Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Met Mugabe-lof wys ANC hy is inherent boos

My kollega John Kane-Berman het die afgelope week opgemerk dat “Cyril Ramaphosa vroeër hierdie maand ’n betoog aan die nasie gerig het waarin hy gesê het dat ‘ons land diep getraumatiseer is deur dade van uiterste geweld wat deur mans teenoor vroue en kinders gepleeg is’.

“Net die volgende dag,” skryf Kane-Berman, “het pres. Ramaphosa ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy Robert Mugabe loof, wie se regering sy land getraumatiseer het, die lewensbestaan van mense verwoes het en dade van uiterste geweld en misdadigheid teen sy eie landsburgers gepleeg het.”

Volgens Ramaphosa was Mugabe ’n “groot held” en “vryheidsvegter en kam­p­vegter vir Afrika”. Ramaphosa se kollega Ace Magashule het verder gegaan en die oorlede president van Zimbabwe gehuldig omdat “hy sy lewe gewy het in diens van sy land en sy mense”. Die EFF het Mugabe verheerlik as ’n Afrika-held wie se voorbeeld Suid-Afrika moet probeer navolg.

Selfs die DA het teleurgestel deur Mugabe te beskryf as ’n leier wat sy land bevry het, maar toe die pad byster geraak het.

In der waarheid was Mugabe ’n monster. Hy was regstreeks verantwoordelik vir die moord op minstens 20 000 van sy eie mense en het miljoene ander geterroriseer en laat vergaan van die honger.

’n Gunstelingtaktiek van sy ondersteuners was om die neus en lippe van politieke opponente af te sny – en soms is hierdie dele gekook en die slagoffers gedwing om dit te eet. Ek sou meer oor die marteling en sadisme kon skryf, maar dit is Sondag en party van u het nog nie ontbyt gehad nie.

Sy nalatenskap is ’n land sonder ’n funksionele geldeenheid met ’n werkloosheidskoers van miskien 80%. Omtrent die helfte van Zimbabwiërs sal teen vroeg volgende jaar voedselhulp nodig hê. Dit is net die goedheid, besorgdheid en vrygewigheid van Westerse belastingbetalers wat verhoed dat baie Zimbabwiërs van honger omkom.

Dit is verkeerd om te dink dat omdat Afrika se leiers Mugabe se nalatenskap verheerlik, Afrika se mense dit ook doen.

Dit is vir die Westerse liberale ingesteldheid onmoontlik om Afrika-leiers se bewondering vir Mugabe te deurgrond weens die wreedheid en redeloosheid daarvan. Dit onthul die kulturele en intellektuele golf wat steeds die kontinent se leiers skei van die waardes en kulturele norme van die liberaal-demokrasieë van Europa en Amerika.

Met die skryf van hierdie artikel was ek egter dankbaar om deur my kollega Marius Roodt daaraan herinner te word dat swart Zimbabwiese studente in een van sy klasse op universiteit vir Floyd Shivambu (die onderleier van die EFF), wat ’n student in die betrokke klas was, uitgetrap het elke keer dat Shivambu Zimbabwe en sy regering lof toegeswaai het.

Maar dit is verkeerd om te dink dat omdat Afrika se leiers Mugabe se nalatenskap verheerlik, Afrika se mense dit ook doen. Ons sien dikwels in meningspeilings dat, in teenstelling met die rassisme en dreigemente van geweld en onteiening wat deur die ANC en die EFF aan wit mense gerig word, die meerderheid van Suid-Afrika se mense gematigde en sinvolle menings huldig en dat hulle – ondanks hul leiers – oor ras- en klasgrense heen ’n groot mate van respek teenoor mekaar handhaaf.

Hoewel ek al lank my twyfel oor Rama­phosa en sy regering met die lesers van hierdie rubriek deel, dink ek dat hulle onlangse kommentaar oor Mugabe op ’n manier ’n veiligheidskeerpunt weergee.

Dit is sekerlik nou vir selfs die grootmoedigste en redelikste waarnemers duidelik dat die ANC ’n inherent bose organisasie is en dat dit die plig van alle ordentlike Suid-Afrikaners is om alles in hul vermoë te doen om hom van sy mag te ontneem.

  • Frans Cronjé is hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge.
Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.