Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan die regering weer sy volgende toets dop?

Die regering het met die onlangse onluste in die land ’n belangrike toets gedop en kan nie verwag dat kiesers hom weer by die stembus moet steun nie, skryf Dawid Kuyler.

Mense betoog in Kaapstad teen die onlangse plundery en taxigeweld. Foto: Gallo Images

Toe ek op Stellenbosch studeer het, het ek gou agtergekom dat dosente behalwe die gewone geskeduleerde toetse, daarvan hou om studente met onvoorbereide klastoetse te verras.

Jy het geweet wat om te verwag van die gewone toetse, maar die onvoorbereide toetse was vir die meeste studente, behalwe vir dié wat baie slim was, ’n nagmerrie.

Dosente het dit gedoen om te sien of jy klasse bywoon en oplet wat hulle jou leer. Vir sommige studente het die uitslae van die geskeduleerde en onvoorbereide toetse nie veel verskil nie. Toe het jou toetspunte jou predikaat bepaal en ook bepaal of jy eksamen kan skryf en of jy eksamen hoef te skryf.

As dosent weet ek dat sommige studente nie sal deurkom nie, selfs al gee jy hulle vooraf die toetsvrae.

Die regering het geweet dat hulle getoets gaan word wanneer oudpres. Jacob Zuma tronk toe gaan.

Nou wat laat ’n mens terugdink aan gebeure van 45 jaar gelede en onvoorbereide klastoetse?

Dit is die gebeure van die afgelope tyd in Suid-Afrika wat my weer aan voorbereide en onvoorbereide toetse laat dink het.

Die regering het geweet dat hulle getoets gaan word wanneer oudpres. Jacob Zuma tronk toe gaan, maar hulle het daarop gereageer soos ’n swak student op ’n onvoorbereide toets.

In ’n stemboodskap wat die ronde doen vanuit die nasionale uitvoerende komitee van die ANC, word die geheim verklap dat hulle gewaarsku is, maar nie daarop ag geslaan het nie. Pres. Cyril Ramaphosa het self in sy toespraak erken dat die regering die toets gedop het, al is hulle gewaarsku.

Dat die regering die toets gedop het, is te verstane. Hulle het tydens staatskaping op gesofistikeerde wyse die land geplunder en beroof en op talle maniere probeer verhoed dat hulle gestuit of aangekeer word. Diegene wat hulle moes waarsku teen die onlangse stropery, is dan self stropers.

Stropers dop toets van menswaardigheid

Inwoners van Alexandra besig met opruimingswerk by ’n winkelsentrum wat onder plunderaars deurgeloop het. Foto: Gallo Images

Ons as landsburgers het die reg om te verwag dat die staat met sy sekerheidsinstellings soos die Staatsveiligheidsagentskap, polisie en weermag ons sal beskerm. Nou het ons aan die lyf gevoel hoe staatskaping ook hierdie instellings lamgelê het toe miljarde rand se infrastruktuur en ondernemings vernietig is. Dan praat ons nie eens van die ongeveer 300 mense wat met hul lewens geboet het nie.

Die omvang van die skade wat die regering die land en ons ekonomie berokken het deur sy gedopte toets, is onbepaalbaar. Nou verwag die regering dat ons hulle in die komende verkiesing ’n kans sal gee om weer toets te skryf om te kan sien of hulle dan sal slaag. Soos in die onderwys, hoop hulle op ’n slaagsyfer van 30%.

Die ligpunt in die krisis is dat die burgerlike gemeenskap ingegryp het en beskerming verleen het waar die staat misluk het.

Dit is nie net die regering wat die toets gedop het nie, maar ook die duisende wat meegedoen het aan die plundery onder aanvoering van die Zuma-ondersteuners. Daar kan baie verklarings wees waarom mense, arm en gegoed, meegedoen het aan die vernietiging, maar hulle almal het die toets van menswaardigheid gedop. Hulle het hulself nie menswaardig gedra nie en ander mense van hul menswaardigheid beroof.

Die ligpunt in die krisis is dat die burgerlike gemeenskap ingegryp het en beskerming verleen het waar die staat misluk het. Hierdie Suid Afrikaanse burgers het ’n onvoorbereide toets met vlieënde vaandels geslaag. Hulle was daar toe die polisie en weermag geskitter het in hul afwesigheid.

Hulle het gewys dat mense se lewens en bestaan waarde het. Mense was verbaas watter positiewe rol taxiverenigings gespeel het om plundery te voorkom. Die opruiming ná die chaos is gedoen deur gewone wetsgehoorsame burgers.

Laat jou stem hoor

Dawid Kuyler

Tans is kerke en talle welsynsorganisasies betrokke om hulp te verleen aan mense wat geraak is deur die ramp wat ons getref het. Hulle is die instansies wat die toets slaag.

Die politici wat ná die tyd hul verskyning maak en met hordes lyfwagte opdaag, het die toets gedop. Die ministers van staatsveiligheid, polisie en verdediging en hul talle generaals en direkteure kry einde van die maand hul volle salaris en byvoordele, maar die eienaars van kleinsake-ondernemings wat alles verloor het, kry niks.

Die politici en staatsamptenare gaan heel moontlik ook steeds bonusse kry ondanks die feit dat hulle die toets gedop het. Selfs hul verskonings klink nie eens so vindingryk soos dié van studente wat toetse dop nie.

As gelowiges glo ons dat God aan die staat die swaardmag gegee het om sy burgers te beskerm. As die regering dan as gevolg van staatskaping ook die instansies wat ons moet beskerm, magteloos laat en ’n gevaar vir die burgers word, dan moet ons die regering laat verstaan dat hulle nie nog ’n kans kan kry nie.

Die vraag is of ons as landsburgers kan saamstaan en die huidige regering van sy mag kan by die stembus kan ontneem.

Vanuit regering- en staatsweë is ons Grondwet vertrap.

Dit is tyd dat die geloofsgemeenskap weer sy profetiese stem sal laat hoor terwyl ons barmhartigheid bewys aan die slagoffers van die plundery. Die onlangse gebeure vra dat landsburgers die regering en staat weer tot verantwoording sal roep.

Ons moet dit op vele vlakke doen en die openbare media gebruik om ons misnoeë uit te spreek, want die hart van ons demokratiese bestel is aangetas.

Vanuit regering- en staatsweë is ons Grondwet vertrap.

Ons moet vanuit die geloof en etiese vertrekpunt die huidige situasie beoordeel. As ons as burgers van die land die ANC weer herkies met die volgende verkiesing, dan sal ons ook die toets van redelikheid en verantwoordbaarheid dop.

• Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Weermag  |  Polisie  |  Staatsveiligheidsagentskap  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Plundery  |  Grondwet  |  Onluste  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.