Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Implikasies van onteiening nie volledig besef

Een van die onbeantwoorde vrae oor onteiening sonder vergoeding is wat van jou verband sal word indien die regering op jou eiendom beslag lê.

Nedbank het hom verlede week ’n mate van moeilikheid op die hals gehaal toe die bank ’n kliënt ingelig het dat hy steeds sy verband sou moes afbetaal – selfs as die staat op dié eiendom beslag sou lê.

Ek het die saak met Nedbank bespreek, wat verduidelik het om kliënte te dwing om hul verbandpaaiemente vol te hou selfs nadat hul eiendomme onteien is, was “ ’n ongelukkige misverstand van die Nedbank-posisie oor grondhervorming”.

Toe ek egter aandring om te weet wat die bank sou doen indien eiendomme onder verband onteien sou word, was Nedbank net bereid om te sê: “Die parlementêre proses moet nog gefinaliseer word en Nedbank sal op die uitslag van die grondwetlike hersieningskomitee wag.”

Maar verbande kan nie net verdamp nie en indien banke nie die verliese van hul kliënte goedmaak nie, is dit aandeelhouers wat sal moet opdok. In die lig van die feit dat bankblootstelling aan lenings op plaasgrond meer as R100 miljard beloop, is die implikasies aansienlik.

Die posisie van banke kan egter nog meer sorgwekkend wees: Ek is ingelig dat ’n verteenwoordiger van Business Leadership South Africa (BLSA), die liggaam wat Suid-Afrika se grootste sakeondernemings verteenwoordig, verlede week op ’n konferensie van ’n Sandton-regsfirma die mening uitgespreek het dat BLSA onder sekere omstandighede onteiening sonder vergoeding “heelhartig ondersteun”.

Ek verstaan dat die volgende gesê is: “Ons het volle begrip vir die behoefte aan grondhervorming en ons ondersteun onteiening sonder vergoeding as ’n modaliteit van daardie grondhervorming.”

En: “Waar dit nie grondgrype is nie, maar op ’n geval-per-geval-grondslag plaasvind, waar dit ekonomies gesond is, en waar dit nie voedselsekerheid beïnvloed nie, gooi ons ons gewig heelhartig agter onteiening sonder vergoeding in en ondersteun ons dit.”

Ná navraag het BLSA my ingelig hulle “glo dat die Grondwet nie aangepas behoort te word nie” en dat “die mislukking van grondhervorming nie as gevolg van die Grondwet is nie”. BLSA het egter bygevoeg, wat my ontleders ’n geruime tyd al waarsku die waarheid is, “dat die (huidige) Grondwet toelaat dat die staat eiendom kan onteien, en dat die frase ‘regverdig en billik’ in sekere omstandighede op geen vergoeding kan neerkom”.

Selfs indien die Grondwet onteiening sonder vergoeding toelaat, beteken dit egter nie dat dit onteiening sonder vergoeding vereis of dat sodanige onteiening ooit ’n goeie idee sou wees nie – om nie eens daarvan te praat dat enige sakegroep die idee “heelhartig (sou) ondersteun” nie.

Die dwaasheid in ons media oor die vraag van onteiening val my ook steeds op. Dit lyk asof baie van die groot mediahuise en die mense wat vir hulle skryf die idee ondersteun sonder dat hulle ’n benul het van die risiko’s waaraan hulle hulself blootstel.

My vriend Anthony Kim by The Heritage Foundation in Washington publiseer ’n jaarlikse indeks van ekonomiese vryheid in die wêreld – waarvan een van die sleutelaspekte eiendomsreg is. Vroeër vanjaar het Kim geskryf dat “daar ’n duidelike verband tussen ekonomiese vryheid en persvryheid is. Lande met groter ekonomiese vryheid het die neiging om ’n groter mate van persvryheid te geniet”.

Anders gestel: Lande wat nie eiendomsreg respekteer nie, is ook geneig om joernaliste te folter en toe te sluit.

Dit is ’n tendens waaroor die media en georganiseerde sake gerus kan besin.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.