Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
De Klerk het reg in Malema se hande gespeel

Julius Malema is ’n baie meer uitgeslape politikus as wat baie mense vermoed. En oudpres. FW de Klerk het met sy uitlatings oor apartheid reg in Malema se hande gespeel, skryf Pieter Labuschagne.

Julius Malema, leier van die EFF, in aksie tydens die staatsrede. Foto: Gallo Images

Die wanorde in die parlement tydens die staatsrede en die lae etiese vlakke daarna in die repliek, het heelparty vrae in die gemoed van gematigde Suid-Afrikaners gelaat.

Die rede vir die wanorde is gedeeltelik in die EFF se enigmatiese leier, Julius Malema, se persoonlikheid en strategiese denke geleë.

As ’n mens Malema se gedrag, verklarings, standpunte en uitlatings ontleed, is dit duidelik dat hy nie ’n gesofistikeerde politieke wetenskaplike is nie. Daarvan getuig sy verbale brutaliteit, sy skynbare onvermoë om ingewikkelde sosio-ekonomiese sake behoorlik te begryp en sy uitlokkende uitlatings.

Maar maak geen fout nie. Malema mag dalk nie ’n gesofistikeerde politieke wetenskaplike wees nie, maar hy verstaan die wese, toepassing en manipulering van politiek. Hy openbaar nie ’n beredeneerde rasionele aanslag nie, maar is by uitstek ’n politikus in die voorste loopgraaf. Hy begryp beter as baie baadjie-en-das-politici hoe om politiek tot sy eie en die EFF se voordeel te manipuleer. In baie opsigte is hy die denke en strategie van ander opposisie-partye vooruit, omdat hy die kern van politiek verstaan.

Ten einde Malema te verstaan, kan na die literatuur van politieke wetenskap en selfs sport gekyk word.

Elke staat benodig ’n vyand

Julius Malema spreek verslaggewers toe nadat hy en sy EFF-parlementslede uitgestap het voordat pres. Cyril Ramaphosa sy staatsrede gelewer het. Foto: Gallo Images

Een van my kollegas by Unisa wat internasionale politiek doseer het, het gereeld in referate die frase “elke staat benodig ’n vyand” gebruik. Dit beteken dat elke staat ’n vyand nodig het om sy inwoners in ’n gefokusde stryd te verenig.

Robert Mugabe, eertydse president van Zimbabwe, het ná onafhanklikheid voortdurend vyande uitgewys om die uiteenlopende groepe in sy land saam te bind. Die vyande was gewoonlik die koloniseerder, Brittanje, en Westerse lande.

Die haat teen die “vyand” word dan die kleed waaronder hy die verval in sy eie land kon verbloem.

Een van die vele omskrywings van politiek as ’n konsep wat in dié geval toepaslik is, is dat “politiek die stelselmatige organisering van haat is”.

Dié siening van politiek het Adolf Hitler voor die Tweede Wêreldoorlog soos ’n handskoen gepas. Hy het Duitsland verenig deur deurentyd die vyande van sy volk uit te wys. Op dié wyse het hy ook legitimiteit aan die volksmoord op die Jode gegee.

Oudpres. FW de Klerk tydens die staatsrede toe die EFF gevra het dat hy die parlementsgebou verlaat. Foto: Gallo Images

Malema is natuurlik ’n meesterlike strateeg wanneer dit kom by die uitwys van vyande – wit mense, mense van Indiese afkoms, die groot grondbesitters en groot maatskappye.

Malema skroom ook nie om 360° te swaai as dit hom pas nie. Hy was eens bereid om vir oudpres. Jacob Zuma te sterf voordat hy tot die ander uiterste beweeg het.

Op die oomblik is die groot vyand in sy visier natuurlik Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings), maar môre kan dit dalk weer iemand anders wees . . .

Met die staatsrede het ’n gulde geleentheid feitlik in sy skoot geval. Vir ’n deurwinterde politikus het De Klerk met verstommende naïwiteit reg in Malema se hande gespeel met sy uitlating in ’n gewraakte onderhoud oor apartheid as ’n misdaad teen die mensdom.

Ek dink Malema kon sy geluk nie glo nie. Hy kon toe sy aanvalle op Gordhan met aanvalle op De Klerk afwissel.

Sport en die gemeenskaplike vyand

Nou wat nou? John McEnroe bevraagteken die beslissing van ’n skeidsregter in sy speeldae. Foto: Getty Images

In sport bestaan daar heelparty voorbeelde hoe ’n vyand “geskep” word. In die 1980’s het ’n Israeliese sportwetenskaplike vertel hoedat hy voorsien het dat hul basketbalspan deur ’n vyandiggesinde skare in ’n wegwedstryd uitgejou sal word.

Hy het bloot ’n opname gemaak van ’n vorige wedstryd se uitjouery en dit kliphard vir sy span tydens sy oefeninge gespeel. Hoe meer die skare gedurende die wedstryd sy spelers uitgejou het, hoe beter het hulle gespeel.

