Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Cliché van ryk wit, arm swart land uitgedien

Terwyl die beskuldiging nog gemaak word dat wit Suid-Afrikaners die ekonomie en toegang tot Suid-Afrika se hulpbronne beheer, het die land verander. Data bestaan in aanwysers wat wissel van vlakke van huishoudelike uitgawes tot universiteitsonderrig om aan te toon dat, volgens baie merkers, die ou cliché van twee lande – een arm en swart; die ander wit en ryk – nie meer waar is nie.

Kyk na hierdie voorbeelde:

  •  Daar is nou meer swart gesinne as wit gesinne wat meer as R10 000 per maand bestee.
  •  Daar is meer swart as wit mense met private mediesefondsdekking.
  •  In die laer grade van sommige privaat skole en by vele vooraanstaande staatskole is die swart inname nou groter as die wit inname.
  • Daar is elke jaar vier maal soveel swart universiteitsgegradueerdes as wit gegradueerdes.
  • Daar is meer swart mense met naskoolse onderrig as wit mense.
  • Navorsing deur die Kommissie vir Diensbillikheid toon dat daar meer professioneel gekwalifiseerde swart mense as wit mense in die ekonomie aangestel is.
  •  Daar is nou aan die laer punt van die voorstedelike huismark meer swart kopers as wit kopers.
  •  Navorsing deur Agri SA toon dat swart mense byna die helfte van landbougrond in die land beheer, gemeet aan die land se produktiewe potensiaal.

Om swart te wees dui nie meer noodwendig op armoede en ’n gebrek aan geleenthede nie en dit het implikasies vir beleid.

Indien alle swart mense arm was en geleenthede vir goeie onderwys en professionele indiensneming ontsê was, sou die argument ten gunste van regstellende aksie en rasgegronde bemagtigingsbeleide dalk kon slaag. Maar kan dié argument volgehou word wanneer die betrokke samelewing ’n punt bereik waar die getal swart mense wat oor dié geleenthede beskik, die getal wit mense oorskry?

Die voorstanders van ’n rasgegronde bemagtigingsbeleid voer aan dat die suiwer getalle nie saak maak nie omdat swart mense, in die algemeen, steeds baie armer bly as wit mense. Dit is waar, maar slegs vir die swart mense wat arm is. Diegene in die middelklas, wie se kinders in uitstekende skole is, en wat goeie salarisse verdien, en motors en ander bates koop – hul lewens is, materieel gesproke, nie baie anders as dié van die wit middelklas nie.

Daar is ’n probleem wanneer ’n goed opgevoede swart kind wat uit ’n middelklasagtergrond kom voor in die bemagtigingsry staan – voor swart en wit kinders wat van meer beskeie agtergronde kom.

Die enigste regverdiging hiervoor is om te sê dat die welgestelde swart kind namens dié swart mense wat arm is bemagtig word of dat jong wit mense nie dieselfde geleenthede as jong swart mense verdien nie. Maar sulke argumente kom op onbeskaamde elitistiese voortrekkery of outydse rassisme neer.

Die sterkste punt wat die kampvegters vir ’n rasgegronde bemagtigingsbeleid het, is dat die druk op jong swart middelklas-mense, as eerstegeslag-middelklasgesinne, groter is as wat deur wit mense gehanteer moet word. Hoewel dit ’n baie swaar las is, het baie jong wit mense egter ook die verantwoordelikheid om hul ouers ná aftrede te ondersteun.

Dit sou ’n beter benadering wees om ras uit die bemagtigingsbeleid-scenario te verwyder en seker te maak dat die beleid mense wat van benadeelde agtergronde kom, bevoordeel, ongeag of hulle swart of wit is. Maar die feit dat jy nie een prominente sakeleier of politikus sal kry wat bereid is om die regering uit te daag om die beleid aan te pas nie, dui daarop dat die land tog maar dieselfde bly, al is hy besig om te verander.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.