Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: ‘Rassisme-stryd’ misbruik teen kapitalisme

Ek het twee weke gelede in hierdie rubriek geskryf dat die Instituut vir Rasseaangeleenthede se eie meningspeilings toon dat ekstremistiese menings en rassisme – soos wat die afgelope tyd die media oorheers – deur ’n relatief klein groepie sowel swart as wit Suid-Afrikaners gehuldig word. Die oorgrote meerderheid swart en wit Suid-Afrikaners respekteer mekaar en wil graag saamwerk om ’n meer voorspoedige land te bou.

As dit die geval is, waarom word die indruk geskep dat spanning kookpunt bereik het? Wie het dié indruk geskep en wie baat daarby?

Een verduideliking is dat die ANC bang is vir die naderende plaaslike regeringsverkiesing. Ons voorspel dat die ANC se steunvlakke tot onder 60% sal daal. Steun vir die EFF sal byna verdubbel, terwyl die DA beperkte groei sal ervaar. Die ANC wil dus nie hê dat die verkiesing oor die werklike toestand in die land – die ekonomie, voedselpryse, misdaad, korrupsie of werkloosheid (om nie van hul eie president te praat nie) – moet gaan nie en hulle probeer desperaat om die klem met die verkiesing op iets anders te plaas, naamlik ras.

Ek is nie heeltemal oortuig nie. Die ANC het bang geraak vir betogings en verdelings in die gemeenskap omdat dit so vinnig téén die ANC self draai.

#RhodesMustFall het vinnig #ZumaMustFall geword, die studentebetogings het teen-ANC-platforms en volmag vir teen-ANC-gevegte geword. Party van die visekanseliers is – blykbaar – nou van mening dat die betogings nie meer deur studente gedryf word nie, maar deur linksgesinde aktiviste wat die ANC wil destabiliseer. Selfs die minister van hoër onderwys (wat ook dien as leier van die kommunistiese party), een van die groot aanhitsers van “revolusie” in Suid-Afrika, ondersteun nou veiligheidsmagte op kampusse. Pres. Jacob Zuma het ook gou verklaar dat rasseverhoudinge eintlik goed is.

Daar is dus iets anders aan die gang. Ek dink die “stryd teen rassisme” word deur linkse aktiviste gebruik as ’n gevolmagtigde oorlog om kapitalisme te beveg. Linksgesinde aktiviste in die media en burgerlike gemeenskap probeer die debat oor rasseverhoudinge uit alle verband ruk. Hulle streef aktief daarna om mense te verdeel en spanning aan te blaas en om Suid-Afrikaners sodoende te oortuig dat die land op die drumpel van ’n ontploffing van rassehaat staan. Om so ’n ontploffing te voorkom, skryf hulle die nasionalisering van rykdom, die einde van eiendomsregte en afstanddoening van ’n markekonomie voor – met ander woorde, ’n aanval op die grondbeginsels van elke kapitalistiese ekonomie.

In ’n klaarblyklike poging tot “virtuele terrorisme” probeer hulle vrees gebruik om Suid-Afrikaners sover te kry om hul onbesonne ekonomiese beleide te ondersteun.

Die linksgesindes is ook desperaat omdat hulle vermoed – tereg, na my mening – dat sleutelleiers van die ANC, waaronder die sogenaamde “ANC-premierliga”, sowel sosiaal as ekonomies na regs begin draai. Hierdie nuwe ANC-leierskap is bang vir die fiskale tekort en die politieke gevolge van lae ekonomiese groei en hoë werkloosheid. Hulle het ook linksgesinde aktiviste en organisasies (wat hulle as “hiper-linkses” beskryf) geïdentifiseer as die nuwe “derde mag” agter toenemende destabilisering en verdeling van die land. Die linkses vrees dat wanneer dié nuwe leierskap vir Zuma ontsetel, hulle weer geïsoleer sal wees, soos in die Mbeki-jare.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.