Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frederik van Dyk: Prof. Jansen en Engels as valse redder

Die Stellenbosse taalstryd het nou die “guerrillafase” betree.

Een van die goed wat daartoe aanleiding gegee het, is die Lesufi-agtige houding en optrede van prof. Jonathan Jansen, wat groot openbare verontwaardiging ontlok het toe hy ’n Afrikaanse winkelassistent en (voormalige) bewonderaar in Stellenbosch met oneerbare stereotipering en sarkasme geboelie het – en toe boonop daaroor gespog het.

Ek glo dat die taalstryd deur die lens van regstellende dekolonialisme beskou moet word.

Anders as materiële vermoëns, is taal ’n onkwantifiseerbare openbare eienskap van ons bestaan en kan nie gekommodifiseer word nie. Ek of jy kan nie meer “taal” as ’n ander koop nie.

Die afdwing van hul taal was ’n belangrike manier waarop kolonialiste materiële voordele vir hulself toegeëien het deur uitbuiting van die gekoloniseerde. Die mensdom gebruik hierdie proses al vir duisende jare: die Romeine koloniseer die ganse Europa en verdring mense en hul tale met Latyn. Die Spanjaarde koloniseer Suid-Amerika en dit word ‘Latyns’-Amerika: van inheemse tale daar is min tot niks oor nie.

In Suid-Afrika het een koloniale taal, Nederlands, omvorm en ver-inheems tot Afrikaans. ’n Ander, Engels, is nog grootliks dieselfde weens volgehoue Engelse wêreldoorheersing. Tog is daar verskeie Suid-Afrikaanse gemeenskappe wat die taal as moedertaal dra.

Die probleem lê in die strukturele wanverhouding en ongelykheid van Engels teenoor ander tale.

Omtrent ’n halfeeu gelede het die nasies van die wêreld ná afloop van ’n verwoestende oorlog teen fascisme besluit om ’n totaal nuwe staatkundige rigting in te slaan. Die Internasionale Verdrag oor Maatskaplike, Ekonomiese en Kulturele Regte, saam met die Universele Verklaring van Menseregte, het die weg gebaan vir ’n nuwe toekoms waar geen nasionale, etniese of taalgroep as meerderwaardig beskou sal word nie. Dit het dus die rassisme en meerderwaardigheid wat met kolonialisme saamloop, verwerp.

Maar ten spyte hiervan is kolonialisme nie ’n ding wat end kry wanneer die bevryde gekoloniseerde staat sy vlag hys en die Union Jack opgevou word nie.

Kolonialiteit bly oor. Daardie subtiele voortbestaan van die koloniseerder se taal, gebruike en norme in die sielkunde van die gekoloniseerde. Sosioloë noem dit “kulturele verleentheid” – ’n minderwaardigheidsgevoel om byvoorbeeld swart te wees of om Afrikaans te praat.

In Suid-Afrika sien jy dit in die manier waarop Engelsheid oorneem tot die mate dat die verarmde gepeupel na Engels kyk as ’n valse redder vanuit armoede. ’n Mens hoor dit dikwels: “Ek sal net suksesvol kan wees as ek kan Engels praat.”

Die sosiale verknogtheid aan Engels is nie opsigself verkeerd nie. Die probleem lê in die strukturele wanverhouding en ongelykheid van Engels teenoor ander tale. Engels is die olifant in die vertrek wat die res van ons nie plek gee nie.

Ons kan kies: Gaan ons terug na die harde wêreld van voor die Universele Menseregte-verbond, waar die sterkste haan op die grootste mishoop vir almal anders dikteer? Of gaan ons eerder kreatief omgaan met taalgelykheid?

Ons moet ’n streep in die sand trek en taalgelykheid as die openbare beleid aanvaar. Dit herlei na daardie sielkundige verlossing wat dekoloniale skrywers soos Steve Biko en Frantz Fanon beoog het: Die gekoloniseerdes wat hul eie waardigheid terugvat deur gesonde grense vir die kolonialis se waardes, gebruike en taal te stel.

* Frederik van Dyk is ’n regstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.