Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Francois Verster: ’n Man weet hy is ’n man – of nie
Hierdie foto van Francois Verster is in 1986 in die Caprivi geneem toe hy en ’n klomp troepe oor ’n naweek weggebreek het. Hulle het met een van die Rambo-flieks gespot, want vir hulle was die hele “macho-ding” vrek snaaks.

Hy hoor die een of ander karakter het in Pretoria aan’t skiet geraak en beweer hy is ’n recce. Maar dadelik dink ’n mens aan die recces se behoefte aan ’n lae profiel. Om eerder onder die radar te hou, is immers hul aard, skryf Francois Verster.

Francois Verster soos hy deesdae lyk.

By Boekejol vanjaar sit ek by ’n boekepraatjie langs twee oudstaandemaglede. Koos Stadler en Wynand du Toit. “Recces” in die omgangstaal. Nié ouens met die kakiejasse en brannasbottels in die binnesak à la Tolla nie.

Is hulle karikatuuragtig? Beslis nie. Intimiderend? Ook nie.

Daarom dat ek, wat ’n bra naafgat-troep was en ’n familielid, ’n recce, heel goed oor die weg kom. Uit die respek wat ek vir hom het, juis daarom, sal ek nie sy naam noem nie – recces spog allermins met hul reccegeit, en enige elitemagte, soos ook die Seals van die VSA, dring aan op anonimiteit. Pertinent.

Nou hoor ek die een of ander karakter het in Pretoria aan’t skiet geraak en beweer hy is ’n recce. En dadelik dink ’n mens aan die recces se behoefte aan ’n lae profiel. Om eerder onder die radar te hou, is immers hul aard.

Ek gaan kyk toe op Google na “S.A. Special Forces Association” se “Wall of Shame”. Inderdaad is daar is ’n hele verskeidenheid subspesies van hierdie sotte, soos sogenaamde media-recces, Facebook-heroes en general wannabees. As dit nie so skaamteloos pateties was nie, sou dit snaaks gewees het.

Hierdie inskrywing het Woensdag op die Spesiale Magte se amptelike “Wall of Shame” verskyn.

Selwers het ek, die ou onwillige nasionale dienspligtige wat ek was, my eens namens alle recces gemoerpluk. Ek het net ná diensplig (1989) begin skool gee en een aand is ek na ’n huis waar ’n paar jong mense gebraai het. Daar gekom, sit almal om die vuur en ’n besonder welgeronde kêrel, ’n regte cholesterolbul, was aan die woord.

“ . . . en toe spring ons uit op 3 000 voet, met belde koeëls om ons nekke reg op die Swapo-stellings af.”

Dit was stil om die vuur, en die spreker het duidelik die kollig geniet.

En my Bren was uitmekaargehaal, vir veiligheid, maar ek is mos ’n recce, en . . . en voordat hulle eens hulle AK’s kon gryp, maai ek hulle af. Al sewe.

“En ek land op ’n hut se dak, met my voete deur die riete, en onder sien ek ses terroriste om ’n vuur sit . . .” Hy vee die sweet van sy ronde bakkies af en die luisteraars se oë blink van bewondering – olie op sy vuur. “En my Bren was uitmekaargehaal, vir veiligheid, maar ek is mos ’n recce, en . . . en voordat hulle eens hulle AK’s kon gryp, maai ek hulle af. Al sewe.”

Toe kon ek nie meer stilbly nie.

“Was dit nou ses of sewe?” vra ek.

“En jy praat mos nou strooi man, ’n Bren skiet nie met belde koeëls nie, maar met magasyne!”

Nou ja, ’n koor van protes het opgegaan, want wie is ek om Boland Bank Ladismith se eie recce te bevraagteken? Hamba, suka wena, voertsek!

Ek is ook vinnig daar weg, nogal ontsteld, veral oor die onregverdigheid en valsheid van die situasie, maar ook met ’n vraag wat my regtig nou nog pla: Hoekom wil sommige mans so graag helde wees? Omdat hulle glo hulle sal sodoende die verering kry wat hulle nooit geken het nie? Maar ironies, as jy tot hierdie soort leuen in staat is, is dit ook duidelik hoekom jy nié gerespekteer word nie.

Al wat ek kan sê is, as jy ’n pateet is, weet almal dit in elk geval. Moenie dit vererger en jou meerderes in die proses kontamineer nie.

Vir mense soos my familielid het ek die grootste respek. Juis omdat sy soort dit nie opeis nie. Hulle weet wie en wat hulle is.

Ook: Ou Cholesterolbul, jy weet wie jy is. Jy en almal wat daai aand daar was.

Sies man!

Meer oor:  Man
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.