Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frankryk tree streng op teen radikalisering

Hoe verdedig ’n liberale demokrasie homself wanneer hy bedreig word deur ondemokratiese elemente wat die demokratiese vryhede gebruik om daardie demokrasie te ondermyn?

Dis ’n dilemma wat gemoedere reeds lank in Europa beroer. Die Duitse Weimar-republiek het in die jare 1918-’33 ’n goeie grondwet gehad wat alle normale demokratiese vryhede behoorlik veranker het. Maar Adolf Hitler en sy Nazi’s het daardie vryhede skaamteloos misbruik om die demokrasie te rysmier en ten slotte, volkome binne die grense van die wet, met ’n totalitêre diktatuur te vervang.

Frankryk staan tans voor daardie dilemma. Onlangs is die Bataclan-massamoord van 2015 in Parys herdenk, toe Moslem-terroriste sowat 150 onskuldige burgers afgemaai het. En in ons eie tyd is die onderwyser Samuel Paty deur ’n radikale Moslem onthoof omdat hy spotprente oor die profeet Mohammed in ’n les oor spraakvryheid as illustrasie gebruik het, terwyl drie mense in ’n kerk in Nice vermoor is.

Frankryk ken ’n kultuur –“laïcité” – wat op ’n radikale skeiding tussen staat en kerk neerkom. In religieuse sake kan die kerke hul eie ding vryelik doen, die staat is streng neutraal, en die twee oortree nie op mekaar se terrein nie. Die oorgrote meerderheid – gematigde – Moslems hou hierby, maar die radikale misbruik die vryheid wat hulle geniet om die grondveste van die “laïcité” te ondermyn.

Die visier is veral gerig op Saoedi-Arabië en Turkye.

Om die Franse demokrasie te beskerm het pres. Emmanuel Macron ’n offensief begin teen die “Islam in krisis” en “Islamitiese separatisme”. Dit behels onder meer ’n wetsontwerp wat radikalisering moet teengaan. Ouers word verbied om hul kinders tuis te onderrig. Openbare skole moet respek vir verdraagsaamheid, godsdiensvryheid en die sekulêre demokrasie by kinders inprent. Ander lande (in die praktyk Moslemlande) mag nie meer onderwys in Frankryk subsidieer nie.

Bowendien word ’n Nasionale Raad van Imams in die lewe geroep. Dié raad, wat ’n staatsliggaam sal wees, sal akkreditasie verleen (of terugtrek) aan Moslem-geestelikes om in moskees te preek.

Volgens die Paryse dagblad Le Parisien berus dié nuwe benadering op twee pilare: ’n verwerping van die politiek-geïnspireerde Islam, en ’n verbod op buitelandse inmenging en invloed in Franse Moslemkringe. Die visier is veral gerig op Saoedi-Arabië en Turkye.

Daar is geen beperking op die beoefening van die Islam as godsdiens nie. Maar die oomblik as hy op politieke terrein oortree, gaan die staat streng optree, is die idee.

Die probleem van ’n politiek-geïnspireerde Islam is ook elders in Europa vaardig, maar nêrens is dit so akuut soos in Frankryk nie. Elders op die vasteland hou die owerhede Moslemleiers ook goed dop, maar dit was nog nie nodig om op te tree nie. Frankryk ontwikkel dus ’n militante, weerbare demokrasie.

  • Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Wêreldburger  |  Leopold Scholtz.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.