Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Vestig swart boere só met groot sukses

Indien die regering werklik swart kommersiële boere sou wou vestig, sou hulle soos volg te werk gaan.

My kollegas wat aandag gee aan landbou- en grondhervorming het ’n aantal berekenings omtrent veeboerdery gedoen.

Ons reken dat weidingsgrond van baie goeie gehalte in die mark is teen R10 000 per hektaar. Om ’n puik 1 000 hektaar-plaas vir ’n jong opkomende boer te koop, sou dus R10 miljoen kos. Ons bereken verder dat dit nog R4 miljoen sou kos om 200 dragtige koeie vir dié plaas aan te skaf. ’n Verdere R2,5 miljoen sou dan bestee kon word om die opkomende boer van ’n nuwe Land Cruiser-bakkie, ’n trekker, wa en implemente te voorsien. Hy sou dan R3,5 miljoen kontant as bedryfskapitaal kon ontvang.

Die hele belegging sou op R20 miljoen te staan kom en sou ’n skuldvrye kommersiële boer daarstel wat ’n positiewe kontantvloei van omtrent R1 miljoen per jaar kon voortbring met meer as voldoende aanvullende sekuriteit om nog grond te koop en sy boerdery-onderneming uit te brei. Dit is tog stellig die ideaal waarna die voorstanders van en kampvegters vir grondhervorming en landboutransformasie in Suid-Afrika behoort te streef?

Maar regeringsbeleid is om op die grond van suksesvolle produsente beslag te lê en dit te verhuur aan opkomende produsente wat geen aanvullende sekuriteit en geen kapitaal het nie. Die rede hiervoor volgens die regering is dat “die gewillige koper, gewillige verkoper-model misluk het”, deels omdat daar nie genoeg geld is om dit te laat werk nie.

Ons kan bewys dat dit onsin is.

My kollegas het die voorbeeld van die SAL geneem wat verlede jaar finansiële reddingshulp van R10 miljard van die regering ontvang het en pas ’n verdere R5 miljard gevra het. Gegrond op ons berekenings hierbo, kon dié bedrag, indien dit aan grondhervorming bestee is, slegs oor die afgelope twee jaar 750 suksesvolle nuwe swart kommersiële boere gevestig het. As in ag geneem word dat daar net 30 000 kommersiële boere in die land is, is dit nie ’n onaansienlike syfer nie. My kollegas skat verder ’n 10%-besnoeiing in die regering se salarisrekening sou ’n geraamde 3 000 nuwe swart kommersiële boere per jaar kan finansier.

Maar die regering sal hierdie jaar minder as 1% van sy begroting aan die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming bestee. Besteding aan grondherverdeling om nuwe swart kommersiële boere te vestig is skaars hoër as die regering se uitgawe aan BBP-beskerming van politici – ’n vergelyking wat beter as enige ander aandui hoe min die regering werklik vir die vestiging van swart boere omgee. Gewillige koper, gewillige verkoper kan nie as onsuksesvol beskou word indien daar geen koper is nie.

Elkeen van die boere wat volgens ons model gevestig sou word, sou baie goed in staat wees om hul ondernemings deur hul eie kollaterale sekuriteit en kontantvloei te laat groei. Hierdie opkomende swart boere sou heel waarskynlik in ’n baie sterker finansiële posisie as die meeste wit boere wees.

Ons model is eenvoudig, onomwonde en kostedoeltreffend en kan binne weke in bedryf gestel word. Maar dit werk slegs indien eiendomsregte gerespekteer word en die landbousektor as ’n markekonomie bestuur word.

Hierdie model is nie die beleid van die regering nie weens ideologie met betrekking tot die staatsbeheer van eiendom, haat teenoor wit boere en ’n vrees vir die politieke mag wat deur ’n nuwe klas werklik suksesvolle swart landelike eiendomsbesitters uitgeoefen sou word. Voordat dit verander, sal Suid-Afrika nie veel by wyse van geslaagde grondhervorming sien nie.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.