Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fokus op stelling eerder as op ’n woord
Gerhard van Huyssteen

‘Suid-Afrika behoort sy kulturele erfenis te verwyder om nasiebou te bevorder.”

Dit is weer daai tyd van die jaar: ATKV-debatskompetisietyd. Dan loop my en my kollegas se e-pos-inmandjies oor. Soos vandeesweek: “Oom, oom! Interpreteer vir my die woord ‘behoort’ (en die res van die woorde in die onderwerp). Asseblief en dankie, oom!” #EkLuisterByDieRadio.

So graag soos wat ’n mens wil help, so word dit ’n onbegonne taak om vir elke debatsbloedjie ’n omvattende en unieke antwoord te gee. Nee, ons probeer hulle liewer bemagtig sodat hulle sélf die woorde kan interpreteer. Die ATKV is immers duidelik in sy instruksies: “Doen so wyd as moontlik navorsing.”

Dit kan ons wêreld baat as meer mense net ’n bietjie woordnavorsing doen oor wat hulle eintlik besig is om te sê. Vir taalgebruikers, leketaalkundiges en slaapkamerwoordeboekmakers het ek op VivA se webwerf ’n lys van 11 stappe gepubliseer wat enigiemand kan volg om ’n bepaalde woord beter te verstaan.

Streng taalkundig kan ons sê “behoort” is ’n deontiese modale hulpwerkwoord. Huh? Oukei, oukei, kom ons gee hom ’n bynaam: Dis ’n “pliggiehulpwerkwoord”.

Wat raak ek wys oor “behoort” as ek self die stappe volg?

As jy ’n bietjie dink hoe jy en jou vriende die woord gebruik, kan jy klaar baie insigte kry. Om net klakkeloos ander mense se interpretasies op te dis sonder om die konteks te verstaan, is ’n bietjie soos om alleen by jou huis te sit en dronk word. Niemand word daar vroliker van nie (behalwe dalk jyself, maar dan ook maar net kortstondig).

Streng taalkundig kan ons sê “behoort” is ’n deontiese modale hulpwerkwoord. Huh? Oukei, oukei, kom ons gee hom ’n bynaam: Dis ’n “pliggiehulpwerkwoord”.

Pliggiehulpwerkwoorde druk die verpligting wat ’n spreker op jou plaas op ’n skaal uit. Aan die een kant van die skaal is jy absoluut verplig om iets te doen, jy móét dit doen (dink aan wette). Aan die ander kant van die skaal word ’n voorstel of moontlikheid aan die hand gedoen, jy mag of kan dit doen, maar die keuse is joune (dink aan voorstelle of toestemming).

Iewers tussen dié twee uiterstes lê “behoort” en sy maatjie “beter” (soos in: “Jy beter jou husse eet, of anders kry jy lang ore!”). Jy word aangeraai met “behoort” en gewaarsku met “beter”.

Saam met “behoort” hoort ’n hoofwerkwoord: ’n voorgestelde aksie wat jy moet uitvoer om by ’n plek uit te kom wat aan die spreker se verwagtinge voldoen. Die wêreld (Suid-Afrika, in dié geval) is in ’n toestand wat nie aan ’n bepaalde standaard of ideaal voldoen nie (dis waar daar ’n eensgesinde gevoel onder Suid-Afrikaners heers). Die voorgestelde aksie? Raak ontslae van monumente, standbeelde en ander erfgoed.

Veel ingewikkelder is die onderwerp eintlik nie . . .

Kom ons hoop die debatteerders fokus op die meriete van die stelling en moontlike oplossings eerder as om hare oor “behoort” te kloof.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Fokus  |  Woord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.