Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan geweldpleging SA se erfenis word?
Philda Essop

Dit gaan die verstand te bowe dat in Suid-Afrika – waar geen konvensionele oorlog woed nie – meer as ’n halfmiljoen mense sedert die einde van apartheid vermoor is.

Die amptelike misdaadstatistieke wat verlede week deur Bheki Cele, minister van polisie, en die topstruktuur van die polisie by die parlement bekend gestel is, toon dat altesame 21 022 moorde tussen Maart 2018 en Maart 2019 in die land gepleeg is. In die vorige jaar het dié syfer op 20 336 gestaan.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het kort ná die bekend­making van die statistieke die misdaadkrisis met ’n “lae-intensiteit-burgeroorlog” vergelyk en daarop gewys dat meer as ’n halfmiljoen mense sedert die einde van apartheid hier vermoor is.

Dit behoort enige landsburger te laat regop sit en pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet tot aksie te ruk om daadwerklike planne daar te stel om dié euwel eens en vir altyd in sy spore te stuit.

Dit kom tog voor asof Ramaphosa ag slaan op die situasie.

Hy het verlede week aangekondig dat hy nie meer van 23 tot 26 September na die Verenigde Nasies sal gaan nie sodat hy plaaslik op “kritieke kwessies” kan konsentreer. Hy het besluit om aandag te gee aan dringende maatreëls ten opsigte van gendergeweld, die herstel van orde en stabiliteit in gebiede wat deur openbare geweld geraak is, en om toesig te hou oor inisiatiewe om die ekonomie reg te ruk.

Hy sou Lusikisiki in die Oos-Kaap Maandag besoek om deel te neem aan ’n dialoog oor gendergeweld en die moord op mense weens albinisme.

Ramaphosa het ook ’n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aangevra vir ’n debat oor gender­geweld wat hy sal lei.

Ramaphosa het ook ’n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies vir Woensdag aangevra vir ’n debat oor gender­geweld wat hy sal lei.

Dít volg ná reuseprotesoptogte na die parlement oor twee dae agtereenvolgens uit woede oor die moord op en verkragting van verskeie jong vroue die afgelope ruk.

Terselfdertyd het die land se aansien op die Afrika-vasteland ’n groot knou gekry weens die geweld wat in dele van die Johannesburgse middestad en elders in die land uitgebreek het wat op onder meer buitelanders gemik was.

’n Dieper kykie in die misdaadstatistieke toon dat moorde hoofsaaklik oor naweke plaasvind, veral vanaf Saterdagaand tot Sondae in die vroeë oggendure. Redes hiervoor spruit hoofsaaklik uit rusies en misverstande, gesinsgeweld en bende-aktiwiteit.

Dringende optrede is noodsaaklik teen die moorde.

Nie woorde nie, maar ’n grootskaalse nasionale veldtog wat ’n wesenlike impak sal hê. Praktiese oplossings moet gevind word om veral onwettige sjebiens in veral townships uit te wis en om wettige sjebiens beter te reguleer, iets waarop Cele reeds gesinspeel het.

Perke behoort geplaas te word op die hoeveelheid alkohol wat aan mense verkoop word.

Wat gendergeweld betref, moet geen genade betoon word vir ver­kragters en diegene wat hulle aan seksuele misdrywe skuldig maak nie.

Teen die koers waarop ons aangaan, sal moord en geweldpleging uiteindelik ons jong demokrasie se erfenis word. Suid-Afrikaners móét dit stuit.

Meer oor:  Philda Essop  |  Geweld  |  Erfenis  |  Rasseverjoudinge  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.