Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fopstories – die vermenging van goed, sleg en kwaad*

Gewetenloses vat ’n greintjie se goeie feit, verdraai dit na slegte distorsie en skep dan ’n berg van vals aakligheid wat die persepsie van waarheid gee, skryf Rhynie Greeff.

Hy kan mos nie plat wees nie, kan hy? Amerikaners in die Orange-distrik, Kalifornië, bespreek verlede jaar die vorm van die aarde.Foto: Getty Images

Beste Rhynie

Ek is allergies vir nasionaliserende politici wat anti-rykdom is om agtergeblewenes te werf, maar dan luukse partytjies hou met ingevoerde sjampanje. Dis seker ’n algemene allergie.

Maar nou is ek ook allergies vir die liefde.

My eksvrou het maar altyd ’n slap oog vir avontuur gehad. Ek het haar keer op keer teruggeneem. Onlangs het sy egter ons plaas verlaat vir ’n ander man en my kinders saamgeneem. Ek wil haar nie weer terughê nie maar lojale vriende vertel my nou dat sy op Facebook vergesogte, onware stories oor my opmaak. Ek kan nie sien wat sy skryf nie en kan myself nie verdedig nie, maar dit gaan blykbaar woes tekere.

My onskuldige kinders word betrek en ek het geen beheer oor haar versinsels nie.

Ek vra nie advies nie, want ek gaan dit self oplos.

Wat is jou siening oor sulke verdraaiings op sosiale media?

Groete

Daantjie di Lemma

Verdrietgedacht Boerdery

Weemoedsvlei, Vrystaat

Facebook is dikwels ’n kulboek.

Beste Daantjie

Allergieë slaan onverwags uit. Het jy geweet Clint Eastwood was as cowboy-akteur allergies vir perde? Dit verklaar seker daardie dun skreefogies in sy film The Good, the Bad and the Ugly. Ek dink jou liefdesallergie kom uit so ’n botsing van goeie, slegte en lelike dinge.

Leuens op digitale media is soos fopnuus. Gewetenloses vat ’n greintjie se goeie feit, verdraai dit na slegte distorsie en skep dan ’n berg van vals aakligheid wat die persepsie van waarheid gee.

Facebook is dikwels ’n kulboek soos verlede jaar se storie dat ’n vrou Samsung vir $1,8 miljoen gedagvaar het nadat ’n selfoon in, kom ons sê maar, haar vrolike deel vasgesit het.

Onskadelike voorbeelde

Verdigsel of waarheid? Die maanlanding van 50 jaar gelede is volgens sommige in ’n rolprentateljee verfilm. Foto: Getty Images

Soms is die flousery onskadelik. Monica van der Zyl was die verleidelike stem van 15 aktrises in James Bondflieke, insluitende Ursula Andress.

Marni Nixon was die sangstem vir Deborah Kerr in The King and I, Natalie Wood in West Side Story, en Audrey Hepburn in My Fair Lady. Mooi meisies het soms lelike stemme.

Die Internasionale Plat Aarde Navorsingsvereniging het onteenseglike bewys dat ons op ’n plat skyf woon met die Noordpool in die middel en ’n ysmuur van 45 m hoog. Antarktika, op die rand. Gelukkig vir RSG se Opppiwaterfees en MSC Orchestra is daar nie ’n gat in die skyf onder die see nie.

Baie mense glo die maanlanding 50 jaar gelede het nooit gebeur nie en dat dit in Walt Disney se ateljees verfilm is met Arthur C. Clarke as skrywer en Stanley Kubrick as regisseur. Clarke en Kubrick is lank reeds ter Plat Aarde bestel. So jy sal moet spook om hul getuienis te kry. Die grootste foppers fop hulself.

Skadelike foppery

Pastoor Alph Lukau wek Elliot Moyo uit die dood op. Feit of verdigsel? Foto: Twitter

Dis ’n probleem wanneer vals stories skade berokken aan onskuldiges soos met die finansiële knoeiery om Steinhoff en die boek Die seuns van Bird Island.

Dit herinner my aan ’n springbokjag waar ek een oggend vroeg met ’n paar manne koffie drink voor ons veld toe vertrek en ’n dooie pofadder in die stof naby ons lê.

Toe ons weer kyk, was daar ’n wonderwerk asof pastoor Alph Lukau ons besoek het. Die pofadder het onopsigtelik uit die dode opgestaan en weggeseil. Die pofadder was ’n fopadder.

Daantjie, ek kry jou familie jammer. Jou kinders is op ’n eiland weg van jou waar hulle geïndoktrineer kan word met fopadderlike verdraaiings. Hulle, hul kinders en hul kinders se kinders kan vir geslagte lank daaronder ly. Ek weet jy soek nie advies nie, maar jy kan nie stilbly nie. Wees dapper met die waarheid. Bose stories vergiftig onskuldiges. Veral kinders.

