Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Stry saam met IRV teen dié veragtelike idee

Die afgelope paar weke was die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) in die middel van ’n politieke storm.

’n Kollega van my het per abuis ’n kettingreaksie in die Demokratiese Alliansie (DA) ontketen deur sy mening openbaar te maak oor die leierstryd in die party. Die DA se reaksie was vurig en die debat wat steeds woed, wys min tekens van afkoel. Dat die IRV onbepland so ’n reaksie uit een van die land se groot politieke partye kon ontlok, wys die waarde, mag en belangrikheid van Suid-Afrika se burgerlike samelewing.

Hierdie sektor, waarvan die IRV die oudste deelnemer is, het stelselmatig ontstaan in reaksie op ’n eeu se regeringsmislukkings. Dat Suid-Afrika een van die magtigste en aktiefste sektore van hierdie aard het, wys net die skaal van dié mislukkings.

Dit is belangrik om te besef dat die huidige era van krisis op krisis nie ’n onbekende milieu is nie – nie vir Suid-Afrika of die res van die wêreld nie. Die brandpuntprobleme in ons land is deel van die eeuelange stryd van vryheid versus oorheersende staatsmag. Die nuutste front wat geopen is in hierdie stryd sny verbasend diep tot die kern van die konflik: pre­scribed assets, oftewel voorgeskrewe bates.

In hierdie misleidend vervelige terme skuil die kreatuur van oorheersende staatsmag. Hoekom? Want dit beteken eenvoudig dat die staat jou spaargeld kan bestee sonder jou goedkeuring of insette.

Die rede vir die staat se aptyt om juis dit te kan doen, is gesetel in die realiteit dat ontelbare regeringsmislukkings, ’n stotterende ekonomie, krimpende belastinginkomste en kapitaaluitvloei ons fiskus basies leeg laat. Met die gevaar van ’n dreigende kredietafgradering wat kan volg op Moody’s se graderingsbesluit aan die begin van November, is die onwelkome realiteit dat nie eens verdere geldleenplanne deur die regering sal kan sorg vir ’n mate van kontantvloei in die staat nie.

In dollarsyfers is Suid-Afrika se pensioenpot onder die toptien grootstes ter wêreld. Dit verduidelik die versoeking vir die staat om hierdie geld eenvoudig te benut met leë beloftes van belegging. Maar as die regering hul beleid verander om Regulasie 28 se bestek en impak uit te brei, wat sal met jou spaargeld gebeur?

Dit sal waarskynlik verdwyn in die finansiële swartgat van Eskom en die hoeveelste SAUK-reddingsboei. Die kommerwekkende realiteit is dat die staat reeds misluk daarin om jou belastinggeld behoorlik te bestee en daar is geen rede om te dink dat wanneer dit by jou spaargeld kom, hulle enigsins meer bevoeg gaan optree nie.

Die afgelope paar weke was die IRV – soos die Engelse sê – the bee in the bonnet van die opposisie. Met jou bystand kan ons ’n swerm wees in die presidentskantoor. Ons kon deur strategies geteikende druk uit te oefen reeds ’n paar oorwinnings behaal om fondsbestuurders af te skrik van die onnoselheid van samewerking met die regering se ontkiemende planne vir die implementering van voorgeskrewe bates.

Voorgeskrewe bates is ’n veragtelike plan wat onberekenbare vernietigende gevolge gaan hê.

Ons by die IRV is al 90 jaar lank aktief in die stryd om idees en ons spog met die trofees van vele soortgelyke veragtelike idees van regerings wat gesneuwel het weens ons agitasie daarteen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.