Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan Harry self sy titel prysgee?

Gaan prins Harry self sy titel prysgee om só ’n meer normale lewe uit die koninklike kollig te lei?

Vir die prins, wat sy tyd in die Britse weermag geniet het as bloot Harry Wales, wag ’n nuwe lewe in Kanada saam met sy vrou, Meghan, en baba, Archie.

“Ek was ’n soldaat, nie ’n prins nie,” het hy in 2017 oor sy tyd in die weermag in ’n onderhoud gesê. Dit was ook in dié onderhoud in Newsweek dat Harry genoem het dat hy dit al oorweeg het om sy titel prys te gee om ’n meer normale lewe te lei.

Nou het hy dit inderdaad gedoen.

Kuier by die koningin

Die prins het Maandag twee uur vroeër as sy pa, prins Charles, en broer, prins William, by Sandringhamhuis op die koninklike landgoed Sandringham in Norfolk opgedaag om middagete saam met sy ouma te geniet.

Dié spesiale alleentyd sou hul eerste ontmoeting wees sedert Harry en Meghan verlede Woensdagaand op hul Instagram-blad die skokaankondiging gedoen het dat hulle terugstaan as senior koninklikes, beplan om op twee vastelande te woon én finansieel onafhanklik van die Britse publiek se geld te wees.

Harry kon self sy ouma om verskoning gevra het dat hy ondanks haar vermaning sy en Meghan se “mini-abdikasie” aangekondig het voordat alles met haar en die koninklike familie uitgeklaar is.

Dié aankondiging was nie ’n groot bohaai oor niks nie, maar ’n teken dat Harry en Meghan geen omdraaikans meer vir hul huidige lewenstyl in Brittanje gesien het nie.

Hulle wou, volgens hul lywige skrywe op hul webwerf sussexroyal.com, steeds die koningin van diens wees, maar ook die onafhanklikheid hê om ’n lewe buite die koningsgesin te bou.

90 minute en 153 woorde later

Die verklaring wat Maandagaand kort ná 19:00 deur koningin Elizabeth uitgereik is. Foto: AP

Dié toestemming is Maandag in 153 woorde gegee, met die woord “familie” wat agt keer in die koningin se verklaring, ná die beraad van slegs 90 minute, voorgekom het – haar manier om dit duidelik te stel dat sy as ouma in die verklaring praat, maar ook as die Britse monarg.

Meghan het, anders as wat voorheen berig is, nie aan die beraad deelgeneem nie omdat die Sussexe haar deelname nie nodig geag het nie, het bronne in die paleis Dinsdagmiddag aan die Britse media gesê.

Buckingham-paleis se verklaring Woensdagaand ná Harry en Meghan se verklaring was formeel, kort en in paleistaal geskryf. Die paartjie is op hul formele titels genoem, sy en haar koninklike hoogheid.

Buckingham-paleis se kort, maar kragtige verklaring ná die Sussexe se “onafhanklikheidsverklaring”.

Met dié dat die koningin Harry en Meghan op die naam noem, kan moontlik daarop dui dat die paartjie gewillig kan wees om hul koninklike titels prys te gee in ruil daarvoor dat hulle kommersiële sakegeleenthede kan ondersoek.

Geld, margarienbakkies en veiligheid

Die koninklike skrywer Richard Kay het in Dinsdag se Daily Mail geskryf daar sal verhoed wil word dat die naam Sussex Royal op ’n margarienbakkie verskyn. In reaksie daarop het ITV se koninklike korrespondent, Chris Ship, op Twitter die spot gedryf.

Harry en Meghan is nie die enigste lede van die koninklike gesin wat oorsese planne het nie.

Ook sy niggie, Zara, en haar man, die Engelse oudrugbykaptein Mike Tindall, se koppe staan Australië toe. Die paartjie bring gereeld die Kersvakansie in Australië deur.

Anders as Harry en Meghan, wat deur die departement van binnelandse sake in Brittanje as “internasionaal beskermde persone beskou word”, het die Tindalls nie lyfwagte nie. Zara en haar broer, Peter Phillips, het van geboorte af geen titels gehad nie omdat haar ma, prinses Anne, haar kinders ’n normale lewe wou gun.

Só lyk die Britse voorblaaie vandag

Die voorblad van die Britse ‘Daily Express’.
Die voorblad van die Britse ‘Daily Mail’.
Die voorblad van ‘The Times’.
Die voorblad van die poniekoerant ‘The Sun’.
‘The Daily Telegraph’ het die koningin se wens – dat prins Harry en Meghan aanbly as senior koninklikes – duidelik op die voorblad uitgelig.

Die Sussexe het ook op hul webwerf steeds na hulself as internasionaal beskermde persone verwys (hulle is deur die Britse departement van binnelandse sake so verklaar) wat beveilig moet word, maar daarvoor betaal die Britse belastingbetaler.

Die gesin het tans drie lyfwagte (een elk), maar die wagte moet afgewissel word en sal wanneer die Sussexe in Kanada nesgeskop het ook heen-en-weer tussen Kanada en Brittanje moet vlieg. Die koste is astronomies, glo 100 000 pond per jaar per lyfwag, maar indien hulle hul koninklike beskerming verloor, sal hulle soos ander beroemdes self moet opdok.

Indien Harry dus self besluit om die SKH voor sy naam te laat verwyder, sal hy die koningin ’n guns doen. Toe die koningin in 1996 sy ma, Diana, van dié koninklike titel gestroop het ná haar egskeiding van Charles, het dit ’n storm ontketen.

Diana se broer, graaf Charles Spencer, het juis op haar begrafnis gesê sy het nie die titel HKH nodig gehad om koninklik te wees. Dieselfde kan van Harry gesê word. Hy het nie ’n koninklike titel nodig om koninklik te wees nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.