Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ander kant
Frans Cronjé: Cyril kan ware prentjie net op telbord sien . . .

Dit is die ironieë wat Suid-Afrika so fassinerend maak. Wat gebeur ná drie maande se ophef oor die beleid van beslaglegging op eiendom sonder vergoeding om ongeregtighede ongedaan te maak en die waardigheid van swart mense te herstel?

Frans Cronjé

Swart inwoners van Protea Glen in Soweto ontwaak om te vind dat grondbesetters plakkershutte om hul woonbuurt probeer oprig. Die verontruste inwoners vorm ’n krisiskomitee, versper paaie met klippe en ander afval en sê dat hulle nooit plakkery op hul drumpel sal toelaat nie omdat dit eiendomsregte sal skaad en tot ’n toename in misdaad sal lei.

Die polisie word ingestuur om die indringers te verdryf, hulle skiet hulle met rubberkoeëls, en nie ’n geluid word van die pro-grondonteieningsaktiviste gehoor nie.

Terwyl die Protea Glen-inwoners geveg het om hul eiendomsregte te beveilig, het AfriForum in Amerika getoer om oor die gevare van die regering se dreigemente oor onteiening sonder vergoeding te praat.

Die Uniegebou was skynbaar bekommerd genoeg om te twiet dat AfriForum huis toe moet kom om te onderhandel, en daar is gesê dat hulle beleggersvertroue in die land ondermyn.

Dit het my herinner aan ’n kabinets-minister wat Helen Suzman daarvan beskuldig het dat sy vrae gevra het net om Suid-Afrika oorsee in die verleentheid te stel. Haar antwoord daarop was: “Dit is nie my vrae wat Suid-Afrika in die verleentheid stel nie – dit is jul antwoorde daarop.”

Ek is bevrees dat dit al hoe meer die geval vir pres. Cyril Ramaphosa en sy regering is.

Verlede week is Ramaphosa in die parlement gevra hoe die gronddebat beleidsekerheid raak, waarop hy geantwoord het: “Die gesante sal die beleggingswêreld verseker dat Suid-Afrika oop is vir sake en dat beleidsamehang en -stabiliteit meer verskans raak in Suid-Afrika . . . beleggers ontvang hierdie boodskap baie duidelik.”

Dit is miskien wat hulle vir Ramaphosa en sy gesante te kenne gee, maar dit is nie wat ons in ons werk sien en ervaar nie.

Die gaping tussen hierdie werklikheid en die verklarings en beleide van die regering nader ’n punt waar die regering begin klink soos Allister Coetzee toe hy die Springbokke afgerig het.

Heimlik en in algehele vertroulikheid vra die meeste van die vernaamste beleggers met wie ons te doen kry of Ramaphosa en sy regering ernstig is oor onteiening en of hulle besef dat dit Suid-Afrika onmoontlik maak om in te belê.

Ons raad aan die regerende party om te verstaan wat die sake- en beleggingsgemeenskap werklik van hulle dink, was nog altyd om nie ’n woord te glo wat dié gemeenskap sê nie, maar om eerder na die ekonomiese groeikoers en werkloosheidskoers te kyk – en dit met dié van ander opkomende markte te vergelyk.

Ons ekonomie sal hierdie jaar met minder as 2% groei, terwyl daar verwag word dat opkomende markte gemiddeld teen 4,9% sal groei. Ons werkloosheidskoers is amptelik 26%, terwyl opkomende mark-norme onder 10% is.

Die gaping tussen hierdie werklikheid en die verklarings en beleide van die regering nader ’n punt waar die regering begin klink soos Allister Coetzee toe hy die Springbokke afgerig het. Daar was altyd ’n plan, ons het altyd ’n goeie wedstryd gespeel, dinge was altyd op die punt om te verbeter – behalwe dat die telbord ná elke kragmeting ’n ander verhaal vertel het. Maak nie saak of jy ’n land regeer of rugby speel nie – dis die telbord wat saak maak.

Sedert Desember verlede jaar is die polities korrekte ding om te sê dat die regering ’n plan het en dat alles beter sal gaan.

Maar ek is nie oortuig nie, en ek dink as jy by die waarheid wil uitkom, sal jy dit meer waarskynlik vind deur na die inwoners van Protea Glen of – durf iemand dit sê – na AfriForum te luister.

  • Dr. Frans Cronjé is direkteur van die Instituut vir Rasseverhoudinge

Meer oor:  Vergoeding  |  Beslaglegging  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.