Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan May nog Desember as premier haal?

Murphy se spreekwoordelike wet was vandeesweek daarvoor verantwoordelik dat die politieke loopbaan van die Britse premier, Theresa May, moontlik ’n nekslag toegedien is.

Alles wat kón verkeerd loop met haar toespraak op die Konserwatiewe Party se jaarlikse kongres, hét verkeerd geloop.

Die toespraak was bedoel om haar wankelrige greep op die party se leierskap te verstewig. Maar sy het deur die hele rede gehoes en geproes, sommige letters op die banier agter haar het afgeval, en ’n grapjas het ’n afdankingsbrief aan haar oorhandig.

Alle belangrike Britse koerante het berig dat Tory-parlementslede druk onder mekaar debatteer of sy Kersfees as partyleier en premier gaan haal.

Dit was opvallend dat die flambojante Boris Johnson, een van haar vernaamste uitdagers, met die applous ná haar toespraak aangesê moes word om soos die res van die gehoor op te staan.

Johnson tart May alreeds maande lank deur pal uitsprake te maak wat teen haar beleid indruis. Hy sou glo aan sy vertrouelinge gesê het dat May se swakheid hom beweeg om ’n laaste poging aan te wend om haar plek in te neem. As dít nie slaag nie, sal hy ophou.

Nog ’n luis in haar pels is Jacob Rees-Mogg, ’n parlementslid só konserwatief dat hy Margaret Thatcher na ’n gevaarlik linkse liberalis laat lyk. Johnson en Rees-Mogg wil albei graag premier word, en dis glad nie onmoontlik dat een (of albei) van hulle binne weke ’n paleisrevolusie onder die Tories kan lei nie.

Nog ’n luis in haar pels is Jacob Rees-Mogg.

Daar is ook ’n bedreiging van buite, naamlik die vinnige opmars van die Arbeidersparty onder leiding van die radikaal linkse populis Jeremy Corbyn.

Corbyn en die Arbeider-linkervleuel het oënskynlik niks vergeet nie en niks geleer nie. Al sy politieke denkbeelde is geplunder uit vergange dae voordat die sosialisme gediskrediteer is. Soos die Nederlandse De Volkskrant dit vandeesweek stel, Corbyn droom van ’n werkersparadys in die Noordsee.

Die ironie is dat hy nogal weerklank onder die Britse kiesers vind. Luidens ’n ontleding in The Guardian is die gemiddelde ouderdom van Tory-lede 71, en die party verloor lede teen ’n skrikwekkende tempo.

Sowel die Tories as die Arbeiders is egter diep verdeel. Die Tories is verskeur tussen voor- en teenstanders van Brexit; die Arbeiders tussen voor- en teenstanders van Corbyn se linkse ideologie. Die Britse nuustydskrif The Economist skryf selfs in sy laaste uitgawe dat die tweepartystelsel in die praktyk deur ’n vierpartystelsel vervang is.

Dis moeilik om vooruit te kyk. May is ernstig deur haar futlose vertoning in die verkiesingsveldtog verswak, en dis ’n ope vraag hoe lank sy nog sal kan uithou.

Maar sal haar opvolger soveel beter wees?

Meer oor:  Theresa May  |  Britse Politiek  |  Premierskap  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.