Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fluit-fluit, so baie taalstories loop finaal uit
Jana Luther

Hoeveel tale is daar in die wêreld? vra iemand per e-pos.

Ek antwoord met ’n paar statistieke: Volgens die taaldatabasis Ethnologue is daar in die wêreld vandag 7 097 lewende tale: 288 in Europa, 1 060 in die Amerikas, 1 306 in die Stille Oseaan- gebied, 2 143 in Afrika en 2 300 in Asië.

Die tien lande met die meeste tale is Papoea-Nieu-Guinee (841 – byna drie maal soveel as in Europa), Indonesië (710), Nigerië (526), Indië (455), die VSA (334), China (302), Mexiko (292), Kameroen (278), Australië (250) en Brasilië (228). Van al dié tale gebruik meer as die helfte van die 7,6 miljard mense op die aarde slegs 23.

In volgorde van die getal sprekers: Chinees, Spaans, Engels, Arabies, Hindi, Bengaals, Portugees, Russies, Japannees, Wes-Pandjabi (ook

Lahnda genoem), Javaans, Turks, Koreaans, Frans, Duits, Teloegoe, Marathi, Oerdoe, Viëtnamees, Tamil, Italiaans, Persies en Maleisies.

Ongeveer ’n derde van die wêreld se lewende tale loop die gevaar om uit te sterf.

Ongeveer ’n derde van die wêreld se lewende tale loop die gevaar om uit te sterf (volgens Unesco se atlas van bedreigde tale, altesame 2 464). Met sewe van Suid-Afrika se Khoi- en San-tale het dit reeds gebeur; met minder as 100 sprekers elk word die oorblywende drie kritiek bedreig.

Op die Linguist List-webblad word 573 uitgestorwe tale gelys. Dit is tale met geen lewende sprekers meer nie.

Van die kritiek bedreigde tale op Unesco se lys is baie hoogs interessant en sommige fassinerend vreemd. Vergelyk, byvoorbeeld, die stuk of 70 tale waarvan die “woorde” nie uitgespreek word nie, maar gefluit word. Só trek boodskappe tot vier kilometer ver, ongeveer tien keer verder as wat iemand wat iets uitroep, gehoor kan word.

Sfyria (die naam kom van die Griekse woord sfyrizo, om te fluit) is ’n taal sonder woorde.

Fluittale word oral in die wêreld aangetref; in Mexiko, Turkye, Togo, Nepal. Die bekendste fluittaal is waarskynlik die Silbo Gomero, “die Gome­raanse fluit” – ’n variëteit van Spaans – van die inwoners van La Gomera, een van die kleinste bewoonde eilande in die Kanariese groep.

In die aanlyn geskiedenistydskrif Historiek.net skryf Natascha Neef verlede jaar oor Sfyria, die eeue oue taal van skaapwagters en boere teen ’n berghang suid van ’n afgeleë dorpie, Antia, op die Griekse eiland Evia.

Sfyria (die naam kom van die Griekse woord sfyrizo, om te fluit) is ’n taal sonder woorde, maar met tone en frekwensies wat met die letters en lettergrepe van gesproke Grieks ooreenstem. In dié fluittaal (wat eers in 1969, tydens ’n soektog na ’n vermiste vliegtuig, ontdek is!) kommunikeer vlot gebruikers met al die soepelheid van normale spraak.

Pleks van met stembande en tong vorm hulle woorde met hul lippe, wat hul taal soos die gekwetter van voëls laat klink. Moderne kommunikasiemiddels het die aanleer van dié ingewikkelde vaardigheid helaas oorbodig gemaak en van Antia se sowat 40 inwoners gebruik slegs ’n handjievol vandag nog dié kritiek bedreigde taal.

Luister op YouTube hoe hulle met mekaar gesels.

Jana Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.