Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fynbos ’n deel van verlede én die toekoms
Martie Retief Meiring het verlede Vrydagaand die gesogte Markus Viljoen-medalje ontvang. Foto: Argief

Toe sien die buffelboer fynbos raak. En ons harte begin klop. In sy staatsrede verwys pres. Cyril Ramaphosa na een van Suid-Afrika se trotsste kenmerke – watter groot natuurlike erfenis-verskeidenheid ons het. Dink hy dalk ook aan die groot verskeidenheid in ons ras- en taalgroepe?

Die president kies ’n ander politieke deuntjie, ’n klein bietjie anders as sy Nuwe Daeraad-verwagting. Fynbos moet brand om te hernieu, is sy boodskap. Hy praat asof ons ganse land nou in ’n fynbosbrand vasgevang is en hierna gaan die nuwe plantjies opstoot en binnekort sing die veld vrolik en geil (nou nie juis daardie woorde nie, maar daardie strekking).

Moontlik weet die president wel dat ’n skrikwekkende brand sy eie eise stel. Daar bly net swart grond en reste van kleinwild oor. Jou vellies word pikswart as jy gaan kyk na afgebrande huise, volkshuisies, skure. Jy luister na die skrik-stories van net gryp en hardloop. Al troos is dat die veld weer sal bloei.

Dalk het die president ’n snaar geraak: Fynbos is deel van die nasionale psige. Die protea is ons nasionale simbool. Tweeduisend jaar gelede al het ons Eerste Mense uit fynbos rate, kosse en boumateriaal gekry. Botaniste sou vind dat 30% van fynbos uniek aan Suid-Afrika is. Die streek sou internasionaal bekend word, navorsers sou uit alle wêrelddele kom.

Die president se fynbos-metafoor het nie juis die politieke kommentators opgewonde gemaak nie.

Rooibostee het bekend gaan raak in verre lande. ’n Russiese immigrant het in 1904 die Ginsburg-geslagte hier kom vestig.

Naby Clanwilliam het hy die bossie wat reeds in die 18de eeu deur Carl Humberg bekend gemaak is, gevind. Tipies Russies, het hy tee daarvan gemaak. Later sou Annatjie Theron in haar kombuis begin eksperimenteer met gesondheid- en skoonheidsmiddels uit fynbos en dit het internasionaal bekend geword onder die naam Annique. Nogal.

En wie van ons moes nie al boegoe-aftreksel verduur vir toebors nie? Boegoe het ook nesgeskop in brandewyn.

Fynbos se bekoring is ook in die taal vasgelê, danksy die Khoi-San-nalatenskap. Kalossies, koekemakranka. Later kom moederkappies, slangbos, pypies, uintjies. Die veld begin behoorlik juig wanneer die gousblomme blommetyd aankondig. Suring word by waterblommetjiekos gevoeg. Eers Bokbaaivygies en dan alle soorte vir uitsuig of konfyt.

Die president se fynbos-metafoor het nie juis die politieke kommentators opgewonde gemaak nie. Hopelik het ander besluitnemers gehoor; die fynbos moet en sal weer bloei.

In ons dorp is daar tans plate pers en pienk petunias, watervreters. Waarom nie fynbos langs die sypaadjies en middelpaaie laat gedy nie? Goed, fynbos laat hom nie knip en snoei soos sierbome nie, maar daardie wilde toegepaktheid van plante, selfs die effens stink reuke van sommige bossies, is ook deel van die plesier. En soos die veldmense sal getuig, bes moontlik ons land se natuurlikste erfenis.

En mag die politiek dan net so eerlik soos fynbos word.

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Verlede  |  Toespraak  |  Fynbos  |  Toekoms  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.