Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Gewone mense se siening oor ras bring hoop

Is wat jy op sosiale media lees ’n akkurate weergawe van Suid-Afrika? Dra meningsvormers en politici ’n redelike beoordeling oor hoe Suid-Afrikaners oor mekaar voel?

Dit is ’n baie belangrike vraag, want skewe persepsies oor ras- en klasgrense kan rampspoedige implikasies vir die stabiliteit van ons land hê.

As ’n mens oor die afgelope weke na Twitter se twiets en sekere meningsvormers geluister het, sal jy sweer ons is nie meer as ’n dag ver van ’n rasseoorlog nie.

“Swart mense” is na bewering woedend oor die afwesigheid van algehele rassetransformasie en sal die wit mense in die see jaag as hulle nie vinniger transformeer nie.

“Wit mense” verset hulle glo teen verandering, dink swart mense is ape, en verlang terug na apartheid in die hoop dat hulle ’n nuwe land sonder swart mense kan bou.

Daar word geskryf dat wit mense almal rassiste is en nie belang stel in ’n inklusiewe gemeenskap waar almal ’n kans op ’n middelklas-lewenstyl het nie.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het pas sulke eise getoets in ’n nasionaal verteenwoordigende meningsopname van populêre standpunte oor die mees omstrede beleidsonderwerpe in die land – ras, rassetransformasie, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en grondhervorming. Die peiling wou – weg van die politieke bohaai en retoriek – vasstel wat gewone Suid-Afrikaners werklik dink.

Die volledige resultate van die ondersoek sal later in 2016 as ’n verslag gepubliseer word. Ek het egter reeds die voorlopige resultate ontvang en dit skets ’n verhaal wat ons almal met hoop vir die toekoms sal vervul.

Die sleutelbevinding is dat die politici en rasaktiviste grotendeels uit voeling is. Swart mense is nie desperaat om die wit mense terug te jaag Europa toe nie. Wit mense is nie griefgedrewe en onwillig om ’n beter land te help bou nie. Heeltemal die teenoorgestelde is trouens waar.

Die meeste swart mense het geantwoord dat hulle glad nie saamstem dat wit mense “soos tweedeklas-burgers” gesien of behandel moet word nie. Die meeste wit mense het geantwoord dit maak glad nie saak watter ras hul kinders se onderwysers is nie. Die groot meerderheid van alle Suid-Afrikaners wil hê dat aanstellings, kontrakte en tenders, selfs Springbokrugbytruie, op grond van meriete – en nie ras nie – toegeken moet word.

Dit beteken nie dat Suid-Afrikaners onverskillig staan oor die behoefte aan beleide wat minderbevoorregtes bemagtig nie. Die meeste van selfs wit mense stem trouens saam dat dit nodig is om spesiale maatreëls te tref om agtergeblewe mense te help om ekonomiese sukses te behaal.

Op ons vraag wat die grootste probleme is wat mense raak, was die eenparige antwoord die ekonomie en misdaad. Inderdaad het 74% van swart mense werkloosheid en misdaad gesamentlik genoem as ons land se grootste probleme, in vergelyking met 72% van wit mense. Rassisme was laag onderaan die lys.

Die bemoedigendste bevinding van almal was dat 85% van swart mense en 86% van wit mense “saamstem” of “sterk saamstem” dat verskillende rassegroepe mekaar nodig het om suksesvol te wees en dat daar geen toekoms vir die een groep sonder ’n toekoms vir die ander is nie.

Oor die laaste paar weke is ’n ander (en soos ons navorsing wys, verkeerde) indruk geskep. ’n Groep meningsvormers en politici het ’n poging aangewend om ons teen mekaar op te stook – en het selfs in ’n mate al daarin geslaag. Wanneer ons ondersoek later vanjaar gepubliseer word, moet dit aangewend word om sulke retoriek van verdeeldheid teen te werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.