Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Dankie, Zindzi, nou weet ons waar ons staan

Is Zindzi Mandela, die dogter van Nelson Mandela en Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, nie wonderlik nie?

Ek dink sy is selfs meer wonderlik as haar kollega, en ons toenmalige ambassadeur in Venezuela, wat verlede jaar by ’n amptelike geleentheid ter viering van die lewe van Nelson Mandela gesê het dat Suid-Afrika se leër gereed staan om die Verenigde State van Amerika aan te val.

Ons het uiteindelik in ambassadeur Mandela ’n regeringsverteenwoordiger wat nie lieg nie. Sy het bondig, eerlik en met waagmoed die sosiale media aangewend om vir Suid-Afrikaners en die wêreld te sê dat die regering blankes haat, dat hy hulle as diewe en misdadigers beskou, en dat hy van plan is om hul beleggings en bates af te neem.

Ek kan nie verstaan waarom enigiemand haar sou wou stilmaak nie. Wil u nie die waarheid weet nie? Verkies mense werklik dat die regering liewer vir hulle lieg?

Waarom glo iemand nog, wanneer die bewys tot die teendeel so oorweldigend is, een woord omtrent die nuwe dagbreek, of ekonomiese hervorming, of die regering se verbintenis tot nierassigheid?

Ambassadeur Mandela behoort aangemoedig te word om verder te praat sodat ons kan weet wat die regering nog in die mou voer.

Want slegs as jy verstaan waarmee jy te kampe sal hê, kan jy dit moontlik oorkom.

Ek sou dit verwelkom as sy op enige rostrum van die Instituut vir Rasseverhoudinge kom praat – en rig ’n uitnodiging aan haar om haar by ons volgende wêreldtoer aan te sluit wanneer ons buitelandse beleggers oor die vooruitsigte vir die land sal inlig.

Bankiers en fondsbestuurders van New York tot Londen sou haar insigte baie waardevol vind. Die boere met wie ek oor die lengte en breedte van ons land praat, sou haar bedank dat sy hulle op hoogte gebring het. Bekommerde gesinne sou dankbaar wees teenoor haar vir die verduideliking van presies hoe ernstig die bedreigings is wat hul kinders in die gesig staar.

Die realiteit is dat indien ’n mens in ’n toekomstige Suid-Afrika wil oorleef, jy moet weet wat aangaan sodat jy kan verstaan waarteen ons almal te staan sal kom. Want slegs as jy verstaan waarmee jy te kampe sal hê, kan jy dit moontlik oorkom.

Dit is gevaarlik om jouself, met die bewyse voor oë, te oortuig dat alles sal regkom. Dit is hoe ’n mens jou welvaart, jou toekoms en selfs jou lewe verloor.

Ruk jou reg, want al die sagaardige gerusstellings is ’n feëverhaal, en ambassadeur Mandela het party van die harde waarhede vir u uitgelig. Hier is nog ’n paar: Die regering gaan voort met wette en beleid om u van u bates, van eiendom tot pensioen, te ontneem. Die kabinet word deur kommuniste en rasnasionaliste oorheers. Die ANC is desperaat, want hy gaan ten gronde terwyl die ekonomie verder versleg; daarom is hy nou op sy gevaarlikste.

Maar niks hiervan beteken dat ons die saak gewonne moet gee – of in wanhoop moet verval nie. Dit is nou die tyd om op te staan en toereikende georganiseerde weerstand te ontwikkel om die komende aanslag te weerstaan en die oorhand te kry.

Die meeste Suid-Afrikaners, swart en wit, is gematigde, konserwatiewe, hardwerkende, gesinsgerigte, godvresende en wetsgehoorsame mense. Ambassadeur Mandela verteenwoordig nie vir jou en my en 80% van ons landgenote nie. Die grootste onvervulde uitdaging van die Suid-Afrikaanse politiek is om gematigde konserwatiewe mense, swart en wit, te verenig. As dit kan gebeur, kan ons die kommuniste, die ras-nasionaliste en die korrupte politici die loef afsteek en beheer oor ons land terugneem om ’n wonderlike toekoms te bou.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.