Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan NVG-baas JZ ook teiken?

Beurtkrag is ’n regstreekse uitvloeisel van staatskaping. Dieselfde kan gesê word van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se onvermoë om belasting na wense in te samel. Beide hou reusegevolge in vir die ekonomie en die regering se vermoë tot behoorlike dienslewering.

Die slotsom is dit: Gewone Suid-Afrikaners betaal die prys vir die vergrype van staatskapers, wat nou teen ’n pas aan die kaak gestel word en (hopelik) tot verantwoording geroep gaan word.

Een ding is seker, adv. Shamila Batohi, wat gister (uiteindelik!) aangestel is as die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), gaan haar hande vol hê om staatskapers te vervolg.

Die tergende vraag is of Verdagte Nommer Een, ene Jacob Zuma, onder die aangeklaagdes sal wees.

Die staatskapingfokus die afgelope tyd was grotendeels op die probleme by die SAL en SAUK, en gekaapte staatsondernemings wat ook (al weer!) bakhand staan dat die tesourie hulle red.

Eskom se probleme verdwerg egter die van dié twee wanbestuurde en gestroopte staatsondernemings. Eskom is genoop om geld te leen net om die rente op sy enorme skuld te delg (sy skuld het die afgelope twee jaar toegeneem tot byna R420 miljard). En die verwagting is klaarblyklik dat die belastingbetaler hiervoor moet pa staan.

Die koste van rente op lenings om Eskom se skuld te delg is volgens die jongste verslae byna dubbeld sy inkomste – R45 miljard se renteskuld en net meer as R27 miljard se inkomste. Maak maar die som.

Soos sake by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ontvou, is dit moeilik om te sien hoe die voormalige Nommer Een vervolging sal kan vryspring. Intussen tree hy op asof hy onbewus is van die donker wolke wat om hom saampak.

Dít is een van twee dinge: Ongeërgde arrogansie of uittartende hubris. Of dalk ’n kombinasie van die twee.

Almal sal haar sterkte en sukses toewens. En in die toksiese omgewing wat sy nou gaan betree, sal sy dit nodig hê.

Zuma het verlede week in Pietermaritzburg, waar hy in die hooggeregshof verskyn het om sy vervolging op korrupsieklagte te probeer stuit, weer eens sy volgelinge gekry om in groot getalle hul steun aan hom te wys en sodoende ’n boodskap aan die ANC te stuur dat hy nog lank nie gereed is om van die politieke toneel te verdwyn nie.

Die omvang van sy steun buite die hof – ondanks ’n versoek deur die ANC dat sy lede dit nie moet doen nie – behoort ’n bron van kommer te wees vir die regerende party.

Zuma het geen kans om op ’n kandidatelys vir die verkiesing te verskyn nie, maar hy blyk vasberade te wees om te wys hy is nog ’n krag om mee rekening te hou – veral in sy vesting van KwaZulu-Natal.

Dit is nog nie duidelik of die ANC beplan om Zuma in sy veldtog aan te wend nie, maar hy is ’n kopseer vir pres. Cyril Ramaphosa en die ANC.

Zuma se selfvertroue spruit blykbaar uit sy oortuiging dat hy onaantasbaar is en dat die ANC nie sal toelaat dat hy weens staatskaping vervolg word nie.

Ramaphosa se keuse van ’n nuwe NDOV grens aan inspirerend. Baie mense sal Batohi onthou vir haar indrukwekkende rol in die King-kommissie van ondersoek na wedstrydknoeiery waarby Hansie Cronjé betrokke was.

Sy het reeds as ’n gunsteling-kandidaat aandag getrek toe haar naam op die kortlys verskyn het. (Ironies genoeg was Batohi tot nou verbonde aan die Internasionale Strafhof, oor wie Suid-Afrika baie krities is en sy lidmaatskap opgeskort het.)

In haar eerste opmerkings ná die aankondiging gistermiddag, het sy met ’n grasieuse fermheid haar visie vir die nasionale vervolgingsgesag uitgespel.

Almal sal haar sterkte en sukses toewens. En in die toksiese omgewing wat sy nou gaan betree, sal sy dit nodig hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.