Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan Ace vir Gwede opvolg?

Premier Ace Magashule van die Vrystaat is as sekretaris-generaal van die ANC benoem. Hy word as ’n magtige magsmakelaar in die party beskou, maar sy rol en dié van die Vrystaatse ANC hang van verskeie faktore af, skryf Gert Coetzee.

Ace Magashule (regs) en pres. Jacob Zuma (naaslinks) saam met lyfwagte toe Zuma Bloemfontein vroeër vanjaar besoek het. Magashule was tot op hede as lid van die sogenaamde premiersliga ’n groot ondersteuner van die president. Foto: Dan Xangaza

Magashule is deur die ANC-jeugliga en umKhonto weSizwe se veteranevereniging (MKMVA) as hul kandidaat vir sekretaris-generaal benoem wanneer die pos van Gwede Mantashe einde vanjaar vakant word. Die pos sou Magashule pas. As ’n politieke kommissar en ’n uitgeslape strateeg, nes sy held Jacob Zuma, is hy by uitstek ’n marionettemeester wat die toutjies agter die skerms trek.

Ook in die Vrystaat steun die ANC-jeugliga Magashule om in Augustus vanjaar weer as Vrystaatse ANC-voorsitter herkies te word. Wat sy kans vir aanstelling as nasionale sekretaris-generaal sou verstewig.

Thabo Manyoni

Of kan die kaarte anders val en Magashule as Vrystaatse leier gelig word, noudat Thabo Manyoni, oudburgemeester van Mangaung, kennis gegee het van sy voorneme om eersgenoemde teen te staan?

Keiharde politikus

Dit is net so ondenkbaar dat Magashule, ’n keiharde politikus wat eens alom deur die Vrystaatse ANC verafgood is, onttroon word, as wat dit eens was dat pres. Jacob Zuma as ANC-leier gelig kan word.

Slaag Ramaphosa daarin om ANC-leier te word, hou dit afwentelende implikasies in. Die vraag is of die Vrystaat afstuur op ’n verrassende wending waarin die “Ramaphosa-kamp” eerder as die “Zuma-kamp” se kandidaat as provinsiale partyleier gekroon word.

Nes in die Noord-Kaap waar Zamani Saul, van Ramaphosa-kant, op die provinsiale partykongres op Colesberg in Mei onverwags vir premier Sylvia Lucas, ’n vurige Zuma-meeloper, uit die kussings gelig het.

Nog faktore laat die vermoede ontstaan dat Magashule se pos nie meer so onaantasbaar is nie. Dit sluit in die gemoedskuif op die ANC-beleidskonferensie; die afbrand van die Bloemfonteinse stadsaal; Gupta-bagasie en die sogenaamde premiersliga se beweerde tanende invloed.

Ná die beleidskonferensie by Nasrec vroeër vandeesmaand is dit nie meer ’n uitgemaakte saak dat die Zuma-kamp met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as magspion in die rol van leiers­kandidaat seëvierend uit die nasionale stryd gaan tree nie.

As dit só was, was dit makliker om oor die bydrae van Magashule – en die Vrystaatse ANC – in die leierstryd te bespiegel, asook oor watter poste die “loon” sou wees.

Met die oënskynlik draaiende gety in die ANC, soos wat die besef toeneem dat Dlamini-Zuma nie ’n uitgeknipte president is nie, moet ook Magashule-hulle hul toekomskaarte nou reg speel.

Op die konferensie was die woord juis dat Magashule en die Vrystaatse ANC hulle nog nie tot Dlamini-Zuma as leierskandidaat verbind het nie en plaaslike steun vir Ramaphosa toeneem.

Terwyl die Vrystaatse ANC se Zuma-bewondering die afgelope jaar nie ’n geheim was nie. In die agterkop is dalk nou die besef hoe dit werk in die ANC – met sy hegemoniese patronaatskap en baantjies vir boeties en sussies. Wen jou kandidaat, behou jou mense hul poste, of kom poste na hul kant toe. Verloor jou kandidaat . . .

Raak Ramaphosa se leierskap in Desember ’n werklikheid, hou dit ook vir die Vrystaatse ANC implikasies in.

Dit sal sterk in die gedagtes wees op die provinsiale leierskongres van 10 tot 13 Augustus in Tumahole (oftewel Parys, Magashule se grootworddorp). Hier sal die Vrystaatse ANC – voortydig – sy hand moet begin wys.

Manyoni het vroeër bevestig hy gaan Magashule as Vrystaatse ANC-leier teenstaan.

“Dis belangrik dat die ANC vars moet dink oor die toekoms van die party en met vernuwende inisiatiewe vorendag moet kom,” het hy gesê.

Ace Magashule is ’n besliste nee nee nee, die man sal klaarspeel met wat van ons beweging oor is. Hy sal dit doodmaak
Fikile Mbalula, minister van polisie

Sy antwoord op ’n vraag van Moqhaka News oor sy steun aan Ramaphosa was sinspelend op Zuma en Dlamini-Zuma. “Ons kan nie ’n Bill en Hillary Clinton-situasie in Suid-Afrika hê nie; ons kan nie gesalfdes hê nie. Die ANC kan nie gemonopoliseer word nie,” het hy gesê.

  • Oor Magashule se gewildheid in die Vrystaatse ANC – ook as die uitdeler van lakens – was vroeër nie twyfel nie. Met die Vrystaatse ANC as ’n mikrokosmos van die nasionale ANC, is (of was?) hy die plaaslike Zuma met sy eie vurige ondersteuners.

