Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Folau en Caster: Die prys wat sportsterre betaal

Israel Folau se berugte tirade oor onder meer gays klink na niks meer as ’n prekie wat hy feitlik elke Sondag in sy prille jeug in die NG Kerk moes aanhoor nie, skryf MC Botha.

MC Botha

Israel bly in die nuus.

Eers was daar die algemene verkiesing met die gepaardgaande moddergooiery en rugstekery, presies soos hier by ons, maar bykans twee maande later wag almal steeds in spanning vir die totstandkoming van ’n koalisieregering.

Dalk was die rampspoedige poging van ’n Israelse ruimtetuig genaamd Beresheet om op die maan te probeer land reeds ’n slegte voorbode.

Beresheet is Hebreeus vir Genesis, en ’n mens ys as jy dink wat kon gebeur indien die tuig se naam Openbaring was – in plaas daarvan om net saggies neer te stort soos gebeur het, kon die ongeluk aan die ander kant ’n kernontploffing ontketen het met verreikende gevolge vir die mensdom, soos daar juis in Openbaring voorspel word.

Daar lê Beresheet se wrak toe op die maan vir die hele wêreld om te sien, met ’n afbeelding van die Israeliese vlag en die ster van Dawid steeds op die romp. ’n Slagspreuk in groot letters in Hebreeus vertoon genadiglik ook in Engels: “SMALL COUNTRY BIG DREAMS.”

Die hoof van die Israeliese ruimteagentskap het die sending as ’n “ontsaglike prestasie” beskryf.

Meer liries oor ’n mislukking kan ’n mens seker nie wees nie.

Folau klink soos NG-preke

Israel Folau se verweer dat hy bloot uit die Bybel aangehaal het, het nie die almagtige rugbyadministrateurs beïndruk nie. Foto: Getty Images

Maar daar is ’n ander Israel. Israel Folau, die Aussie-rugbyster wat glo dat indien leuenaars, egbrekers, skelms en dronkaards nie tot inkeer kom nie, maar ook “homoseksuele” – soos hy na daardie deel van die mensdom verwys – hulle gedoem is om in die hel te beland. So diep gewortel is sy afkeer dat hy nie eens na hulle as “gays” kan verwys nie, ingeval dié woord dalk ’n vrolike klokkie in sy veroordelende brein lui.

Sy tirade klink na niks meer as ’n prekie wat ek feitlik elke Sondag in my prille jeug in die NG Kerk moes aanhoor nie.

Maar tye verander, en gister se helde is vandag se sondaars. Die fout wat Israel gemaak het, was om “homoseksuele” by sy lysie van verwerplikes te voeg, want volgens die jongste kerklike riglyne wêreldwyd, Suid-Afrika inkluis, gaan diesulkes beslis nie meer hel toe soos in vorige eeue nog die geval was nie.

Met die res van die lys het almal vrede – dié afstootlikes bly op die pad van verdoemenis, in elk geval vir nou, totdat ’n nuwe orde eendag ook seker teenoor húlle meer simpatiekgesind sal wees.

Persoonlik het ek niks teen gays nie, en al het ek gehad sou ek in hierdie dae nie so onnosel wees om my renons op Instagram te plaas nie, soos Israel gedoen het. Sy verweer dat hy bloot uit die Bybel aangehaal het, het nie die almagtige rugbyadministrateurs beïndruk nie en hulle het hom nou verbied om sy heteroseksuele voete weer op ’n rugbyveld te sit.

Wie besluit wat ’n vrou se testosteroonvlakke moet wees voordat sy teen ander vroue mag meeding? Mans natuurlik.

Helaas kos dit hom – $10 miljoen – om presies te wees. Behalwe sy sterk beginsels is dit nouliks sy skuld dat hy die beste heelagter in Australië is, bes moontlik die hele wêreld, derhalwe is daardie ronde bedrag feitlik by verstek sy jaarlikse salaris.

Siestog, as hy sokker gespeel het, sou dit dubbel soveel wees.

Soos ons weet betaal atlete die wêreld oor dikwels ’n prys dat hulle geseën is met meer talent as die res van ons.

Ons eie Caster Semenya is ’n klaarblyklike onlangse voorbeeld. Verre daarvan om haar voor stok te kry dat sy uitvaar teen gays, het die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies tot die gevolgtrekking gekom dat haar testosteroonvlakke te hoog is en sy voortaan middels moet gebruik om die vlakke te verlaag. Om dié besluit eerstens te geneem het, dra reeds ’n geurtjie van seksisme en diskriminasie.

Wie besluit wat ’n vrou se testosteroonvlakke moet wees voordat sy teen ander vroue mag meeding? Mans natuurlik, want hulle het testosteroon in oorvloed. Wel, die meeste van hulle.

Vergeet maar die telling van hul eie vroulike hormone.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Israel Folau  |  Mc Botha  |  Caster Semenya  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.