Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan kyk dít by FDR af, CR

As ek een wens kon wens midde-in hierdie korona-krisis, sou dit wees dat pres. Cyril Ramaphosa iewers ’n halfuur sal afknyp om na een van pres. Franklin D. Roosevelt (FDR) se fire­side chats van die 1930’s en 1940’s te gaan luister.

Pres. Cyril Ramaphosa besig om die nasie op televisie toe te spreek.Foto: baba jiyane

Die formaat was eenvoudig: Roosevelt gesels met die Amerikaanse volk in ’n regstreekse radio-uitsending, destyds ’n nuwe medium van skaars ’n dekade oud.

Hy het gewoonlik met die woorde “My fellow Americans” of sommer net “My friends” begin en dan in eenvoudige taal vertel hoe sy regering die enorme krisisse hanteer waardeur die land in die gesig gestaar is – eers die Groot Depressie, toe die Tweede Wêreldoorlog.

Vir die publiek het dit gevoel asof Roosevelt aan huis met hulle kom gesels. Die geheim van hierdie fireside chats was dat Roosevelt gelyktydig met die hele nasie kon gesels. Die storie kon nie ’n stertjie kry nie en hy kon mense se vrese regstreeks besweer. En dit is basies dieselfde geleentheid wat Ramaphosa tans met sy Covid-19-sessies het, maar dit is asof hy en sy senior helpers eenvoudig nie die potensiaal van die situasie raaksien nie.

Ramaphosa kom elke keer oënskynlik regstreeks van sy Covid-19-bevelsraad se vergadering af ingestap, dikwels laat. Dit boesem nie vertroue in nie. Met die eerste paar sessies het hy agter ’n kateder gestaan en praat – die regte plek vir ’n toespraak, die verkeerde een vir ’n gesprek. Deesdae sit hy darem by ’n lessenaar, maar lyk steeds ongemaklik, want hy staar die hele tyd reg van voor in die kamera in.

Die teks op die skerm voor hom rol óf te vinnig óf te stadig. Eers lees hy vooruit, dan raak hy effens agter.

Hy klink onseker van homself en die woorde klink of dit nie sy eie is nie.

Daar is geen grafieke waarna hy kan beduie nie.

Elk van Roosevelt se uitsendings het tipies vier of vyf dae se voorbereiding geverg. Sy ateljee was in die Withuis se knus diplomatieke ontvangsvertrek, en gewoonlik het hy ’n groepie mense om hom laat sit, sodat hy met die uitsending klink of hy regtig met iemand praat.

Hy het doodgewone taal gebruik: 80% van sy woorde kom uit die mees gebruikte duisend woorde in Engels. Toe Roosevelt besef sy stem het ’n effense fluitgeluid, het hy ’n tandarts gekry om ’n klein gaping tussen sy onderste twee voortande met ’n tydelike proppie te verseël.

Hy het sy luisteraars aangemoedig om ’n atlas byderhand te hou sodat hulle self kon volg hoe Amerikaanse soldate in Normandië of Italië vorder.

Ná twee jaar in die tuig is Rama­phosa steeds ’n beleërde president. Daar gaan nie ’n dag verby waar die vyande in sy eie party – en in sy kabinet – hom nie ondergrawe nie.

Hier, met Covid-19, is daar egter nou ’n geleentheid vir hom om sy teenstanders, die meeste van hulle skurke wat agter tralies hoort, na ’n syspoor te rangeer. Hy kan sy woorde fyn kies en dit soos slagysters vir die Zuma-kliek neersit om later raak te trap. Hier kan Ramaphosa die land se mense agter hom verenig – die heel beste veiligheids­polis teen Luthuli-huis se kwylende hiënas. Hier is sy kans om te lei.

Maar, terwyl Suid-Afrika toekyk, sit ons president – ’n goeie man – met sy hande voor hom saamgeklamp op ’n leë lessenaar. Hy staar vir die kamera en lees die nuwe korona-regulasies af soos ’n stasiemeester ’n treinrooster afkondig.

Daar is geen handgebare nie en selde roer daar ’n wenkbrou. Die eerste nuusberigte som Ramaphosa se boodskap só op: Ons mag drank koop, maar nog nie sigarette nie.

Swoesj . . . nog ’n geleentheid glip verby.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Bun Booyens  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.