Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Vergelykings met Piet Retief is nie onvanpas

Ek het vroeër die week opdrag aan die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se prokureurs gegee om voorbereidings te tref om die prosedureel foutiewe werk van die parlement se konstitusionele hersieningskomitee onder regterlike hersiening te neem. Die komitee het Donderdag aanbeveel dat die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding (OSV) toe te laat – nasionalisering met ’n ander naam. So ’n wysiging sal rampspoedige ekonomiese, maatskaplike en politieke gevolge vir alle Suid-Afrikaners hê.

Meer as 720 000 skriftelike voorleggings is aan die komitee gestuur, waarvan omtrent 80% teen OSV gekant is. Die komitee het versuim om hierdie opmerkings te oorweeg en het waarskynlik sy OSV-aanbeveling gedoen sonder dat hy na 99,9% van hierdie kommentaar gekyk het. Die komitee is egter konstitusioneel verplig om te luister na en ag te slaan op wat Suid-Afrikaners oor die OSV-aangeleentheid gesê het. Maar die regering was nooit opreg met sy oproep tot openbare deelname nie en ek het dit op goeie gesag dat die ANC hom tot ’n konstitusionele wysiging verbind het voor die eerste skriftelike en mondelinge voorleggings ontvang is.

Diegene wat gedink het dat hulle met die ANC sou kon onderhandel, ’n gemeenskaplike terrein sou kon vind en ’n konstitusionele wysiging sou kon voorkom, was naïef. Die regering het hulle eenvoudig op ’n dwaalspoor gelei met versekerings terwyl hulle teen hulle aan die saamsweer was. Vergelykings met Piet Retief se lot in 1838, waar hy en sy geselskap te midde van onderhandelings vir ’n grondgebiedsverdrag met Dingaan op sy bevel doodgeslaan is, is nie onvanpas nie.

Moet ook nie so naïef wees om te dink dat dit eenvoudig ’n grondhervormingsmaatreël is wat deur openbare druk op die regering afgedwing is en dat niks daarvan sal kom nie. Dit gaan nie oor swart boere nie, want die regering is bang vir die idee van ’n klas van swart grondeienaars. Daar is bitter min openbare druk, met meningspeilings wat toon dat 90% van Suid Afrikaners gekant is teen onteiening en dat minder as 10% van landelike mense glo grondhervorming moet ’n topbeleidsprioriteit vir die regering wees.

Dit gaan oor ’n rassenasionalistiese opsweping in die strewe na ’n langtermyndoelstelling van die ondermyning van die grondwetlike orde. Die ANC is verdeeld en indien jy ’n verdeelde politieke beweging wil verenig, het jy ’n gemeenskaplike vyand nodig – en die boer op sy plaas het daardie vyand geword. Erken dus wat die meeste regdenkende mense reeds weet, maar min durf om te sê, dat die dreigement van die “terugneem van die grond” ’n beleefde manier is om te sê: “Ons sal wit mense straf vir swart armoede.”

Maar dit is nie net rasseminderhede, boere en die middelklas wat die risiko loop nie. In elke vrye samelewing word burgerregte deur eiendomsregte veranker, en wanneer die regering eers ’n mandaat het om eiendomsregte af te takel, sal dit gou genoeg ook burgerregte verwater om die ANC teen ’n toekomstige verkiesingsnederlaag te verskans – presies soos Zanu-PF in Zimbabwe gedoen het.

Ek kan u verseker dat die IRV hierdie situasie met elke hulpbron tot ons beskikking sal beveg – soos ons al heeljaar doen. Die grondwetlike bestel sal slegs oorleef indien die meerderheid hardwerkende, ordentlike en gematigde Suid Afrikaners – swart en wit – saamstaan en genoeg ekonomiese en openbare druk skep om die regering te dwing om toe te gee.

Daar is geen ander strategiese opsie nie en indien dit nie vir die druk was wat ons (en ander) hierdie jaar, hier en in die buiteland, geskep het nie, sou die ANC baie vinniger beweeg het en kon die eerste boere dalk reeds hul grond, en daarmee saam ons toekoms, verloor het.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.