Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Sewe leuens oor die DA se verandering

Die onmiskenbare leuens, misleidende inligting en nuusmanipulasie van die hoofstroom-media het rekordvlakke bereik in reaksie op die leierskapsveranderinge in die DA. Dink net daaraan hoe u mislei is.

Die eerste leuen was dat daar ’n “uittog” van swart leiers uit die DA was. Daar was nie. Altesaam vyf DA-leiers het uit die party bedank, van wie twee swart was. Van hierdie twee was Mmusi Maimane een en hy is gevra om te bedank in ’n verslag wat hy self aangevra het!

Die tweede leuen was dat swart mense net vir ’n swart DA-leier sal stem. Die data toon dat dit nie waar is nie. Die skerpste toename in swart steun vir die DA in ’n nasionale verkiesing was tussen 2004 en 2009 toe Helen Zille die party gelei het. Die tempo van toename in hierdie ondersteuning het afgeneem nadat Maimane die leier geword het.

Sou die joernaliste wat dit geskryf het slegs vir iemand van hul eie velkleur stem? En indien nie, waarom dink hulle dan dat alle swart mense anders is?

Die derde leuen was dat die DA Suid-Afrika terug wil lei na apartheid. Hierdie leuen is gevestig in ’n koerantspotprent van Maimane wat die DA verlaat met die nuwe Suid-Afrikaanse vlag wat oor sy skouer gedrapeer is om ’n nuwe DA-embleem in die kleure van die ou Suid-Afrikaanse vlag te toon.

Die DA en sy voorgangers het apartheid van begin tot einde beveg. Om hulle nou daarvan te beskuldig dat hulle dit aanvaar, is suiwer propaganda.

Die vierde leuen was dat Maimane baie gewild was en dat die DA ’n reusefout begaan het deur hom te laat gaan. Ek het van Maimane gehou, maar ek is bevrees dat hy nie so gewild was nie. Peilings het byvoorbeeld gewys dat hy die enigste partyleier was wat nie as “baie gewild” beskou is deur ’n meerderheid van sy eie party se ondersteuners nie.

Die vyfde leuen was dat die DA nou Johannesburg en Pretoria aan die ANC sal “afstaan”. Hy het nooit Johannesburg en Pretoria gewen nie. In die munisipale verkiesing van 2016 het hy 38,4% van die stemme in Johannesburg gekry in vergelyking met 44,5% vir die ANC. In Pretoria het hy effens beter gevaar met 43,2% in vergelyking met die ANC se 41,3% – maar dit is nog steeds nie ’n meerderheid nie.

Die sesde leuen was dat die DA nie swart leiers wil hê nie. Enigiemand wat dit skryf, toon ’n totale wanbegrip van die ingesteldhede van baie DA-leiers. Die teenoorgestelde is waar en ’n mens kan die party redelikerwys daaroor kritiseer dat hy oorywerig is met sy bevordering van jong swart leiers.

Die sewende leuen was dat die Instituut vir Rasseverhoudinge (my werkgewer) ’n staatsgreep binne die DA uitgevoer en die party oorgeneem het. Dit is vleiend om te suggereer dat ons soveel mag het en ek sou graag krediet daarvoor wou aanvaar, maar dit is ongelukkig nie die waarheid nie.

Sedert vroeg vanjaar het ons reeds vir kliënte begin sê dat die DA dalk verby ’n keerpunt beweeg het en dat ’n nuwe politieke opsie dalk nodig was om Suid-Afrika te red.

Toe Helen Zille, wat maande tevore kragtens ’n eenjaarkontrak by ons aangesluit het, my inlig dat sy om die federale leierspos sou meeding, was ek baie verbaas, maar het haar voorspoed toegewens – en was toe selfs meer verbaas dat sy gewen het.

Ek hoop dat sy en die DA suksesvol sal wees – maar of die party ’n volhoubare instelling is, is iets wat nog bewys sal moet word.

Meer oor:  Frans Cronje  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.