Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Frustrasie lei tot xenofobie
Alida Kok
Alida Kok

Die onrus in Gauteng wys waarom die ANC se weergawe van swart nasionalisme net so skadelik – of selfs meer vernietigend – kan wees as die nasionalisme wat van die middel tot die laat 20ste eeu posgevat het.

’n Nasionale veiligheidskrisis broei in die vorm van ’n vlaag van geweld in sentrale sakegebiede en informele nedersettings in Gauteng.

Dit kom nadat die polisie in Augustus ’n klopjag in die Johannesburgse middestad uitgevoer het om onwettige handel te bekamp en vervalste goedere te konfiskeer. Veral die informele ondernemings van Afrikane van buite ons grense het in die slag gebly. Dit het daartoe gelei dat buitelanders die polisie bestorm en met klippe bestook het en die polisie moes onttrek om lewensverlies te vermy.

Ná die klopjag is sewe polisiebeamptes in hegtenis geneem omdat hulle die vervalste goedere wat hulle van onwettige handelaars afgeneem het, aan handelaars probeer terugverkoop het. Hulle het glo ook vooraf inligting oor die klopjag aan onwettige handelaars uitgelap.

Hierdie voorvalle het ’n sneller geword vir ’n toename in geweld en misdadigheid waarin veral buitelanders se winkels oorval en geplunder word.

Hierna het dieselfde geweld in Pretoria se middestad uitgebreek. Hierdie voorvalle het ’n sneller geword vir ’n toename in geweld en misdadigheid waarin veral buitelanders se winkels oorval en geplunder word.

Suid-Afrikaanse sakebelange in Lagos en elders is uit weerwraak aangeval; die kans op nog sulke aanvalle op die res van die vasteland is hoog; ’n vriendskaplike sokkerwedstryd tussen Zambië en Bafana Bafana is gekanselleer; die Zambiese regering het ons regering gemaan om xenofobiese aanvalle stop te sit; en die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi en Rwanda het onttrek aan die Wêreld- Ekonomiese Forum se Afrika-beraad in Kaapstad.

Die departement van internasio-nale betrekkinge en samewerking ontken dat die onttrekking van die drie Afrikastate aan die “Davos-in-Kaapstad”-beraad iets met die xenofobiese aanvalle te make het.

Hierdie verloop van gebeure toon hoe weerloos Afrikane in Suid-Afrika is: Hierdie mense word nie net maklike slagoffers van korrupte staatsamptenare nie, maar is ook die slaansak van ’n mislukte swart nasionalistiese projek wat in ’n kleptokrasie ontaard het.

Hoewel nasionalisme altyd met ’n element van misdadigheid gepaardgaan, juis omdat ’n eksklusiewe groep mense met sekere etniese eienskappe se mag en toegang tot hulpbronne nie deur opponente uitgedaag kan word nie, is dit belangrik om oor die verhouding tussen nasionalisme en misdadigheid in ons huidige konteks te besin.

Die nasionalistiese projek wat die ANC-regering probeer instel, fokus in wese op grootskaalse swart ekonomiese bemagtiging en die transformasie van ons samelewing. Ons word gereeld daaraan herinner dat daar ’n koste aan transformasie verbonde is en dat ons winsgewendheid en welvaart vir ’n tydperk moet prysgee sodat die geheel van ons samelewing op die ou end uit kollektiewe welvaart kan voordeel trek.

Dié projek is veronderstel om ’n groep mense se welvaart te bewerkstellig – swart Suid-Afrikaners – maar dit misluk algeheel hierin. Mense word gemobiliseer volgens etnisiteit en identiteit en ’n behoefte word onder mense geskep, maar nie daarin voorsien nie.

Om etnisiteit en identiteit só te gebruik en dan net frustrasie onder mense te skep, is sekerlik ’n gevaarliker en onstabieler vorm van nasionalisme, want die nasionalistiese projek se sogenaamde uitverkore groep mense gaan iemand soek om vir hul teleurstellings en frustrasies te blameer.

Die geweld teen weerlose buitelanders is sprekend hiervan.

Meer oor:  Nasionalisme  |  Xenofobie  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.