Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het Kongolese kiesers se stemme dié keer getel?

Kiesers in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het lank gewag op die uitslag van die verkiesing in hul land en hoop gerugte van 'n gekonkel is nie waar nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Ondersteuners van opposisiepartye in die Kongo glo vas dat pres. Joseph Kabila ’n nederlaag in die verkiesing gelei het. Foto: Reuters

Van die mees aangrypende tonele in Afrika die laaste tyd was op 30 Desember verlede jaar in die DRK.

Sowat 40 miljoen mense het na die stembusse gestroom om hul kruisies in algemene en presidentsverkiesings te trek. Mense het te midde van groot swaarkry, dikwels ver te voet, gereis en op plekke donderstorms getrotseer om ure lank in die modder te staan en wag om te kan stem.

Vir hulle het dit nie saak gemaak dat die stemmery byna uit die staanspoor weens ongerymdhede gedoem was nie. In ’n poging deur die regerende party om aan bewind te bly is twee van die land se vernaamste politici – die voormalige adjunk-president Jean-Pierre Bemba en die voormalige goewerneur van Katanga Moïse Katumbi – verbied om deel te neem in 'n poging deur diie regerende party om aan bewind te bly.

Die verkiesingskommissie het Donderdag in die vroeë oggendure aangekondig dat Felix Thisikedi die verkiesing gewen het. Dit gaan tot groot omstredenheid lei, veral weens gerugte oor kullery by die stembus.

In die dorpies Beni en Butembo, in die Noord-Kivu-provinsie in die ooste van die land, het die verkiesingskommissie byvoorbeeld die stemmery enkele dae voor stemdag afgelas. Dit was glo weens vrese dat die Ebola-virus, wat al maande lank in dié streek voorkom, sal versprei.

’n Miljoen stemgeregtiges is só van hul stem ontneem.

Mense het toe eenvoudig hul eie verkiesing gereël. ’n Groot deurskynende plastiekhouer is in die middel van ’n oop stuk grond geplaas en honderde mense het geduldig tou gestaan om hul simboliese papiertjie in die geprakseerde stembus te gooi. Weens die Ebola-gevaar moes hulle eers elkeen in ’n antiseptiese middel hul hande was.

Hoewel hulle het goed geweet het dat hul stemme nie amptelik gaan tel nie, wou hulle steeds daardie reg uitoefen.

Hoewel die tellery van die stemme kwansuis met rukke en stote met geslote deure plaasvind, weier die verkiesingskommissie om enige tussentydse uitslae bekend te maak.

En wat gebeur toe?

Sedert stemdag is die DRK in die donker.

Hoewel die tellery van die stemme kwansuis met rukke en stote met geslote deure plaasvind, het die verkiesingskommissie geweier om enige tussentydse uitslae bekend te maak.

Twee dae ná die stemmery is die internet afgesny, SMS’e werk nie en die invloedryke Radio France Internationale se uitsendings is opgeskort en die radiostasie se korrespondent is uit die land geskop.

Soos die dae aanstap, het dit al duideliker geword dat die kombers van geheimhouding oor die uitslae nie heeltemal gewerk het nie.

Tragedie vir die mense van die DRK

Die Katolieke Kerk – een van die groot rolspelers in die DRK wat demokrasie in die land wil ondersteun – het by die 40 000 waarnemers by die stembusse gehad wat self van die uitslae telling gehou het.

Ondanks die internet-duisternis kon hulle steeds hul somme maak en dit na die kerk se hoofkwartier in Kinshasa stuur.

’n Paar dae ná die stemmery het die Kerk die regering in ’n verklaring gewaarsku dat hy weet wie gewen het. Die boodskap was duidelik dat daar groot moeilikheid sou wees as daardie persoon se naam nie die een is wat deur die verkiesingskommissie aangekondig word nie.

Liesl Louw-Vaudran

Die tragedie van die DRK is dat gewone mense sedert onafhanklikwording in 1960 bitter min seggenskap gehad het oor hoe hul land regeer word. Oorlog duur op baie plekke voort en veroorsaak ongekende lyding.

Dr. Denis Mukwege, aan wie die Nobelprys vir vrede verlede jaar vir sy werk met verkragtingslagoffers toegeken is, het in ’n onderhoud gesê die wêreld kan eenvoudig nie terugstaan terwyl miljoene mense, veral vroue, in die DRK die slagoffers van geweld bly nie. Hul eie regering klou vas aan die mag en doen niks om hulle te help nie.

Ongelukkig het die internasionale gemeenskap die mense van die DRK dikwels in die verlede teleurgestel.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, wat die verkiesings op 30 Desember gemonitor het, en ook Suid-Afrika, het tot dusver nog niks oor die gebrek aan deursigtigheid en die geknoeiery in die afgelope verkiesings gesê nie.

Die vraag is nou of Kongolese se entoesiastiese deelname aan hierdie verkiesing eenvoudig geïgnoreer is en of Thisikedi wel regverdig gewen het.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.