Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: SA steun Zim op afdraande pad

Steve Hanke van die Cato-instituut in ­Washington het geraam dat Zimbabwe se inflasiekoers in November 2008 die spits van 89 700 000 000 000 000 000 000% (89 sekstiljoen persent) bereik het. Dit is ’n syfer wat alles verduidelik oor die beleide wat oor die afgelope anderhalf dekade in Zimbabwe beoefen is.

Bloomberg bereken dat Zimbabwe se aandeel aan die bruto binnelandse produk (BBP) van Suider-Afrika sedert die begin van sy “grondhervormingsprogram” gehalveer is.

Die huidige lopenderekeningtekort (die verskil tussen uitvoer en invoer) het van ’n klein surplus in 2000 (wat beteken dat Zimbabwe meer uitgevoer het as wat hy ingevoer het) teen 2011 tot ’n verstommende -20% van BBP verander.

In ’n land soos Zimbabwe is dit moeilik om dinge soos werkloosheid te meet. Vakbonde en die politieke opposisie het egter die werkloosheidskoers op tussen 70% en 90% gestel. Amptelike data is te onbetroubaar om sekerheid te verskaf, maar dui daarop dat ’n groot persentasie mense by kleinboer-landbou betrokke is en dat baie van hierdie mense nie ’n inkomste verdien uit die werk wat hulle doen nie.

Suid-Afrika se regering en die regerende party het Zimbabwe se verderflike beleidsrigtings van die begin af ondersteun.

Baie Suid-Afrikaanse aktiviste en 'openbare intellektuele' het meegedoen aan die ondersteuning van Zimbabwe se vernietigende beleid.

Kort nadat die groot grondbesettings begin het, het Suid-Afrika se toenmalige minister van grondsake in Augustus 2000 soos volg aan haar provinsiale ampsgenote geskryf:

“Na aanleiding van my onlangse besoek aan Zimbabwe is ek bly om te kan sê dat ek hul ondersteuning en hulp kon verkry om die realiteite van die implementering van die boerehervestiging te begryp.”

In Oktober 2002 het die destydse minister van buitelandse sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die media daarvan beskuldig dat hulle “bevooroordeeld” en “baie negatief” oor die gebeure in Zimbabwe was. Sy het later aan Zimbabwe se staats­televisiediens gesê dit sou “onrevolusionêr” wees om die grondroof te kritiseer.

In Desember 2002 het die man wat nou die president is, Emmerson Mnangagwa, die ANC op Stellenbosch toegespreek, en Business Day het berig dat daar ’n “luidrugtige gejuig” van afgevaardigdes was toe Mnangagwa sê dat 11 miljoen hektaar grond deur die Zimbabwiese regering “verkry” is.

In April 2004 is Robert Mugabe staande toegejuig by die inhuldiging van pres. Thabo Mbeki, en Reuters het berig die skare het op die grasperk van die Uniegebou “gejuig en geskree” toe Mugabe se gesig op die groot skerm verskyn het.

Selfs nadat die werklikheid van ekonomiese katastrofe gevestig was, het Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, laat in 2011 aan Mugabe se Zanu-PF-party in Bulawayo gesê dit is “belangrik dat Zanu-PF voortgaan om die aspirasies van die mense van Zimbabwe te verteenwoordig”.

Die hele tyd is ondersteuners van die opposisie geterroriseer.

Die hele tyd is ondersteuners van die opposisie geterroriseer, die media en die regbank se onafhanklikheid verwater en regsoewereiniteit vernietig.

Baie Suid-Afrikaanse aktiviste en “openbare intellektuele” het meegedoen aan die ondersteuning van Zimbabwe se vernietigende beleid. Hulle het uitgevaar oor die maatskaplike geregtigheid en regstelling, bemagtiging, waardigheid en onafhanklikheid wat in Zimbabwe sou plaasvind.

Maar wat Zimbabwe se mense in werklikheid gekry het, was pateties. Die land se eiers en tamaties – en kontantgeld – het opgeraak. Die regering het voorgestel dat ouers skoolgeld met bokke betaal.

Maar die katastrofe ten spyt, verkondig van dieselfde aktiviste tot vandag toe van dieselfde vernietigende beleidsrigtings vir ons land.

Die totaal patetiese situasie is akkuraat opgesom deur ’n jong man op die Uniegebou-grasperk by Mbeki se 2004-inhuldiging. Toe hy gevra is wat hy van Mugabe dink, het hy geantwoord: “Wat die mense van Afrika betref, is hy ’n held. Hy het so baie gedoen om ons te bevry.”

  • Dr. Frans Cronjé is hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.
Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.