Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gays: ‘Die NG Kerk is baie kerke ver vooruit’

Die NG Kerk is feitlik die enigste denominasie in Suid-Afrika wat noemenswaardige vordering gemaak het met selfdegeslag-verbintenisse, skryf Nico Botha.

Ds. Louis van der Riet het onlangs die eerste openlike gay persoon geword wat in die NG Kerk bevestig is as predikant. Hier is hy tydens sy eerste preek in die Parke-gemeente in Kraaifontein. Foto: Jaco Marais

Die NG Kerk is al weer in die beskuldigdebank. Eers was dit apartheid – of die teologiese en morele regverdiging daarvan – en nou is dit verbintenisse tussen dieselfde geslag. Die hooggeregshof in Pretoria het pas bevind dat die kerk nie sy eie besluite uitvoer en daarom nie sy eie reëls nakom nie.

’n Mens moet egter ’n lansie breek vir die NG Kerk. Dit is immers feitlik die enigste denominasie in Suid-Afrika wat moedig noemenswaardige vordering gemaak het met dié kwessie. Juis daarom het dié kerk op ’n amper ironiese manier in die hof beland.

Die gedane sake in die hooggeregshof het geen keer nie, maar daar kom tog ook iets positiefs na vore: Dat die howe nie graag inmeng in kerksake nie, maar soms móét, indien die kerk se eie besluite weerspreek of nie nagekom word nie.

Die kruheid en felheid van die debatte oor die LGBTQI-gemeenskap binne die VGK en die gesprekke hieroor rondom die spreekwoordelike braaivleisvure bereik nie die media nie.

My simpatie met die posisie van die NG Kerk spruit voort uit ’n soort selfkritiek vanuit die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Voorts is dit ook ’n poging om te sê dat die kwessie (en om sulke woorde te gebruik, is ook al weer ’n flagrante belediging vir mense wat ’n ander lewenstyl kies) nou in alle kerke op die spits gedryf en afgehandel moet word.

Die NG Kerk word “uitgevang” omdat daar ’n openlike debatvoering en duidelike besluitneming plaasgevind het. In die VGK het ons die luukse om te dink dat ons op grond van die Belydenis van Belhar steeds die morele oorhand handhaaf. Die kruheid en felheid van die debatte oor die LGBTQI-gemeenskap binne die VGK en die gesprekke hieroor rondom die spreekwoordelike braaivleisvure bereik nie die media nie.

Daar is gevalle waar die insette van dominees van die kerk (gelukkig meer die uitsondering as die reël) neerkom op ’n teologiese en morele regverdiging van geweld en selfs moord op homoseksueles.

Daar is die anekdote oor iemand wat in gesprek met een van die opstellers van ’n verslag oor homoseksualiteit wat voor die 2008 Algemene sinode van die VGK by Hammanskraal gedien het, soos volg opgemerk het: “Ek het nie daai verslag gelees nie, maar ek het nie tyd vir die gemors nie.”

Dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveldse sinode, Gustaf Claassen, sekretaris van die algemene sinode, ds. Dirkie van der Spuy van Moreletapark, ondervoorsitter van die algemene sinode, en Hans Oosthuizen, prokureur van die NG Kerk, gesels in die hooggeregshof in Pretoria waar uitspraak gelewer is oor selfdegeslag-verhoudings in die NG Kerk.Foto: Deaan Vivier

VGK bly aan veilige kant

Die tragiek van dié situasie is dikwels dat dit nie net meer gaan oor die verslag op papier nie, maar dat diegene wat ’n spesifieke lewenstyl kies, as “gemors” geïdentifiseer word.

Dis ’n ope vaag oor hoeveel vordering daar werklik gemaak is sedert 2008. Sommige voer aan dat die VGK ’n groot strategiese fout begaan het deur die saak direk sinode toe te vat eerder as om ’n proses aan die gang te kry waar die kwessie eers op gemeentevlak, ringvlak en by die streeksinodes deurgetrap kon word.

Ten spyte van wat nou met die NG Kerk gebeur het in die hooggeregshof, as puntjie by paaltjie kom, sal ons moet erken dat die NGK baie kerke eintlik ver vooruit is.

Dié proses het toe ná 2008 versigtig aan die gang gekom, maar daar is geen duidelikheid oor die vordering wat gemaak word nie. Intussen bly die VGK maar aan die veilige kant deur nie te veel openbaar te maak nie – en daarom kan die VGK nie uitgevang word nie.

Ten spyte van wat nou met die NG Kerk gebeur het in die hooggeregshof, as puntjie by paaltjie kom, sal ons moet erken dat die NGK baie kerke eintlik ver vooruit is. Die konserwatisme van die VGK en die uiters reaksionêre response tot kwessies strek helaas verder as homoseksualiteit ten spyte van die Belydenis van Belhar. ’n Uiters kritiese en ongemaklike vraag is of enigiemand in Suid-Afrika nog weet dat die VGK ’n belydenis het waarin daar ’n heldere voorkeur vir die armes en die noodlydendes voorkom? Indien wel, waarin vind die solidariteit van die VGK met die armes gestalte?

Dis hier geen poging om appels met pere te vergelyk of om op ’n monomaniese manier alles met alles gelyk te stel nie, maar eerder om die volgende diepe teleurstelling te artikuleer: Dat die ongelooflike onverdraagsaamhede in die breë swart gemeenskap pas ná 1994 in al hulle felheid begin kop uitsteek het. Dat daar groot misverstande ontstaan omdat iemand ’n ander taal praat as ek.

Dat verskillende ideologiese stellingnames nie onderhandel kan word nie. Dat verskillende spiritualiteite moeilik binne dieselfde ruimte kan bestaan. Dat mense wat net ’n bietjie anders lyk of anders optree, moeilik verdra word. En dat daar in die VGK gelag word vir iemand met outisme.

Nico Botha

Die lysie is eintlik veel langer as dit. Maar die jeremiades sal weinig help in ons pogings om ’n verdraagsamer, leefbaarder samelewing te vestig.

En daarom kan die NG Kerk en die VGK en miskien al die ander kerke nog steeds inspirasie put uit die Belydenis van Belhar met sy duidelike getuienis oor eenheid, versoening en geregtigheid. Die groot krag van die Belydenis lê dalk juis daarin dat dit ons ’n bietjie help om die kreatiewe spanning tussen eenheid en verskeidenheid vanuit die Christelike geloof te onderhandel.

*Nico Botha is ’n emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Ng Kerk  |  Belydenis Van Belhar  |  Gays  |  Vgk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.