afrikaans se voortbestaan te verseker, is goeie verhoudings, deurdagte redenasies en oop kommunikasie belangrike – maar onvoldoende – voorwaardes.

Soms moet daar sterker standpunt ingeneem word omdat die voortbestaan van ons taal dit werd is.

Dáárvoor is deeglike kennis en vaardighede van ’n ewewigtige taalpolitieke strategie bepalend noodsaaklik. Ja, ’n gebalde taalvuis is nie die antwoord nie, maar só ook nie pleitende hande nie.

Die antwoord lê veel eerder in die “derde weg” van skeppende hande wat taalinstellings skep, uitbou en beskerm, soos Afrikaanse skole, privaat universiteite en kolleges soos Akademia en Sol-Tech, Afrikaanse gemeenskapsmedia en ander kulturele infrastruktuur.

Om “die skat van Afrikaans veilig deur die skare te dra”, soos NP Van Wyk Louw dit gestel het, is vriendelike, ferm, maar veral skeppende, bouende én helpende hande nodig.

* Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Meer oor:  Flip Buys  |  Samora Machel  |  Ali Mazrui  |  Afrikaans  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.