Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ganôg es ganôg – ook in krisisse
Gert Coetzee

Covid is “die ergste krisis van ons tyd”, lui ’n opskrif op Volksblad (papierkoerant en e-koerant) se middelblad gister.

Gewis is uitsigloosheid verwoestend.

Sonder om krisisse te wil vergelyk, dink ek my in hoe dit in die Anglo-Boereoorlog en die Eerste en Tweede Wêreldoorloë moes wees waar jy nie geweet het of jy vandag deur ’n koeël op die slagveld of in ’n nagaanval van bomwerpers op jou huis gedood gaan word nie. Met verskroeide aarde en krepering alom en verder niks.

Net die tirannie van sterkstes geld.

Ook in die Covid-19-maalkolk val die merkers. Die bekende verdwyn. Soos dagroetine, werksekerheid, inkomste, skakeling met mense, vakansies (wat is dit?), reis (wanneer?) en wat nog.

In die vakuum van uitsigloosheid is die sparteling om oorlewing oral te sien. Hoeveel met vaste werk het on-langs gedink hulle gaan nou om den brode met tuisgemaakte kerrie en rys en pasteie moet smous.

En naas die twee K’s van korona en krisisse, is daar ’n derde – korrupsie.

Die finansiële en persoonlike slae kom op die rug van ’n reeds onsekere bestaan in ons land waar hoeveel “regte” al verdwyn het. Dis nie meer ’n gegewe dat die stad skoon is; diens goed is; jy veilig tuis is; en dat jy ’n loopbaan hier sal kan bou nie.

En naas die twee K’s van korona en krisisse, is daar ’n derde – korrupsie.

’n Zoeloe-vriend van hom sê altyd “Ganôg es ganôg”, het Breyten Breytenbach in 2014 in ’n rubriek op Netwerk24 geskryf. Oor “die huidige panoplie van partye” voel hy ook so, het Breyten geskryf. “Ganôg gesteel, ganôg gelieg en bedrieg, ganôg misdadige onverskilligheid van ontplooide kader-kamerade”.

Ses jaar later maak Thuma Mina, die Nuwe Daeraad, Zondo-kommissie en die nasionale vervolgingsgesag (sover) nie hond haaraf met die derde K nie.

Tot satwordens toe gaan dit aan.

Gemoedsbedingesing (soos Johan van Wyk dit met ’n ander K-woord in sy Goeiemôre “Niks verdryf mismoed soos ’n bike trip nie”, 10.07, stel) is maklik.

Maar nie almal van ons het ’n bike nie. Hoe om nie die stryd teen die bleak existence gewonne te gee nie?

Allermins is dit die rol of plek van ’n koerant – met eie mense wat spartel om ’n greep – om eksistensiële oplossings te bied. Ook kan dit ligtelik oorkom, terwyl dit ’n bloed-ernstige saak van lewe en dood is. Soos die twee skrander jongmans, van Brandfort en van Harrismith, wat die afgelope dae nie verder kon nie.

Ons reflekteer net realiteite lewensgetrou, sodat die wêreld en mense hulself daarin kan spieël.

Maar gedragswetenskaplik het ook ek beleef hoe in ’n krisis onverklaarbaar gereageer word. Diegene wat ek nie gedink het paniekerig sou raak nie, hét. En andersom. Soos ’n sielkundige op Monitor gesê het: Onsekerheid laat snaakse dinge in die brein gebeur.

Soos Lemmer, anti-held in Deon Meyer-boeke, sy wette het (wet 1: Moenie betrokke raak nie; wet 2: Moenie vertrou nie), moes ook ek in dié tyd weer ’n paar basics heropsoek.

Soos: Kyk eerder na wat jy het as na wat jy nie het nie. Jy kan net beheer wat onder jou beheer is. Jy kan nie realiteite verander nie, maar dit deur jou respons ten beste bestuur. Eet die olifant stukkie vir stukkie. Speel altyd oop kaarte al is dit (aanvanklik) ten koste van jouself. Bemagtig jouself met inligting. Onthou humor, al is dit taai – soos nou dat Cyril jy-weet-wie my weer sonder wynvoorraad betrap het.

Laastens, as dinge my wil oorval, onthou ek die eerste sin van M. Scott Peck se The Road Less Travelled.

“Life is difficult,” begin dit.

Wat gemaak het dat ek die boek net daar neergesit het. En eerder vreugde uit klein dingetjies probeer put – soos om ’n rubriek te mag skryf.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Koerant  |  Korrupsie  |  Koronavirus  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.