Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Fokus eerder hierop, DA

Een individu oorheers die veldtogte vir volgende jaar se na­sionale verkiesing en ál die politieke partye se strategieë. Dié persoon is pres. Cyril Ramaphosa.

Die ANC weet dat as dit nie vir Ramaphosa was nie, die trajek van verswakkende steun sou voortduur en die party ’n goeie kans sou staan om die verkiesing te verloor.

Pres. Cyril Ramaphosa oorheers partye se veldtogte vir volgende jaar se verkiesing, sê die skrywer. Foto: deon raath

Die DA weet daar is ’n wesenlike kans dat mense wat andersins in die versoeking sou wees om in dié verkiesing DA te stem, dalk hul kruisie agter die ANC gaan trek omdat hulle hoop Ramaphosa gaan die land regruk.

Dit verklaar die histerie waarmee so baie DA-ampsdraers en aktiviste op my vorige rubriek gereageer het.

My tema was eintlik die gevaar van populisme en watter ongewilde besluite Ramaphosa en sy kabinet oor die volgende vyf jaar sal moet neem om die land weer aan die werk te kry.

Maar die DA-leër het by my slotsin vasgehaak – “Maar as die ANC die verkiesing verloor of selfs net-net wen, gaan die populiste se hand gesterk word”.

’n Oud-ampsdraer van die DA wat steeds groot invloed op die party se denke het, Gareth van Onselen, was uitasem in sy hiperboliese reaksie op die rubriek op Twitter:

“Dit is wat gebeur as jou ganse wêreldbeskouing deur die ANC gekaap is. Jy verloor nie net die verbeelding om anders te kan dink nie, maar die dapperheid en oortuiging om enigiets anders voor te stel. Dié rubriek is, in sy geheel, ’n wit vlag. Dis net hartseer.”

In ’n verwante twiet het hy Ramaphosa “die ANC se grootste radikale sosialis” genoem.

Dis EFF-tipe politiek wat die DA hier bedryf. Oorvereenvoudigings, verdraaiings en bang- maakstories. Of is dit moontlik dat die party se senior mense geen begrip het van die woeste magstryd in die ANC nie?

En toe bars daar ’n aanslag op sosiale media los soos ek tot nou net van die EFF se leërskare ervaar het. Ek is onder meer ’n betaalde ANC-agent genoem, ’n nuttige idioot, ’n Rama­phosa-groupie.

Die DA-parlementslid Dean Macpherson het my selfs daarvan beskuldig dat ek ’n eenpartystaat onder die ANC bepleit.

Toe klim die DA-leier, Mmusi Maimane, self op die wa en wys in ’n meningstuk daarop dat Rama­phosa se naam nie op die stembrief gaan wees nie.

As ek impliseer mense moet nou vir Ramaphosa stem, gaan goedbedoelende mense dalk luister en só tot Suid-Afrika se verdere ondergang bydra, skryf hy.

Ramaphosa, sê Mmusi, gaan nooit soveel mag hê soos nou nie. Die ANC se uitvoerende komitee gaan hoeka gou van hom ontslae raak en met adj.pres. David Mabuza vervang. ’n Stem vir Ramaphosa is dus ’n stem vir Mabuza, aldus Maimane. Dus ’n absurde punt, wat ’n ander DA-LP ook intussen teenoor my gemaak het.

Dis EFF-tipe politiek wat die DA hier bedryf. Oorvereenvoudigings, verdraaiings en bangmaakstories.

Of is dit moontlik dat Maimane en sy senior mense geen begrip het van die woeste magstryd in die ANC nie?

Van die diep verskille tussen dit waarvoor Ramaphosa en mense soos Pravin Gordhan en Tito Mboweni aan die een kant en mense soos Mabuza, Ace Magashule en Bathabile Dlamini aan die ander staan.

Max du Preez

Ek herhaal: Populisme en korrupsie is ons grootste bedreigings. Ons beste kans in die huidige politieke realiteit om gou iets daaraan te doen, is ’n verkiesingsoorwinning vir Ramaphosa, hoe vol tekortkominge hy ook al is.

As die ANC hier by die 45% van die stemme gaan kry, en dit lyk baie onwaarskynlik, gaan die land deur ’n ANC-EFF koalisie geregeer word (dink adj.pres. Julius Malema).

Die kanse vir ’n DA-oorwinning of ’n ANC-DA-koalisie is nul. Zero.

Ek hoop die DA doen goed in volgende jaar se verkiesing. Sy beste kans is om ’n nuwe visie en duidelike alternatiewe eerder as gogga-maak-vir-baba-bang-twak aan kiesers voor te hou.

Meer oor:  Veldtogte  |  Na­Sionale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.