Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan dit hier oor mense se regte of olie?

Met die skryf hiervan is die situasie in Venezuela nog te onduidelik om te sien in watter rigting dit ontwikkel.

Die strate is oorgeneem deur die opstandelinge wat die land in ’n demokrasie wil omskep, maar die staat se magshefbome (die weermag, polisie en staatsadministrasie) staan nog agter die diktator, pres. Nicolás Maduro.

Leopold Scholtz

Maar afgesien van hoe sake binnenslands gaan ontwikkel, is dit interessant hoe die internasionale geopolitieke magspel rondom Venezuela hom afspeel.

Dis altyd goed om by die begin te begin – kyk na die geldstrome. Venezuela is ’n olieryke staat wat, volgens sommige bronne, oor sowat 20% van die wêreld se oliereserwes beskik – selfs meer as Saoedi-Arabië. Geen wonder nie dat die wêreld se aasvoëls bo die land sirkel nie. Almal is gretig om voordeel uit die onrus te trek.

Aan die een kant is daar die – om dit te oorvereenvoudig – linkse wêreld. Dit sluit in Rusland, China, Kuba, Iran, Sirië, Nicaragua, Bolivia en die Afrika-Unie. Ook Suid-Afrika steun Maduro.

Daarteenoor staan die – eweneens oorvereenvoudig – regse wêreld, met inbegrip van Amerika, die Europese Unie en die grootste deel van Latyns-Amerika.

Terwyl sake in Venezuela self op ’n naaldpunt balanseer, bemoei buitelandse regerings hulle weens eie belang steeds meer daarmee.

Van Rusland en China ontvang Maduro aktiewe steun, terwyl Kuba, luidens onbevestigde berigte, etlike duisende gewapende burgerlikes (soldate in alles behalwe naam) daar het om die regime te steun.

Volgens die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, was Maduro vandeesweek op die punt om na Kuba te vlug. Toe het Rusland hom oorreed om te bly.

Aan die ander kant dreig Amerika al lank met militêre ingryping. Vandeesweek het Pompeo reguit in ’n televisie-onderhoud gesê militêre ingryping is moontlik. “As dit nodig is, is dit wat die Verenigde State sal doen.”

Hy het gesê Amerika verkies ’n vreedsame magsoordrag, “maar die president het dit duidelik gestel dat ’n oomblik kan kom . . . waarop hy bereid sal wees om dit te doen as dit nodig is”.

Dit druis natuurlik regstreeks in teen Trump se verkiesingsbeloftes dat hy nie by buitelandse militêre inmenging betrokke sal raak nie.

Maar Amerika het ’n lang geskiedenis van presidente wat in verkiesingstyd sulke beloftes maak, net om dit te verbreek wanneer hulle dit in landsbelang nodig ag.

Uit Amerika se oogpunt sou die val van Maduro inderdaad baie nuttig wees. Nog in 2005 het Amerika 1,5 miljoen vate olie per dag ingevoer. Maar ook Rusland, China en Kuba loer begerig na daardie olie.

Aan die oppervlak gaan dit oor sake soos die regstaat en menseregte. In werklikheid gaan dit oor olie.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Venezuela  |  Wêreld  |  Rubriek  |  Menings  |  Politiek  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.