Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Franse beding sjampanje só onder ons uit
Emile Joubert

Dit is die reuk van rubber, buiteboord-enjins en sout wat die opening van die kreef-seisoen aan die Kaap aandui. En elke jaar raak dit doller soos duikers en bootvissers die see bestorm om hul hande op ’n paar krewe te kry. Dit malheid word gesnap deur enige waardeerder van hierdie kreatuur se duiselingwekkende vermoë om van ’n pers-bruin en krioelende see-gogga tot ’n bedeesde skelrooi porsie seekos te verander.

Om die kreef-waansin meer woema te gee en te sorg dat volgroeide mans die openingsdag van die kreefseisoen afwag met dieselfde gefladder van die maag wat geskep word deur die bekendstelling van ’n nuwe model Toyota-4x4 en die jongste Deon Meyer-riller, word gesorg dat die seisoen vir toelaatbare kreefvangste, wel, nie veel van ’n seisoen is nie. Die huidige kreeftyd het op 28 November begin en duur tot 3 April volgende jaar. Maar wag, daar’s meer . . . in dié periode mag daar slegs op 12 gespesifiseerde dae jag gemaak word op kreef se kind.

Dit was nie altyd so nie en Kaapse kreef (Jasus lalandii) was wel seker minder bedreig in die verlede. Self onthou ek kindsbeen-besoeke aan die Kaapse hawe waar mense sakke gekookte kreefpote – groot, dik en vol vleis – by die visfabriek kon koop vir ’n kwart-rand.

Maar dat kreef altyd gesog en begeerlik aan die Kaap was wat mettertyd tot sy skaarsheid gelei het is ’n feit. Trouens, in sy MA-verhandeling “Die geskiedenis van die vissery aan die Kaap tot aan die middel van die agtiende eeu” (1938) skryf C.F.J. Muller dat Jan van Riebeeck ses maande ná sy aankoms in die Kaap besoek van die plaaslike bevolking ontvang het. Kuiergaste wat vir hom “eenige schoone grootte creeften” – vertaal as “een moerse kreef” – aangedra het.

Frankryk moes kies tussen kreef van die Kaap en die uniekheid van sy eie “Champagne” en volkstrots maak dat die kaarte vir laasgenoemde reg val.

Dus, as kreef reeds sedert September 1652 beskou is as ’n gesogte en indrukwekkende geskenk om ’n Hollandse kolonialis mee te imponeer, dan kom hierdie lekkerny se verdienstelikheid nie van nou die dag af nie.

Vat ook die invloed wat Kaapse kreef op die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gehad het. Die Franse, ’n nasie van smulpape wat weet dat Kaapse kreef die beste van sy soort ter wêreld is, het in 1929 ons seekos gebruik om sy eie sjampanjebedryf te beskerm.

Daardie jare het die Franse vragte kreef van die Kaap ingevoer. Maar daar was ook tekens dat die wynboere van Stellenbosch, Constantia en die Paarl besig was om vonkelwyn te botteleer as “Champagne”, genoem na die befaamde landstreek oos van Parys.

Frankryk moes kies tussen kreef van die Kaap en die uniekheid van sy eie “Champagne” en volkstrots maak dat die kaarte vir laasgenoemde reg val. Die invoer van kreef uit die Kaap na Frankryk sou voortgesit word, mits die plaaslike wynboere gedwing word om nie “Champagne” op hul wynetikette te gebruik nie.

Hierdie wet geld vandag nog. En noem hom maar wat jy wil, die vonkelwynproppe kan skiet noudat daar ’n vars kreef in die omtrek is. En die Kaap bly Hollands.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Kreef  |  Franse  |  Champagne  |  Vonkelwyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.