Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Gaan dit ’n baie lang operasie wees, dokter?’
Heinz Mödler

Dr. Zbigniew Religa was ’n Poolse hartchirurg.

Baie van sy mediese vaardighede het hy in Amerika aangeleer, maar hy het na Pole teruggekeer en daar bekend geraak as ’n hartoorplantingspionier.

Trouens, in 1987 het hy die eerste suksesvolle hartoorplanting in Pole gedoen op Tadeusz Zytkiewicz. Sy kardioloë het nie meer raad met hom gehad nie. Hy was in hartversaking en op maksimale mediese behandeling. Al wat vir hom oorgebly het, was ’n hartoorplanting.

Religa het ingestem. Nie net om sy pasiënt ’n tweede kans om te lewe te gee nie, maar ook om aan die res van die wêreld te wys dat Pole ’n mediese krag is waarmee gereken moet word.

Die fotojoernalis James Stanfield was daar om die operasie te dokumenteer en foto’s te neem. Min sou hy kon weet dat National Geographic sy foto waar hy Religa afgeneem het ná die operasie as die foto van die jaar gaan kies.

Ook sou hy nooit kon raai dat hy die foto eers 23 uur later gaan neem nie – Religa uitgeput langs sy pasiënt terwyl van sy kollegas op die vloer lê en slaap.

Deesdae neem ’n hartoorplanting nie veel langer as enige ander hartoperasie nie. Selfs korter.

Ongelooflik genoeg het Zytkiewicz die hartoorplanting oorleef. Om die waarheid te sê, hy het vir nog 30 jaar ná die oorplanting ’n normale lewe met sy nuwe hart geleef en eers in 2017 gesterf – langer as sy dokter wat in 2009 aan longkanker gesterf het (Religa was ’n strawwe roker).

Deesdae neem ’n hartoorplanting nie veel langer as enige ander hartoperasie nie. Selfs korter. Maar al was Religa se oorplantingsoperasie weliswaar abnormaal lank gewees, is dit geensins die langste operasie wat al uitgevoer is nie.

Daarvoor moet ons Singapoer toe gaan, na die Singapoer- algemene hospitaal in 2001 toe ’n span van 20 dokters ’n Siamese tweeling van Katmandoe, Nepal, Ganga en Jamuna Shrestha, in ’n marathon-operasie geskei het.

Die sussies se koppe was aanmekaar geheg. Oppervlakkig het ’n skeidingsoperasie doenbaar gelyk, maar breinskanderings het getoon dat daar wel fusie van die twee verskillende breine kan wees.

Eers tydens die operasie, nadat die skedels verwyder is, het die dokters besef tot watter erge graad die samesmelting van die twee organe plaasgevind het.

Hierdie tydsame proses het hulle 103 uur, oftewel vier dae, geneem om te voltooi.

Die span dokters het nogtans besluit om voort te gaan.

Versigtig het hulle elke brein blootgelê en noukeurig gesorg dat elke gedissekteerde stukkie brein voldoende bloedvoorsiening het.

Hierdie tydsame proses het hulle 103 uur, oftewel vier dae, geneem om te voltooi.

Die 11 maande oue Ganga en Jamuna het albei die operasie en die narkose oorleef en is terug Nepal toe. Ongelukkig het Ganga ná ’n paar jaar meningitis en longontsteking opgedoen en in 2008 gesterf.

Jamuna leef nog en ontvang rekonstruktiewe chirurgie om die benige aspekte van die skedel so na as normaal te kan kry.

En hoewel albei hierdie operasies baie ure geneem het, was dit nie omdat die dokters onkundig en onhandig was nie. ’n Lang operasie is eerder wanneer jou chirurg drie ure neem om jou appendiks uit te haal, net omdat hy of sy sukkel.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Hartoorplanting  |  Operasie  |  Hartoperasie  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.