Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Game of Thrones leer ons iets oor vroue en mag'

In Game of Thrones en House of Cards sien ’n mens hoe vroue ná ’n stryd van twee eeue toenemend formele politieke mag verkry, skryf Christi van der Westhuizen.

Die aktrise Lena Headey in die rol van Cersei Lannister in die TV-reeks Game of Thrones. Foto: HELEN SLOAN/HBO

Tans is daar twee karakters in gewilde TV-programme wat die dilemma van hedendaagse suksesvolle vroue, op pad na die boonste sport in hul loopbane, mooi vasvang. Ek dink aan Cersei in Game of Thrones en Claire Underwood in House of Cards.

Populêre kultuur sê baie oor die stand van huidige magsverhoudings – van alledaagse interaksies tot die breër samelewing. As voorstellings van wit middelklas- of elite-vroulikheid, wys die twee karakters dat die glasplafon in die Westerse kulturele raamwerk gewis hoër geskuif het en dat sekere aannames oor geslag verseker dat sommige poste vroue steeds nie werklik beskore is nie.

Albei is vroue naby aan formele politieke mag. Hulle is ook magtig in eie reg. Maar om vroulik te kan bly in die oë van ander mense, moet hul mag noodwendig beperk bly. Hulle is vergestaltings van die gesegde “agter elke man”, een as moeder, en die ander as eggenote.

Eers nadat haar pa en albei haar seuns dood is, haar broers albei weg is, en sy om oorlewingsonthalwe geen ander keuse het nie, bestyg Cersei die Ystertroon as die hoogste pos in die land.

Cersei is ’n lid van die Lannister-familie wat vanuit King’s Landing die sewe koninkryke regeer. Manlike nasate is so gesog vir die Lannisters dat haar pa haar biologiese geslag as ’n gestremdheid beskou – soortgelyk aan dié van haar broer Tyrion wat ’n dwerg is.

Cersei word aan die grootste vernederings onderwerp – soms weens haar eie planne wat skeefloop – maar keer altyd terug, sterker as vantevore. Lannister-vroue is daar om kinders voort te bring, en dit het sy ook met oorgawe gedoen (weliswaar met haar broer Jaime, maar darem). Sy span al haar mag en invloed in ter wille van haar twee seuns. Van al die uitgeslape konkelaars in GoT is sy gewis een van die hoofkonkelaars.

In ’n familie van gemene mense is Cersei amper so gemeen soos haar pa, en boonop die slimste en mees strategiese Lannister (Tyrion uitgesluit). Sy besit dus al die eienskappe wat die Lannisters hoog ag, maar haar geslag diskwalifiseer haar van politieke leierskap en dus formele mag. Eers nadat haar pa en albei haar seuns dood is, haar broers albei weg is, en sy om oorlewingsonthalwe geen ander keuse het nie, bestyg Cersei die Ystertroon as die hoogste pos in die land.

Robin Wright, wat die rol van Claire Underwood in die reeks House of Cards vertolk.

Die Hillary Clinton-agtige Claire Underwood in House of Cards is soos ’n opgedateerde Cersei. Cersei se biologiese geslag as “gestremdheid” het haar van alle formele mag gediskwalifiseer, en moederskap was haar enigste roete tot die uitoefening van mag totdat daar letterlik nie meer mans oor was wat kon regeer nie.

Daarteenoor wys Claire dat dit meer sosiaal aanvaarbaar vir ’n vrou is om aan die sy van ’n magtige man te staan in Amerika as om ’n magtige vrou te (wil) wees.

Toe die kwessie van moederskap opkom, trek sy ’n tragiese verhaal uit die hoed om verskoon te word van wat in Amerika, soos in King’s Landing, steeds ’n vereiste vir vroulikheid is. Minstens het sy haar status as getroude vrou.

Albei suggereer dat minstens wit Westerse vroue, net soos mans, meedoënloos kan wees in die najaag van formele mag.

Claire oortuig haar pa om Frank Underwood se eerste veldtog vir ’n politieke amp te finansier. Deur hul dekades lange huwelik werk hulle as span saam. Sy verskyn aan sy sy in die openbaar en bevestig met haar dekoratiewe hiper-vroulikheid sy manlikheid. Sy is uiters bekwaam in haar veld in die burgerlike samelewing, en gebruik haar invloed daar om Frank se belange te bevorder. En hy doen dieselfde vir haar.

Tot die dag wat sy die formele politiek wil betree.

Christi van der Westhuizen.

Albei se geslepenheid om die spits van die Amerikaanse samelewing te bestyg, haal hulle op mekaar uit. Frank doen alles in sy vermoë om Claire se ambisie te fnuik. Sy is goed genoeg om agter hom te staan, of aan sy sy, maar nie voor hom nie. Uiteindelik slaag Claire tog om, soos Cersei, die magtigste mens in die land te word.

Die kulminasie van twee eeue se stryd om bemagtiging is dat vroue veral in die Weste, maar ook elders, toenemend formele politieke mag verkry. ’n Mens kan hierdie twee TV-stories lees as pogings om sin te maak van die verskynsel. Albei suggereer dat minstens wit Westerse vroue, net soos mans, meedoënloos kan wees in die najaag van formele mag. Wat verskil, is dat vroue nie net die gewone hindernisse moet oorkom nie, maar ook die geslagstereotipes wat aangewend word om hulle vroeg uit die kompetisie te skakel. En dit weens die “gestremdheid” van om nie die “regte” geslag te wees nie.

* Prof. Van der Westhuizen is medeprofessor in die departement sosiologie by UP.

Meer oor:  Christi Van Der Westhuizen  |  Vroue  |  Mag  |  Game Of Thrones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.