Dit kom teen die agtergrond daarvan dat hy vir drie termyne as Vrystaatse premier oor die hoof gesien is, al was hy ANC-voorsitter hier.

Ná die magstryd tussen Magashule en Mosiuoa Lekota, eerste Vrystaatse ANC-premier (van 1994 in die Mandela-era), het ook oudpres. Thabo Mbeki vir Magashule twee keer as premier oor die hoof gesien – met as verstekkandidate Winkie Direko in 1999 en toe Beatrice Marshoff in 2004.

Toe Zuma in 2009 vir Maga­shule as premier aanwys, was dit vir hom en sy ondersteuners die vervulling van ’n lank gekoesterde ambisie.

Nou is Magashule in die tweede termyn van sy premierskap wat, buiten deur sy ANC-ondersteuners, as ’n mislukking beskou word, gegewe die Vrystaat se haglike stand.

Sy Kubaanse voorliefde, projek Hlasela (glo vir versnelde dienslewering) en omstredenheid rondom die Vrede-melkplaas – met Gupta-bande – kenmerk sy bewind. Met die Vrystaatse ANC se Gupta-verwantheid as hoofdryfveer.

Mosebenzi Zwane, nou minister van minerale bronne, het as destydse Vrystaatse LUR vir landbou die brief bekragtig wat vir die Guptas landingsregte op die Lugmagbasis Waterkloof bekom het.

#Guptaleaks herbevestig dat die Vrede-suiwelplaas, ook ’n projek van die departement landbou, wel Gupta-suiers het. Geld van die frontprojek is glo gebruik om die Gupta-troue by Sun City te help finansier.

Luidens #Guptaleaks is Magashule se seuns Tshepiso en Thato (soos Zuma se seun Duduzane) op die Gupta-lys van begunstigdes.

Soos teenstand in die ANC teen die Guptas en staatskaping oplaai, sou die Gupta-bande ook teen Ace en sy Vrystaatse meelopers kon begin tel.

Aan eNCA het Magashule hieroor gevra wat verkeerd is daarmee as politici se familielede in die private sektor werk.

“Hoeveel leiers se families werk vir verskillende maatskappye? Hoekom sonder julle hierdie jong seun uit,” wou hy op eNCA se vraag weet.

Manyoni is vanselfsprekend nie onbewus daarvan dat die Gupta-gety ook vir Magashule inhaal nie.

  • Oor die afbrand van die Bloemfonteinse stadsaal het Magashule sover bekend nie ’n woord gerep het nie. Al het dit gebeur onder toesighouerskap van Olly Mlamleli, sy beskermling, wat hy as (mislukte) LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersetting na die pos van burgemeester van Mangaung herontplooi het.
Die binnekant van die stadsaal wat in puin gelê is. Foto: Facebook

Die afwesige Mlamleli kon nie die staking van Samwu-werkers in Mangaung ontlont nie. In ’n nag van drama het hulle in Junie die historiese stadsaal van Bloemfontein laat afbrand.

Dié tragedie is in gematigde Vrystaatse ANC-kringe met weersin begroet.

Ook dit speel in die guns van Manyoni, adjunkvoorsitter van die Vrystaatse ANC, wat ’n vertroueling van Magashule was totdat tweespalt ’n paar jaar gelede tussen hulle ontstaan het, deels weens Manyoni se eie aspirasies.

As Mangaung-burgemeester het Manyoni taamlik visioenêre planne vir die ontwikkeling van die stad bekend gestel, maar min het daarvan gekom voordat hy vir Mlamleli moes plek maak.

Onder sy burgemeesterskap was Bloemfontein nie stakingloos nie, en is onder meer waterskade aan die Glaspaleis aangerig.

Ná 2016 se plaaslike verkiesing het Magashule vir Manyoni na die parlement laat herontplooi, maar laasgenoemde het vanjaar bedank “om die ANC in die Vrystaat te kom versterk”.

Op ’n vraag van Volksblad of hy Magashule gaan teenstaan, het Manyoni gesê: “O, gaan hy ook staan. Ek gaan vir die amp beskikbaar wees en die vraag is wie my gaan teenstaan.”

  • Hy het ook gesê hy gaan nie die Cyril Ramaphosa-faksie, bekend as CR 17, in die Vrystaat lei nie. “Hulle het hul eie leiers en ek ondersteun die groep.”

Die onlangse twiet van Fikile Mbalula, ANC-NUK-lid en minister van polisie, oor Magashule staaf onderstrominge in die party oor die ambisieuse Vrystater.

Mbalula kap die moontlike keuse van Ace as sekretaris-generaal.

Gert Coetzee

“Ace Magashule is ’n besliste nee nee nee, die man sal klaarspeel met wat van ons beweging oor is. Hy sal dit doodmaak,” lui die twiet.

Magashule moet as gunsteling vir heraanstelling in die Vrystaatse ANC-leierspos beskou word. Dalk is hy volgende jaar as sekretaris-generaal van die ANC een van die magtigste mense in die Suid-Afrikaanse politiek.

Maar gegewe die stormagtige nasionale ANC-magstryd is dit “ ’n hoender of die eier eerste”-situasie. Enigiets kan gebeur. Soos Polokwane 2007, Brexit en Trumpgate wys.

Meer oor:  Vrystaat  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.