Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frans Cronjé: Winter kom vir universiteite ná die revolusie

Toe die Noord-Afrikaanse en Midde-Oosterse opstande in Desember 2010 in Tunisië begin het, is dit aanvanklik baie naïef vertolk.

Regeringsontleders in die VSA het dit byvoorbeeld as die opkoms van ’n nuwe golf van demokrasie geïnterpreteer. Ek kan ’n gesprek met een van hierdie ontleders onthou wat verduidelik het hoe sy “mense in die Midde-Oosterse streek [sou gaan] leer hoe om te stem”.

Die Westerse media het by dieselfde storie ingekoop en só het die term “Arabiese Lente” ontstaan.

Dit het my dus opgeval toe ’n Israelse ontleder die term “Arabiese Winter” gebruik het. Die Israeli’s het die dieper dinamika en magsewewig van die Midde-Ooste baie beter as hul Amerikaanse eweknieë verstaan en hul meer siniese beoordeling het meer akkuraat geblyk te wees. Baie gou het die “lente” in ’n nagmerrie ontaard. Wrede regeringstelsels is in vele lande (behalwe Tunisië self) versterk en die Islamitiese Staat het ’n mag in die Midde-Oosterse politiek geword.

Dit is belangrik dat hierdie verhaal verstaan word wanneer ’n mens kom by die interpretasie van die relatief baie kleiner revolusie wat Suid-Afrikaanse universiteitskampusse die afgelope jaar beleef het. Akademici, joernaliste, kommentators en politici het, met min uitsonderings, die betogings verwelkom as voorloper tot ’n nuwe era van akademiese ­vryheid in die land. Sommiges het emosio­neel genoeg geraak om te skryf dat die studenteopstand ’n belangriker stap in die rigting van vryheid was as die Soweto-opstand van 1976. Omdat my ontlederkollegas die dieper aard van die beweging op die kampusse en ook die aard van die regering beter verstaan het, was ons nie oortuig nie.

Ons het selfs gesuggereer dat die verwydering van die Cecil John Rhodes-standbeeld van die Universiteit van Kaapstad se kampus ’n reeks gebeure aan die gang kon sit wat daartoe sou lei dat die instelling ’n tweederangse universiteit – soortgelyk aan die “boskolleges” van die apartheidstaat – kon word.

Ek was dus verlede week getref toe ­ek ’n artikel lees waar Tony Leon prof. ­Jonathan Jansen aanhaal. Hiervolgens glo Jansen dat daar binne ’n dekade nie meer ’n enkele internasionaal gerekende universiteit in Suid-Afrika sal wees indien huidige tendense in hoër onderwys voortduur nie. ’n Paar dae later het Jansen sy bedanking as rektor van die Universiteit van die Vrystaat aangekondig.

Ek vrees hy is reg.

Studente is opgesweep om hul kampusse op horings te neem. Universiteite is opsetlik as elitistiese, wit-beheerde instellings voorgestel wat “hervorm” moes word. Dit was alles onsin, want teen 2015 was 82,5% van ingeskrewe studente aan universiteite swart.

Maar vir die rasbehepte kommentators was die feite irrelevant; hulle het aangedring op radikale veranderings.

Die regering het op sy beurt aan boord gekom en verlede week wetgewing deurgevoer wat die staat sal toelaat om beheer oor enige universiteit oor te neem.

Terselfdertyd weet ons uit begrotingsprojeksies dat die staat nie die geld het om universiteite behoorlik te finansier nie. Gevolglik sal universiteite van al hoe meer van hul topakademici moet ontslae raak terwyl die regering die mag sal hê om die leierskorps van enige universiteit te ondermyn wat die regerende party durf uitdaag.

Die slagoffers sal in baie gevalle dieselfde akademici wees wat deel geword het van die protesbeweging en die aandrang op radikale transformasie ondersteun het. In plaas van ’n nuwe era van akademiese vryheid, sal die studenterevo­lusie waarskynlik lei tot ’n verlies aan akademiese vryheid en dalende standaarde op universiteitskampusse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.