Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Alles sal in die haak wees – op die ou end

Oor ’n week is dit Kersfees en terwyl jy voorbereidings tref om saam met jou familie te kuier, wil ek skryf waarom ons, ondanks ons vele krisisse, nie anders kan as om in ’n beter toekoms te bly glo nie.

Ek het baie jare gelede ’n klein middagete vir ’n aantal sakelui en politici in Pretoria bygewoon. Oor koffie het die gesprek oorgeslaan na die toestand waarin die land verkeer – die misdaad, die werkloosheid, die uitgediende regering en korrupte politici. Die mees vooraanstaande lid van die geselskap het baie min gesê terwyl ons aan die gesels was, maar het heel aan die einde gesê dat daar iets was wat hy ons wou vertel.

Hy het gesê dat hy onthou hoe die plaaslike Griekse groentehandelaar in 1948, nadat Smuts verslaan is, met sy pa kom praat het en gesê het dat al die Grieke moontlik die land sou moes verlaat omdat daar geen hoop was nie. Hy onthou die skietery by Sharpeville in 1960 toe die polisie 69 mense doodgeskiet het. So ook die Soweto-opstand van 1976 en die Rubicon-toespraak in 1985 waar PW Botha uitdagend gesê het dat die regering nie sou hervorm nie.

By elk van hierdie geleent­hede, het hy gesê, was daar diegene wat bang was dat die land nie sou oorleef nie.

Dink net aan party van die dinge wat ons voorouers moes trotseer.

Susanna Smit, die suster van die Voortrekkerleier Gert Maritz, het 181 jaar gelede gesê: “Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder die juk van die Britte te buig.” Paul Kruger het 117 jaar gelede die Transvaal as banneling verlaat terwyl die Britse leër klaargemaak het om Pretoria te verower. Tien jaar later het Pixley ka Isaka Seme (die stigtersinvloed agter die skepping van die ANC) teruggekeer van sy regspraktyk in Engeland, aan die vooraand van die Uniewording in Suid-Afrika, om te begin met sy lang stryd vir die bevryding van sy mense. 54 jaar later sou Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor veroordeel word en die volgende 27 jaar in gevangenskap deurbring. In Februarie 1990 het FW de Klerk die vrylating van Mandela en die ontbanning van die ANC aangekondig.

Elke Suid-Afrikaanse geslag moes sulke enorme onsekerheid en twyfel oor die toekoms trotseer. Maar in elke geslag, selfs wanneer vooruitsigte baie droewig gelyk het, was daar ’n Susanna Smit of Pixley ka Seme wat, ondanks alles, aangehou het in die hoop op ’n beter toekoms. En die merkwaardige ding is dat ten spyte van alles wat verkeerd kon gaan, en al die dinge wat wel skeefgeloop het, ons nog almal hier is. En hierdie maand sal baie van ons – of ons nou Smits of Semes is – saam met ons families verkeer om Kersfees te vier.

Ek dink dit sê wel iets. Swart, wit, Brit, Afrikaner, Zoeloe, Xhosa, Sap, Nat, swartbewussyn, swart nasionalis, verkramp, verlig, liberalis, kommunis, kapitalis – ons het die grootste deel van die afgelope 500 jaar met mekaar baklei. Daar was baie min tye van vrede sowel as voorspoed. Ons sal aanhou om teen mekaar te stry, maar tussen die gevegte deur kry ons dit tog reg om voort te beur – dit is wat ons doen. Hoe sal dit eindig?

By ’n onlangse reeks voorligtings oor Suid-Afrika se toekoms het een van ons gashere (Bruce Whitfield van The Money Show op Radio 702) afgesluit met ’n aanhaling uit die rolprent The Best Exotic Marigold Hotel: “Everything will be all right in the end . . . if it’s not all right then it’s not yet the end.”

Geseënde Kersfees en ’n gelukkige Nuwejaar vir almal

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.