Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gebed alleen gaan SA nie op regte koers kry
Philda Essop

Het Suid-Afrika ’n saak vir gebed geword?

Dié vraag het die naweek by my opgekom in die lig van die onlangse gebeure en optrede van sekere leiersfigure wat hulle openlik op God beroep.

’n Maand of wat gelede tydens die verkiesingsveldtog toe pres. Cyril Ramaphosa ’n groep boere en sakemense op die wynplaas Beyerskloof naby Stellenbosch toegespreek het, het een van die boere gesê hy dink Ramaphosa is deur God gesalf om Suid-Afrika te lei.

Met die inhuldiging onlangs van die nuwe LP’s in die Nasionale Vergadering (NV) het hoofregter Mogoeng Mogoeng op sy knieë gegaan en passievol vir die land en die Afrika-vasteland gebid.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het God ook die naweek betrek by haar stryd om oorlewing in dié amp. Sy het Twitter behoorlik laat gons toe sy getwiet het: “Ek weet sommige van julle mag dalk nie Christene wees nie, maar ek glo sterk dat ek deur die God wat ek dien in dié posisie geplaas is en glo dat slegs Hy my kan verwyder as Hy van mening is dat ek misluk het.”

Die vermenging van geloof en politiek is nie ongewoon of nuut in Suid-Afrika nie.

Ek glo egter sterk dat Mkhwebane, ’n regsgeleerde, terdeë bewus is van die feit dat sy deur die president in haar amp aangestel is en dat sy wél deur die NV uit haar amp verwyder kan word.

(Planne om haar te verwyder, het juis die afgelope naweek weer stukrag gekry toe nóg ’n politieke party – die SAKP – gevra het dat die parlement haar geskiktheid vir die amp ondersoek weens die rits fel hofuitsprake teen haar. Dit ná ’n soortgelyke versoek vroeër deur die DA. Thandi Modise, speaker van die NV, het gesê sy win advies in oor hoe om op dié versoek te reageer.)

Die vermenging van geloof en politiek is nie ongewoon of nuut in Suid-Afrika nie.

Gedurende die apartheidsjare het eerw. Desmond Tutu van die Anglikaanse Kerk en eerw. Allan Boesak ’n prominente rol gespeel in die vryheidstryd.

Ds. Beyers Naudé, NG-predikant wat hom sterk teen apartheid uitgespreek het, is destyds deur die wit Afrikaanse-gemeenskap verstoot weens sy politieke oortuigings.

Ook geloofsgebaseerde politieke partye is nie ’n ongewone verskynsel in Suid-Afrika nie – kyk maar net na die ACDP wat sedert 1994 al verteenwoordiging in die parlement het.

Ook Al Jama-ah en die African Transformation Movement (ATM), albei met ’n sterk geloofsteunbasis. het in die Mei-verkiesing setels in die parlement gewen.

Dit is so dat mense hulle in krisistye tot God beroep. Maar beleef Suid-Afrika ’n krisis?

Sommige mense sal sê, ja, kyk maar net na die stand van die ekonomie, plaasmoorde, bendegeweld, padsterftes, korrupsie, die binnegevegte in die ANC . . .

Baie van die probleme wat Suid-Afrika ervaar, is maatskaplik-ekonomies van aard. Dus het die land praktiese oplossings nodig – ’n soort Marshall-plan om die land op die regte koers te plaas en hou.

Ja, gelowiges kan bid vir die sukses daarvan, maar sonder die regte leierskap, daadwerklike planne en die deurvoer daarvan, sal dit nie werk nie.

  • Essop is ’n politieke joernalis by Netwerk24.
Meer oor:  Philda Essop  |  Gebed  |  Godsdiens  |  Politiek  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.