Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Discovery se versuim is meer as net rassisme

Ná ’n aankondiging dat swart deponeerders gratis aandele in sy nuwe bank sou ontvang, terwyl wit deponeerders dit nie sou kry nie, is die Discovery-groep van rassisme beskuldig – maar sy werklike versuim is ernstiger as dit.

Ter verdediging het Discovery gesê die aandeleskema is bedoel om benadeelde mense te bemagtig. My kollega Sara Gon het egter verlede week die punt geopper dat “(Discovery) nie die omstandighede van sy swart kliënte in aanmerking neem nie. Geen oorweging sal daaraan geskenk word of ’n kliënt benadeel is nie; die enigste oorweging sal wees of die kliënt swart is of nie.”

Dit bly in ’n groot mate die probleem met bemagtigingsbeleid in die algemeen.

Die probleem word die beste geïllustreer met verwysing na universiteitsonderrig, wat ’n baie goeie omswaai-aanduider vir werklike benadeling is. Net 5% van Suid-Afrikaners het ’n universiteitsgraad, en driekwart van mense met universiteitsopleiding in Suid-Afrika word in die arbeidsmark geabsorbeer, in teenstelling met minder as die helfte van mense sonder sodanige opleiding.

In 2015 het 126 000 swart mense vir hul eerste jaar van universiteitsonderrig ingeskryf teenoor 24 772 wit mense – ’n verhouding van omtrent 5:1. Dit is ’n heel ander prentjie as 30 jaar gelede toe dieselfde verhouding 1:3 was. Op graadterreine soos sake, bestuur, finansies en inligtingstegnologie lewer ons universiteite vyf keer soveel swart as wit gegradueerdes.

Indien hulle goed ingelig is, sal Discovery se ondersteuners hier inspring om te sê dat 53% van wit mense van ouderdom 20-24 by hoëronderwysinstellings ingeskryf is teenoor 16% van swart mense om te bewys dat swart Suid-Afrikaners oor die algemeen baie minder vooruitsigte in Suid-Afrika het as wat die geval met wit mense is.

In die algemeen ja – maar is die deursnee van toepassing op ’n swart rekeningkunde-gegradueerde wat dieselfde graad as sy wit klasmaat het?

Ondersteuners van rasgegronde bemagtigingsbeleide sal ja antwoord – dat swart gegradueerdes wat van ’n arm agtergrond kom minder voordele as wit gegradueerdes het. Maar dit is slegs waar vir diegene wat werklik van benadeelde agtergronde kom (soos my kollega vir Discovery verduidelik het) en dit word al hoe minder waar noudat die kinders van die eerste generasie van die swart middelklas hul weg deur die skool en tot by universiteitstudie vind. Dit is ook verkeerd om te aanvaar dat alle wit gegradueerdes uit ryk gesinne kom.

Dan sal die ondersteuners van rasgeskoeide bemagtiging sê dat net deur swart te wees, selfs indien jy goed gekwalifiseerd is en ’n gerieflike lewe lei, jy benadeel is weens institusionele rassisme in ons samelewing. Maar in ’n land waar die helfte van jong mense nie ’n werk het nie en minder as 10% ’n goeie matriekslaagsyfer sal kry, is daar baie wat immoreel en afkeurenswaardig is omtrent middelklasmense wat kla oor hoe hulle benadeel is en word.

Dit is in ’n groot mate die probleem met Discovery se beleid – dat dit ten beste voorgee om die ongelykhede in ons samelewing te probeer beredder, terwyl in die praktyk min gedoen word om hierdie ongelykhede te verlig. Op sy ergste kaap Discovery die historiese onderdrukking van swart mense as ’n bemarkingsveldtog sonder om die lot van die miljoene wat nog onder die nagevolge van dié onderdrukking ly, te verlig. Vir ’n organisasie wat so vernuwend soos Discovery is, is dit sy ernstigste tekortkoming.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.