Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fyn balans tussen wen en verloor

Met al die gevare wat fietsryers deesdae moet trotseer, is dit dalk beter om ’n vorm van dié sportsoort te beoefen waarin jy nie veel hoef te beweeg nie, skryf MC Botha.

Eina! Dis alles ’n kwessie van balans. Foto: MC Botha

Fietsryers moet deesdae op hul hoede wees. Nie net vir die immer groeiende aantal maniakke agter die stuur nie, maar ook vir jagters. Ignoreer hulle en jy kan morsdood geskiet word, soos inderdaad nou die dag in die Franse Alpe gebeur het.

Die ongelukkige fietsryer was besig om by ’n steil bult afgejaag te kom toe ’n lid van ’n jaggeselskap van agter sy roer die beweging aansien as iets vir die pot. Danksy die ooraanbod van fietswedrenne wêreldwyd weet selfs die oningewyde dat bergfietsryers met bekwame spoed deur woude vleg – om een met ’n kamera raak te skiet, is klaar moeilik, om een dus met ’n piepklein koeël te tref soos in dié geval gebeur het, kan net as ’n vloekskoot beskryf word.

Natuurlik is ons in sonnige, skietlustige Suid-Afrika maar te bewus van die gevaar dat daar op ons geskiet kan word – of jy nou êrens op jou fiets rondjaag of snags in jou bed lê en droom. As jy toevallig in die Overstrand woon, moet jy veral versigtig wees as jy op die R43-hoofpad verby Hawston ry. In die onlangse verlede het die jagters daar messe in plaas van vuurwapens gebruik, wat in feite beteken dat jy ’n uitgerekte, stadige dood kan sterf vergeleke met die onmiddellike weergawe waar jy inderdaad te laat besef dat jy dodelik getref is.

Die genoemde pad deur Hawston is berug daarvoor dat hy gereeld gesluit word in onrussituasies, wat verkeersknope tot anderkant Sir Lowryspas tot gevolg kan hê. Vandag is die teeroppervlak vanweë die laaste buitebande wat daar gebrand is steeds op talle plekke beskadig – dit op sigself maak die roete riskant as jou vervoermiddel ’n pedaal-gedrewe tweewieler is.

Om in ’n voertuig te wees, bly maar die veiligste deurgang deur Hawston, hoewel – soos ons al meermale gesien het – kan ook dít lewensgevaarlik wees as die jagter skielik besluit om sy mes vir ’n vuurwapen te verruil.

MC Botha

As jy nou móét fietsry, skryf liefs in vir 2019 se Epic sodat jy die gevaarsone in ’n groep kan verbysnel. Safety in numbers.

Waarskynlik die veiligste vorm van fietsry is ’n Olimpiese sportsoort wat bekendstaan as “Bicycle Sprint Racing”, wat eintlik ’n eufemisme is, aangesien die twee deelnemers so stadig moontlik wegspring. Om die waarheid te sê, hoe minder jy vorentoe beweeg hoe meer bedrewe is jy, en as jy regtig wil wen, moet jy jou op jou fiets balanseer met jou voete steeds op die pedale sonder om hoegenaamd vorentoe te beweeg. Selfs ’n hanswors op ’n eenwielfiets sukkel met dié toertjie.

In fietsrytaal staan hierdie beweginglose toestand as ’n “track stand” bekend, vermoedelik om te differensieer van wat in gimnastiek ’n “hand stand” genoem te word. Asof dit nie moeilik genoeg is om bo-op ’n fiets te wees maar glad nie te beweeg nie, is daar een goue reël waarby jy in ’n “track stand” moet hou om te verhoed dat jy gediskwalifiseer word. En dit is om nie agteruit te beweeg nie, hoewel ’n mens nie altyd seker is in watter rigting die ryer in die eerste plek mik nie.

Vir derduisende toeskouers raak die tweestryd bykans ondraaglik: wie gaan eerste sy balans verloor, om nie te praat van kop verloor nie. Hierdie is toeskouersport op sy spannendste, beter as gholf, tennis, krieket of rugby, waar die blote wip van ’n mislike bal jou opponent onkant kan betrap.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus bly.

Meer oor:  Mc Botha  |  Fietsryers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.