Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frankryk – en Europa – se uur van verdriet

Met die ernstige skade wat die Notre Dame-katedraal in ’n brand opgedoen het, was dit nie slegs ’n kerk wat beskadig is nie. Notre Dame was ’n simbool van die Europese geskiedenis en van die Christendom. Bowenal was dit ’n simbool van Frankryk as draer van die Europese kultuur en beskawing, meen Leopold Scholtz.

Mense staan en kyk hoe die waterstrale deur die brandweerlui onophoudelik op die vlamme gespuit word. Foto’s: GETTY IMAGES

Ná vandeesweek se brand in die Notre Dame-katedraal in Parys sal twee beelde waarskynlik in baie mense se geheue gegrif staan.

Die een is van die vlamme wat hoog bo die dak van die bouwerk uitslaan, wat alles verteer, van die waterstrale wat die brandweer onophoudelik, maar skynbaar vergeefs, op die vlamme spuit. En van mense wat in die strate staan en huil.

Die tweede is van die binnekant van die katedraal ná die brand. Die rook dwarrel nog in die lug. En daar aan die voorkant spríng dit in jou oog soos ’n skerp lig: Die goue kruis wat bo die altaar hang, verlig deur die gloed van die oorblywende vlamme, uitdagend, wat sê: Ek is wie ek is, was en altyd sal wees.

Dit was om van koud te word. En terselfdertyd was dit waaraan miljoene Franse – en mense van oor die hele wêreld – hulle vasgeklamp het: Die onverwoesbaarheid van Notre Dame, die wete dat hy, ondanks die skade, oorleef het.

’n Paar jaar gelede sit ek, soos miljoene ander besoekers deur die eeue, in dié kerk en raak stil in die enorme ruimte. ’n Koor is onder begeleiding van die orrel aan die oefen, en die harmonieuse klanke van Mozart se Kroningsmis vul die enorme ruimte.

Dit maak jou stil, diep stil van eerbied. Die ruimte en klank oorweldig jou.

Die goue kruis wat bo die altaar hang, ongeskonde, ondanks die verwoestende brand.

Is dit ’n wonder dat pres. Emmanuel Macron in sy televisietoespraak Dinsdagaand gesê het “Notre Dame ís ons geskiedenis. Die plek waar ons al ons groot oomblikke beleef het. Ons epidemies, ons oorloë, ons bevryding. Dit is die episentrum van ons lewe.” Hy het gepraat van ’n “innerlike aardbewing” by alle Franse.

Inderdaad. Die katedraal is geleë op ’n eiland in die Seine, die Isle de Cité, die middelpunt van Parys. As jy ’n padbord sien wat wys dat Parys – sê maar – nog 100 km ver is, is dit inderwaarheid 100 km tot by Notre Dame.

Wat maak die gebou so besonders? Wel, hoe kan ’n Gotiese katedraal van 800 jaar oud nié besonders wees nie?

Die Parysenaars het in 1160 met die bou van die kerk begin. ’n Eeu later was dit grotendeels klaar, al is in die eeue daarna aansienlike veranderings aangebring. In die 19de eeu is dit gerestoureer, maar met die gebrekkige insigte en tegnieke van destyds het dit meer skade gedoen as wat dit herstel het.

Die restourasie wat pas vanjaar begin het, was juis deels bedoel om die 19de-eeuse brouwerk reg te maak.

Dis nog nie bekend presies wat vandeesweek se brand veroorsaak het nie, maar die aanname is dat die herstelwerk – dalk ’n kortsluiting – iets daarmee te make het. Ironies genoeg het die voorbereiding vir die herstelwerk juis beteken dat heelparty van die waardevolste kunsskatte reeds verwyder was toe die gebou vlam gevat het.

Die feit dat die katedraal geleë is in een van die digsbevolkte gebiede van Parys, waar die straatjies nou is en die geboue naby aan mekaar staan, het die taak van die brandweer enorm bemoeilik. Daar is nietemin allerweë hoë lof vir die 400 heldhaftige brandweerlui, wat soms in lewensgevaar vasberade teen die vlamme geveg en ten slotte oorwin het.

