Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan dit hier oor die hondjie of halsbandjie?

Die eerste dae van die verhore wat die Amerikaanse huis van verteenwoordigers hou om te besluit of pres. Donald Trump wel amptelik beskuldig en afgesit (impeach) moet word, het die breë lyne van die narratief teen hom bevestig.

Dit kom hiérop neer: Trump het pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne se arm gedraai om korrupsie-skietgoed teen die Demokratiese politikus Joe Biden te vind wat in volgende jaar se verkiesing gebruik kan word.

Dus het Trump tydelik die wapenlewering aan Oekraïne gestaak, maar in ruil vir ’n openbare verklaring dat Biden (en sy seun, Hunter) weens korrupsie ondersoek sou word, sou die lewering hervat word en sou Zelenski met ’n ontmoeting in die Withuis beloon word.

Volgens die Demokrate kom dit neer op magsmisbruik en verdien Trump dus om afgesit te word. Veral omdat daar in dié stadium geen harde getuienis is dat Biden of sy seun korrup was nie.

Die Demokratiese taktiek is interessant. Ofskoon daar in die Mueller-ondersoek na Trump se beweerde medewerking aan Rusland se inmenging in die 2016-verkiesing heelwat getuienis oor regsverydeling na vore gekom het, is dit ingewikkeld om aan die kiesers te verduidelik. Die Oekraïne-narratief is baie eenvoudiger, en dus word al die kanonne nou dáárop gerig.

Die Republikeinse verweer, daarenteen, is verwarrend omdat die party geen eenvoudige en enersklinkende narratief het nie. Trump ontken dat hy iets verkeerd gedoen het. Heelparty invloedryke Republikeine sê daarenteen wat Trump gedoen het was verkeerd, maar dit is nie ernstig genoeg om hom af te sit nie.

Die kans dat die Demokrate die vereiste meerderheid vir afsetting in die senaat sal kry is bitter klein.

Dit is nie dadelik duidelik waarom die Demokrate die proses begin het nie. Die kans dat hulle die vereiste tweederde-meerderheid vir afsetting in die senaat sal kry, is bitter klein. Die Demokrate se oë is egter waarskynlik op aanstaande jaar se presidentsverkiesing gerig.

Die eerste dae van die verhore bring soveel bedenklike feite oor Trump se dinge op die lappe dat die Demokrate hoop dat dít vir hulle die wa deur die drif sal sleep.

Dit alles beteken ewenwel nie dat Trump solank sy tasse moet begin pak nie. ’n Demokratiese oorwinning is glad nie seker nie.

Voorlopig baklei die Demokratiese aspirant-presidentskandidate soos kat en hond onder mekaar. Biden loop in die peilings wel voor, maar baie waarnemers vra hulself af of die indruk wat hy maak sterk genoeg is.

Die alternatief is linkse populiste soos senatore Elizabeth Warren en Bernie Sanders. Of selfs Hillary Clinton, wat opnuut aan die roer is. As die Demokrate enigeen van dié drie as kandidaat aanwys, verhoog dit Trump se kans om weer verkies te word beduidend.

Die verkiesing is nog oor bietjie minder as ’n jaar. As die spreekwoordelike week in die politiek ’n lang tyd is, is ’n jaar ’n leeftyd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.