Steve Ovett, die Britse atleet wat in 1980 ’n Olimpiese goue medalje in die 800 m gewen het, is ook ’n voorbeeld hiervan.

Die konsoliderende waarde van ’n 'vyand' is ’n alledaagse verskynsel en nie noodwendig negatief nie.

Ovett, wat verskeie wêreldrekords in die 1 500 m en die myl opgestel het, het ’n haat-verhouding met die pers gehad. Hy het glad nie onderhoude toegestaan nie en geweier om met die pers te praat. Later in sy loopbaan het Ovett met ’n klerereeks begin en om dit blootstelling te gee, het hy sy vyandigheid teenoor die pers laat vaar omdat hy publisiteit wou gehad het.

Frank Dick, sy hoofafrigter, het voorspel dat dit die einde van sy goeie vertonings gaan wees – wat toe ook die geval was.

John McEnroe is nog ’n voorbeeld in dié verband.

Sy narstreke en uitbarstings op die tennisbaan het heelwat negatiewe reaksie ontlok. Hoe meer die skare hom uitgejou het, hoe beter het hy gespeel, omdat dit hom aangevuur het om nog beter te vaar.

Die konsoliderende waarde van ’n “vyand” in sport en die lewe in die algemeen om mense saam te snoer, is ’n alledaagse verskynsel. Dit is nie noodwendig negatief nie en dit gebeur meestal binne beskaafde perke.

Malema die politikus

EFF-lede ontwrig pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Foto: Gallo Images

Malema en die EFF, wat basies net ’n verlengstuk van die leier met sy uitlokkende styl is, het ’n ideale platform in die mededingende ruimte van die parlement.

Die doel van ’n parlement is om ruimte vir ’n debat met opponerende opvattings te skep. Dit is waarom die banke teenoor mekaar gerangskik is.

Die sukses van debatte in dié ruimte berus (hopelik) tot ’n groot mate op die oortuigingsvermoë van dwingende rasionaliteit.

Malema gebruik ’n ongesofistikeerde strategie om argumente tot hul mees basiese vorm te reduseer.

Dit gebeur dikwels dat rede seëvier – iemand soos Helen Suzman kon met haar politieke intellek en redevoering die Nasionale Party se beleid uitmekaartrek.

Malema besef baie goed dat sy Stalinistiese beleid van staatsbeheer geen rasionele aanslag kan oorleef nie. Hy gebruik gevolglik ’n ongesofistikeerde strategie om argumente tot hul mees basiese vorm te reduseer en dan kru sinne bloot te herhaal. Slagspreuke soos “Pay back the money!” of “De Klerk must go!” word dikwels gebruik.

Die ordelike gestruktureerde parlementêre domein met sy reëls is vir Malema soos manna uit die hemel. Die gesofistikeerde atmosfeer waar met formele hoflikheid na lede verwys word as “agbare lid”, pas die EFF soos ’n handskoen.

Hy kan binne dié domein die parlementêre reëls gebruik om ontwrigtend te wees. Die ergste wat kan gebeur, is vermanings van die speaker en dat hy dalk gevra kan word om die parlement te verlaat, met ’n belaglik ligte straf agterna.

Die onrusbarende aspek

Die onrusbarende aspek is dat Malema se taktiek en swak gedrag in Suid-Afrika beloon word.

Die EFF is die enigste politieke party wat werklik groei toon. In die algemene verkiesing van 2014 kon die EFF net 6,3% van die stemme trek, met sowat een miljoen kiesers wat vir dié party gestem het.

Kan 2 miljoen kiesers in 2021 vir die EFF stem?

In die munisipale verkiesing van 2016 kon die EFF sy steun tot 8,19% opstoot met amper een en ’n half miljoen kiesers wat vir hom gestem het.

In die verkiesing van 2019 het die EFF sy steun tot 10,7% uitgebrei, met 1,8 miljoen kiesers wat hul kruisies agter dié party se naam getrek het.

Dit is nie vergesog om te voorspel dat meer as 2 miljoen kiesers in die munisipale verkiesing van 2021 vir die EFF kan stem nie.

Gulde geleentheid verspeel

’n Gulde geleentheid vir die vorming van ’n breë gematigde alliansie teen radikalisme (lees: die EFF) is tydens die staatsrede verspeel.

Malema en sy volgelinge se swak gedrag het die ANC, DA en ander kleiner partye teen die EFF laat verenig.

Maar De Klerk se uitlating oor apartheid het die geleentheid om só ’n front op ’n vaste grondslag te plaas, laat verdwyn.

En dit is jammer.

*Labuschagne is emeritus-professor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eff  |  Robert Mugabe  |  Julius Malema  |  Pravin Gordhan  |  Fw De Klerk  |  Parlement  |  Apartheid  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.