Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gasvryheid lê in die deel van ’n bordjie kos
Este Gross
Este Gross

Enige koorsanger wat sy sout werd is, behoort vir jou ’n storie te kan vertel van ’n vreemdeling se gasvryheid.

Nog lank voordat rusbankswerwery mode geword het, het koorsangers al op koortoere van een dorp en huis na die volgende geswerf.

Van almal wat my gul in hul huis ontvang het, onthou ek die sjokoladetjies op my kussing, kappertjies op ’n bedkassie en selfs (in Bloemfontein) ontbyt in die bed.

Die gasvryste mense is dié wat graag iets van hulself opoffer – hul tyd, gerief of selfs net ’n bord kos.

Jare gelede op ’n oorsese jeugkoortoer het ons by barmhartige Samaritane tuisgegaan.

Ons het eers in die Tsjeggiese Republiek gedraai, in ’n dorp Ceska Lípá, so ’n ent van Praag.

Ek en ’n koormaat, Lize, was 15 en vreesbevange toe ons huisgesin vir die nag ons by die bushalte kom haal. Die ma en seun se klere was verwaarloos en hul hare het vuil en deurmekaar gelyk. Ons kon skaars drie woorde in Engels met hulle wissel voordat hulle haastig vooruit met ons tasse laat wiel het.

Ná ’n lang staptog in die vreemde, in ’n stad wat gevaarliker as Hillbrow lyk, dink ons aan ’n noodplan ingeval hulle ons ontvoer. Ons kon geen plan beraam nie. En selfone was nog nie algemeen nie.

’n Seuntjie met donker kringe onder sy oë nooi ons by die woonstel in.

Toe ons uiteindelik voor ’n woonstelgebou stop, is ons ’n paar verdiepings met ’n wankelrige hysbak op. ’n Seuntjie met donker kringe onder sy oë nooi ons by die woonstel in.

Ek het “trieng-trieng” gesê om te verduidelik dat ek ’n wekker nodig het; verder het ons die aand maar saam na Asterix en Obelix in Tsjeggies gekyk.

En dit is waar ek my grootste les oor gasvryheid geleer het. Vir ontbyt het ons wafels, room en aarbeie geëet. En elke dag op pad bus toe, het hulle by die winkel gestop om vir óns iets vir ons kosblikke te koop. Ek vermoed hulle het geld by familie geleen. Toe ons groet, is ons vriende en ek was skaam oor my vooropgestelde idees en vrese.

Gister kry ek, uit die bloute, ’n boodskap op Facebook van Elfriede, die ma van Claudia en Victoria. Ek en ’n koormaat het op die einste koortoer by hulle in Weibern, Oostenryk, tuisgegaan.

“Onthou ek hulle nog?” sê sy.

“Hoe kan ek vergeet?” sê ek. Ons het op ’n skattejag in hul solder gegaan, Victoria het vir ons dwarsfluit gespeel en Elfriede het vir ons elke oggend ontbyt voorgesit en ’n kosblik gepak voordat sy ons bus toe gevat het. Sy stuur vir my ’n foto van die gesin, en dit voel meteens soos lank verlore familie.

Om jou huis en kos met ’n vreemdeling te deel, is om ’n band te smee.

Jesse Browner, ’n Amerikaanse skrywer, sê dit maak die maaltye wat jy ook op jou eie geniet, soveel beter omdat jy herinnerings het van menige maaltyd wat jy al met ander gedeel het.

  • Gross is ’n omroeper, joernalis en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Koor  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.