Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan die DA die tier of bok kies?

Oorlede Sokrates het die Griekse magte van sy tyd, vriend én vyand, as ’n eenman-opposisie met sy skerp woorde gegesel. Hy het homself beskryf as die steekvlieg wat die slapende ou perd met sy skerp angel moes wakker raps.

In die Britse politiek is op ’n kol ook so na Margaret Thatcher as ’n steekvlieg verwys wat haar teenstanders – binne en buite die Konserwatiewe Party – behoorlik geraps het.

Tot so ’n mate dat daar na haar verwys is as “that bloody woman”. Sy was sinoniem met mag.

Charles Moore, haar amptelike biograaf, het haar beskryf as iemand wat ’n absolute obsessie gehad het met politiek. As ’n suksesvolle politieke dier het sy nie gehuiwer om in woeste waters te vaar nie en ook nie gehuiwer om enige tyd die strydbyl teen enigiemand op te neem nie.

Thatcher was ’n werkolis en sy het magtige politici tot raserny gedryf. Thatcher het haar gedra soos ’n moeder wat strykdeur in ’n beneukte bui was.

Laat dit jou dink aan iemand op die plaaslike politieke toneel?

Ja, die naam Helen Zille kom onmiddellik by ’n mens op. Net soos Thatcher dink Zille die planete gaan uit hul bane uitspring as sy nie in beheer is nie.

Wie het ’n (groot) rol gespeel daarin dat Patricia de Lille haar goed gevat het en die DA totsiens gewuif het?

Wie was verantwoordelik dat Lindiwe Mazibuko, eens kroonprinses van die DA, haastig uit die party padgegee het?

Wie het ’n (groot) rol gespeel daarin dat Patricia de Lille haar goed gevat het en die DA totsiens gewuif het?

Wat het Mmusi Maimane laat beweeg om uit die DA te bedank?

En wie se naam het Herman Mashaba genoem toe hy ook sy DA-lidmaatskap opgesê het?

En John Moodey, eens Gautengse leier van die DA? Wie het hy geblameer?

In hierdie gevalle was Zille die gemene deler. Kan ál hierdie politici verkeerd wees as hulle noem dat Zille ’n rol gespeel het in hul bedankings?

Zille is nie iemand wat graag binne haar politieke raampie bly nie. Sy twiet wat sy wil en of sy gerepudieer word deur die DA se politieke prinsipale skeel haar min. ’n Mens wonder hoe vorder die saak oor haar apartheid-twiet?

Dit is daardie steun wat grootliks aan die VF Plus afgestaan is, wat nou met die DA se kop speel.

Selfs die interim-leier van die DA, John Steenhuisen, het maar ’n lou antwoord gegee. Dit is nou al September en daar is nog niks verder gesê of Zille die party se reëls verbreek het nie.

Die DA is nie nou op ’n goeie plek nie – al wil DA-mandaryne jou vertel dat alles binne die party dood-dollies is. Soos hulle sê: stille waters, diepe grond, maar onder draai die duiwels rond.

Dis ook maar die verstek-aksie van politieke partye om mooi broodjies te bak en te wil voorgee daar is eenheid binne ’n party, maar uit die openbare oog word die dolke geslyp. Die ANC is ’n teksboekvoorbeeld hiervan.

Die DA het verlore grond om in te haal, want in die vorige verkiesing het hulle steun verloor. En dit is daardie steun wat grootliks aan die VF Plus afgestaan is, wat nou met die DA se kop speel.

Diepsnydende kritiek sal uit die DA-geledere moet kom sonder dat jy voel jy het jou eie politieke graf gegrawe as jy die leierskap uitdaag. Kan die DA dus bekostig om Zille onder die bus te gooi, of gaan die DA maar toelaat dat sy remmeloos voortstoom en dalk al hoe meer vervreemding bring?

Dalk dink die DA ook aan die klassieke probleem van die boer wat ’n honger tier in die een hok het en ’n bok in ’n ander hok. Hy moes besluit hoe die tier gevoed moet word sonder om die bok op te offer. Vir die bok kon hy gras voer, maar die tier soek vleis.

So wat gaan dit wees, DA?

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Helen Zille  |  Eenheid  |  Verkiesing  |  Bok  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.