Die drie onskatbare gebrandskilderde vensters in die vorm van rose, wat almal uit die 13de eeu dateer, het oorleef. Wat hulle besonders maak, is dat die bouers hulle só geplaas het dat hulle die sonstrale presies op die altaar fokus.

Die brand het blykbaar ontstaan in die dakbalke, gebou van eikebome wat al in die 13de eeu gekap is, wat die taak van die brandweer ongelooflik bemoeilik het. Die historiese dak is grotendeels daarmee heen, en ook die 19de-eeuse toring is totaal verbrand.

Die hoof van die plaaslike brandweer, Jean-Claude Gallet, het die brandbestryding soos ’n militêre operasie aangepak.

Luidens berigte het hy besef sy groot taak is om te keer dat die brand na die twee suidelike torings en na die onskatbare orrel uitbrei en dat die struktuur van die kerk verswak word.

Blykbaar is die brand hier gekeer 30 minute voordat dit buite beheer sou raak. As dit gebeur het, sou ook die twee torings ineengestort het.

Op televisie kon gesien word hoe die brandweerlui nie alleen water op die vlamme spuit nie, maar ook op die mure om hulle koel te hou en te keer dat hulle bars. Op dié manier is heelparty skatte gered.

Die beroemde orrel, lui die voorlopige oordeel, is beskadig, maar nie verwoes nie. Die orrel is in die 1730’s deur Aristide Cavaillé-Coll gebou, het 115 registers en meer as 8 000 pype. Dit word gesien as een van die beste orrels ter wêreld en was die inspirasie vir heelparty orrelkomposisies van bekende komponiste.

Die drie onskatbare gebrandskilderde vensters in die vorm van rose, wat almal uit die 13de eeu dateer, het oorleef. Wat hulle besonders maak, is dat die bouers hulle só geplaas het dat hulle die sonstrale presies op die altaar fokus.

Die indrukwekkende manier waarop die Franse en die hele Weste op die ramp gereageer het, is ’n simbool vir ’n veerkragtigheid wat – hoe jy dit ook al bekyk – indrukwekkend is.

Dis nog onduidelik wat die situasie met ander gebrandskilderde vensters is. Daar is ook verskeie relikwieë wat gered is, onder meer die beweerde doringkroon op Christus se kop toe hy gekruisig is, ’n tenue wat glo aan koning Lodewyk IX behoort het, ensovoorts.

Omdat die twee suidelike torings nagenoeg ongeskonde gebly het, het die kerkklokke, bekend weens Victor Hugo se drama Die boggelrug van Notre Dame, ook oorleef. Verskeie eeue-oue skilderye is ook betyds gered.

Wat nou? In sy toespraak vandeesweek het pres. Macron beloof dat Notre Dame herbou sal word en dat hy mooier as ooit tevore sal wees.

Vanoor die hele wêreld het die geld vir die herstelwerk ingestroom.

Die eienaars van die kosmetiese firma L’Oréal, die familie Bettencourt, het onmiddellik ’n volle 200 miljoen beloof. Die rykste man in Frank­ryk, Bernard Arnault, het ’n soortgelyke bedrag geskenk, en teen die tyd dat dié woorde geskryf is, is beloftes van 700 mil­joen ontvang – veel meer as wat die herstel van die kerk vermoedelik sal kos.

Notre Dame het in die meer as agt eeue van sy bestaan ’n onskatbare simboliese waarde gekry. Vir Parys, vir Frankryk, maar ook vir die hele Europa en die Westerse beskawing.

Die indrukwekkende manier waarop die Franse en die hele Weste op die ramp gereageer het, is ’n simbool vir ’n veerkragtigheid wat – hoe jy dit ook al bekyk – indrukwekkend is.

Soos The Guardian (Londen) dit in ’n hoofartikel gestel het: “Hoe dom lyk dit op ’n oomblik soos dié om jou te verbeel dat ons almal nie Europeërs is nie. In Frankryk se uur van verdriet staan ons langs hom. En ons sal nooit wegdraai nie.”

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Europa  |  Parys  |  Frankryk  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.