Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Waansin in land het nou ook die opposisie beet

Ons bly in ’n waansinnige land.

Die 100ste herdenking van die Russiese Revolusie is verlede maand gevier. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het ’n uitnodiging gerig om by hulle aan te sluit om “die groot sosialistiese Oktober-revolusie te gedenk”. Dit was die revolusie wat tot die dood van meer as 100 miljoen mense onder kommunistiese regeringstelsels oor die wêreld heen gelei het.

Die uitnodiging het van dieselfde SAKP gekom wat so hard gewerk het om tien jaar gelede pres. Jacob Zuma aan die bewind te stel in wat hulle beloof het nog ’n groot revolusie sou wees.

Die uitnodiging het verder gegaan deur te sê dat die herdenking “deel van die voortgesette stryd teen kapitalistiese brutaliteit” is – terwyl die geskiedenis toon dat almal wat kon, van die kommunisme na die kapitalistiese wêreld gevlug het.

In ’n verdere ironiese kinkel was die spreker die sekretaris-generaal van die regerende party – dieselfde regerende party wat nou glo so desperaat is om meer beleggings na Suid-Afrika te lok.

Die grootste ironie was dat die byeenkoms by die Hoërskool Desmond Tutu gehou sou word – terwyl kommunistiese stelsels oor die wêreld heen so hard probeer het om godsdiensvryheid te onderdruk.

Ek het na ’n onderhoud op ’n radiostasie geluister waarin Roodt uitgebeeld is as ’n rassis wie se raad geïgnoreer behoort te word.

Net so mal was die aanval wat teen Dawie Roodt geslinger is omdat hy gesê het Suid-Afrikaners behoort finansieel verskans te wees (deur welvaart na die buiteland te verskuif) ingeval die politieke situasie in die land verder sou versleg.

Ek het na ’n onderhoud op ’n radiostasie geluister waarin Roodt uitgebeeld is as ’n rassis wie se raad geïgnoreer behoort te word. Die aanbieder het trots gesê hy het Roodt nie genooi om homself te verdedig nie omdat hy nie ’n platform aan rassiste wou bied nie.

Ek praat gereeld op byeenkomste van sake- en ander leiers en het al gehoor hoe vele ontleders en ekonome leuens aan die gehoor vertel oor die ware toestand waarin die land verkeer.

Roodt is een van diegene wat die waarheid praat; hy behoort verdedig te word.

Dan was daar die Swart Maandag-opmarse deur boere wat geprotesteer het teen die gewelddadige aanvalle waaraan hulle onderwerp word. Baie joernaliste was krities teenoor die boere, met bewerings dat hulle Suid-Afrikaners verdeel en rassespanning aanstook – en selfs dat dit boere se verdiende loon is om aangeval te word. Verlede jaar is 70 boere vermoor.

Ek wonder wat die reaksie sou wees as 70 joernaliste in die uitvoer van hul pligte vermoor sou word? Sou die geweld as onbelangrik afgemaak word met die bewering dat dit joernaliste se eie skuld was?

Ons het ’n paar dae ná die Swart Maandag-betogings ’n antwoord gekry toe taxi-bestuurders die hoofweë in Gauteng tot stilstand gedwing het uit protes teen die minister van vervoer. In een insident is ’n joernalis aangerand en sy kamera gesteel. Die media was tereg hoogs verontwaardig, wat die dubbele standaarde in ons samelewing duidelik te voorskyn geroep het.

Die waansin in die lug is skynbaar aansteeklik en het selfs na die politieke opposisie versprei. Die DA staan nou op rekord dat hy die rassenasionalistiese indiensnemingsbeleid van die regerende party ondersteun. En tog toon ons eie meningspeilings dat Suid-Afrikaners eerder wil sien dat aanstellings op meriete geskied.

Ons land se bemagtigingsbeleid behoort te verander om te fokus op die armoede en nie die ras van begunstigdes nie. Dit is teleurstellend dat die amptelike opposisie nie hierdie uitgangspunt bevorder nie. Dit is onheilspellend dat hy bereid is om die foute van die regerende party te herhaal.

Meer oor:  Frans Cronjé  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.