Dis hoe strydende familiefaksies ontstaan. Jy is nie alleen nie. Mans én vroue word ingeloop. Dit kom al eeue lank.

Familietwis weens verdraaide leuens

Jou geval laat my dink aan liefde tussen die strydende Capulet- en Montague-families in Shakespeare se Romeo en Juliet. Othello van Shakespeare was só deur ander se jaloesie en leuens omgepraat dat hy sy onskuldige en eerbare vrou as ontrou beskou het en haar doodgemaak het.

Rhynie Greeff

Hoe skep jy wanorde in ’n familie? Suig snert uit jou duim. Liggelowiges eet gou uit jou hand en word aanhitsers wat valshede vererger.

Hoekom moet ’n mens ’n lekker storie met die waarheid bederf?

So-en-so in die familie sterf aan ’n hartaanval met ’n leë pakkie neute langs hom. Aha, maklik! Hy is dood aan ’n neute-allergie en sy vrou/seun/huishulp (skrap waar nie van toepassing nie) het geweet hy was allergies.

Humeurige tannie Stuggie het mos geslagte gelede gesê sy het by die dood omgedraai nadat sy giftige koeksisters van mooi tannie Poppie geëet het terwyl tannie Stuggie eintlik net jaloers was, maagwerkings gehad het en aandag gesoek het. Nou glo die agterkleinkinders aan Stuggie se kant steeds Poppie wou Stuggie doodmaak.

Ek het ’n paar jaar gelede ’n historiese roman Deception Days onder die skuilnaam I. Vronsky geskryf waarin ek die volgende by hoofstuk 18 in die aanhef geskryf het: “Where there are secrets, there are lies.”

Oor leuens het Adolf Hitler op ’n slag gesê: “As jy ’n leuen vertel wat groot genoeg is en jy vertel dit dikwels genoeg sal dit geglo word.”

Ek wil byvoeg: As jy die leuen lank genoeg vir jouself vertel, sal jy dit self glo en dan raak dit ’n kanker wat jou vernietig.

Onverdraagsame parallelle distorsies

Wat van ’n parallelle heelal waar pres. Donald Trump van die VSA ’n pous is? Foto: AP

Ek hou van kwantumfisika en die teorie van ’n parallelle heelal waar Donald Trump moontlik ’n pous is en Jorge Mario Bergoglio nie pous Francis is nie, maar ’n nagklubeienaar in Argentinië.

Die teorie klink vergesog, maar daar is ’n bekende proefneming van David Deutsch, fisikus by die Universiteit van Oxford, waar hy bewys dat ’n foton, die basiese eenheid van lig, op dieselfde tyd op twee plekke kan wees. Vandaar die teorie van ’n parallelle heelal. Soek en jy sal twee maal vind.

Ek sien plekke waar politici wil nasionaliseer vir die armes, maar parallel elders in geheime luuksheid fuif. Ek wonder oor parallelle intieme verhoudings van iemand tegelykertyd met twee “liefdes” op twee plekke.

Ek wonder oor tekortkominge wat verbloem word met parallelle leuens. Mense lieg só dat hulle die waarheid versmoor en hul eie rasionaliteit verloor.

Hulle glo hulle is absoluut reg, word topbemarkers van hul eie distorsies en maak onskuldiges seer.

Daantjie, miskien is jou gewese vrou op so ’n alternatiewe gedagteplek.

Ek het twee weke gelede ’n kwaadaardige gewas uit my arm laat uitsny. Die gewas is weg. Ek bly lief vir my arm.

Fopstories boemerang altyd teen die waarheid. Elke fase van die lewe is tydelik en daardie tydelike verwissel gereeld – soms teen eerlose aanslae.

Hou moed. Doen goed. Praat. Bewys versinsels verkeerd.

Daantjie, jy is nie eintlik allergies vir die liefde nie.

Liefde is voorwaardelik. Goedheid en respek is sulke voorwaardes. Dis seldsaam dat daar ware liefde kan wees vir ’n kwaadaardige gewas.

Ek het twee weke gelede ’n kwaadaardige gewas uit my arm laat uitsny. Die gewas is weg. Ek bly lief vir my arm.

Sny kwaadaardigheid uit en bly lief vir wat oorbly.

Groete.

Rhynie.

* Met die uitsondering van openbare mense soos David Deutsch en Shakespeare verwys hierdie rubriek nie na enige spesifieke lewende of ontslape persone nie.

* Dr. Rhynie Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat.

Meer oor:  Donald Trump  |  Clint Eastwood  |  Fopnuus  |  Maanlanding  |  Sosiale Media  |  Facebook  |  Leuens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.